State of the heart

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Die bekroonde Amanda Strydom het State of the Heart in 1993 geskryf, die eerste van tot ses eenvrouvertonings uit haar pen.

State of the Heart het die Dalro én Showtime toekennings gewen vir Beste Kabaret en Kabaret van die Jaar in 1994 en word steeds opgevoer weens publieke aanvraag.

State of the Heart is oor die lengtes en breedtes van Suid Afrika opgevoer – in groot en klein teaters, skoolsale, sitkamers, stoepe, tente, ‘n grot in Hermanus en op ‘n trein tussen Johannesburg en Bloemfontein. Ook in Namibië en Nederland is sy staande toegejuig vir haar eg Suid Afrikaanse meesterstuk.

Hierdie tydlose liefdesverhaal steek op ‘n teer wyse die draak met ou Afrikaner tradisies en kyk na die geskiedenis van Suid Afrika van die twintiger- tot sewentigerjare. Vooroordele tussen mense word tegelykertyd subtiel, skreeusnaaks en hartverskeurend bekyk. Die wreedheid van oorlog, die passie van ‘n hart wat bly glo, ten spyte van teenslae dat die liefde sál seëvier, word ook in hierdie kabaret blootgelê.

Dit was ‘n era toe vroue hulle plek moes ken, hulle velle gebleik het as hulle sproete gehad het (want sproete was glo kômmen), mans kruisbande gedra en springboktwak gerook het en Boeremeisies net met Boerseuns getrou het. Dit was ook in hierdie tyd dat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het….

Wanneer die heldin van die verhaal – die Afrikaanse Maxie de Meyer – op ‘n Engelse loods, Raymond G.Bartlett, verlief raak, spat die vonke behoorlik en ontplooi daar ‘n liefdesdrama in die tradisie van die ou Springbok radiovervolgverhale.

Strydom vertolk op meesterlike wyse ál die rolle – van die knorrige Oupa Dikdaniël, die heldin Maxie, haar kindervriend Sipho Motsepe, Stoffelina du Plooy van die Langekloof en die hele orkes uit die Baviaanskloof wat by haar troue musiek moet maak, Dolly Parton, Maxie se broer Willie, die stywe bolip Frances Pennington-Smythe asook horde ander karakters.

Amanda sing in ses tale : Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Hollands en Zoeloe.

“Hierdie is Strydom se kabaret meesterstuk”, skryf Janine Morris van Metro. “Dit weerspieël die vrou se talent as aktrise, sangeres, skrywer en bowenal as storieverteller. ‘n Mens hang behoorlik aan haar lippe”.

Lewer kommentaar

Leave a Reply