Vandag by ‘n Valensdagontbyt van AfriForum het Tossie Lochner, die Afrikaanse stem uit Italië, verklaar dat sy na jare in Europa permanent na Suid-Afrika wil terugkom en die hulp van AfriForum se Kom Huistoe-Veldtog inroep. Haar seun en dogter, wat beide in Italië gebore en grootgemaak is, woon reeds hier. Haar seun het sowat agt jaar gelede na Suid-Afrika gekom en haar dogter, skoonseun en sesjarige kleinseun het pas hier aangeland en reeds nesgeskop. Daar is niks meer wat Tossie in Italië hou nie, behalwe die feit dat sy ‘n betrekking vir finansiële sekuriteit in Suid-Afrika benodig.

Volgens Alana Bailey, hoof van die Kom Huistoe-Veldtog, is Tossie se geval nie uniek nie. Sowat 45% van die meer as 3 000 mense wat die Kom Huistoe-Veldtog reeds gekontak het, dui aan dat hulle dadelik na Suid-Afrika sal terugkeer indien hulle werk hier kan kry. Elke persoon het unieke omstandighede, want Suid-Afrikaanse emigrante bestaan uit mense van alle ouderdomme, professies en kultuurgroepe. Soos in Tossie se geval hou hulle noue bande met die land en tree as waardige ambassadeurs vir Suid-Afrika in die vreemde op. “Tog het Suid-Afrika hulle vaardighede plaaslik nodig en moet almal wat wil terugkeer, so ver as moontlik gehelp word om van die droom ‘n werklikheid te maak,” het Bailey bygevoeg.

Tossie het reeds twee boeke oor haar lewe in Italië geskryf, naamlik Tossie Lochner – Italië en Mama Mia! Italië. Nou sien sy daarna uit om ‘n nuwe hoofstuk in haar lewe te begin, moontlik as skakelbeampte, aktrise, omroeper of enige pos waarin haar vele talente gebruik kan word. Intussen bring sy jaarliks Januarie tot April in Suid-Afrika deur en lewer haar eenvrouvertoning waar daar ook al in Suid-Afrika ‘n aanvraag daarvoor is. Besprekings kan by Tossie (073-6197247) of Martin (083-7709431) gemaak word. Ongelukkig bied die vertonings nie sekuriteit nie en Tossie is ‘n realis wat besef dat ‘n mediese fonds, behuising en vervoer nie goedkoop is nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply