Taliep Petersen – Kind van Distrik 6

Op 16 Desember 2006 het Suid-Afrika ‘n ikoon verloor. Die dood van Taliep Petersen het ‘n leemte gelaat in Suid-Afrika se kultuurskat en onmiddellik die behoefte geskep om ten alle koste hierdie geliefde kind van Distrik Ses se nagedagtenis en erfenis te laat voortbestaan. Op versoek van die Cederberg Kunstefees het Emo Adams en Mia Breet ‘n spesiale huldeblyk aan hul vriend, kollega en leermeester geskep.

Emo het as’t ware op Taliep se verhoog grootgeword vandat hy as negejarige vir die eerste keer in District Six the Musical gespeel het tot die meer onlangse Kat & the Kings en Ghoema. Hy was ook die nimlike Lovebite in Taliep se TV-reeks, Alie Barber.

Mia het saam met Taliep aan Alie Barber gewerk, waar hy en die akteurs haar blootgestel het aan ‘n kultuur wat haar passie geword het.

Taliep sal onder meer onthou word vir die gewilde musiekteater wat hy en David Kramer na Suid-Afrikaanse verhoë sowel as teaters oral in Europa, Londen se West End en New York se Broadway gebring het.

Met hierdie huldeblyk deel Clanwilliam se talentvolle jong sangers en dansers die verhoog met Emo Adams ter viering van Taliep se lewe en musikale werk. Ons mag hom nooit vergeet nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply