Die Maket

Die Maket deur Daleen Kruger is die US Drama Departement se inskrywing vir die Sanlam Prys vir Afrikaanse teater wat die departement verlede jaar gewen het met Slaghuis. Die kompetisie het plaasgevind by die pas afgelope KKNK waar die Matie Lancea Crafford bekroon is as beste aktrise.

Die drama speel af in ‘n plattelandse sendingkerkie. Weens die Apartheidswet moes die bruin gemeente na ‘n moderne kerkgebou in die “onderdorp” verhuis. Die “eienaar-“NG-kerk het die sendingkerkie aan privaateienaars verkoop en dit het uiteindelik in die hande van vier eksentrieke ou vroue beland: ‘n Kunstenaar, ‘n joernalis, ‘n politieke aktivis en ‘n mediese dokter.

Die joernalis het veelvuldige sklerose en maak van ‘n tuisverpleër gebruik. Vir die joernalis is die kerkie en haar liggaam een en dieselfde: beide se “lighting” en “plumbing” is besig om in te gee en onprakties. Sy benodig stilte en ‘n versorgingsoord om haar voor te berei op haar laaste “eksamen”.

Vir die ander inwoners – behalwe die dokter – is dit ondenkbaar om die ketting van hulle vriendskap (familiekring) te verbreek. Almal wag vir Nina om terug te keer sodat hulle tydens aandete oor die toekoms kan besluit.

Intussen kom vra die predikant of die ou sendingkerkie nie gebruik kan word vir ‘n versoeningsnagmaal nie. Daar is reeds samewerking tussen die politieke partye om die raadstafel, maar nie op kerklike vlak nie. Die politieke aktivis stel voor hulle gebruik die plaaslike museumpie, want deesdae is die kerk ook maar net ‘n kultuurhistoriese gebou.

God het aangestap, want die Kerk het Apartheid op sy preekstoel toegelaat.

Op ‘n mikroskopiese vlak beleef mens die wel en weë van die ou vroue en die kerkie, maar dis vasgeknoop aan die makroskopiese weefwerk van die politiek en die kerk.

Bekende regisseur Juanita Swanepoel is verantwoordelik vir die regie van die stuk.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar