Margaret Atwood het gesê: “You’re never going to kill storytelling, because it’s built in the human plan. We come with it.”

Die belangrikheid van stories, veral vir kinders, kan nooit genoeg beklemtoon word nie. Daarom het die Suidoosterfees, NATi en die KKNK saamgespan en ’n opwindende kinderteater-produksie ontwikkel. Pietersielie en Roosmaryn vertel storiesI! is van 26 tot 28 April om 10:30 en 13:30 in Artscape tydens vanjaar se Suidoosterfees op die planke.

Pietersielie en Roosmaryn het ontwikkel uit twee kinderboeke: Prinses Pampoempit deur Bianca Flanders en Faizel en die sterre deur Rafiek Mammon. Dit vertel die verhaal van twee karakters wat die wêreld vol reis met hul tower-karavaantjie, op soek na vriende, boeke en kinders om stories mee te deel. Die boodskap aan jong teatergangers is opvoedkundig en fokus op die belangrikheid van verdraagsaamheid, die waardering van mense se uniekheid, om jouself te wees, en natuurlik, die waarde van lees.

Die akteurs Dean Balie en Bianca Flanders is in die produksie te sien saam met poppe-karakters wat deur Koos Marais geskep is. Balie het onlangs met ’n hand vol Fiësta’s weggestap vir sy verhoogstuk Die Poet, wie’s hy? Hy het ook ’n kykNET Sinjatuurprys as belowende nuweling ontvang. Die skrywer en aktrise Bianca Flanders het gehelp om die produksie van ’n kleurryke teks en vrolike liedjies te voorsien.Pietersielie en Roosmaryn bied aan ouers ’n uitstekende geleentheid om hul kroos tydens die skoolvakansie besig te hou. Die produksie word op 26, 27 en 28 April om 10:30 en 13:30 in Artscape opgevoer, met streng Covid-19-protokol in plek. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Lewer kommentaar

Leave a Reply