Die Toyota US Woordfees kon op Maandagaand 14 Maart die eerste keer sedert Maart 2020 weer die gesellige Langtafel aanbied. Dié geliefde tradisie is tradisioneel die amptelike begin van die Woordfees, maar vanweë onsekerheid rondom die pandemie is besluit om nie vanjaar ’n fees vir Maart in Stellenbosch te beplan nie.
Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW Projek, het egter onder luide toejuiging aangekondig dat ’n fees in die vlees vir 10 tot 15 Oktober vanjaar in die vooruitsig gestel word: “Hoewel daar steeds ’n Covid-wolk oor die beplanning van samekomste hang, is ons versigtig ambisieus en hoopvol dat ons vanjaar in Oktober ’n Woordfees in persoon sal kan vier. Die kunstebedryf en die dorp se gasvryheidsektor het dit nodig en ons kan nie wag om weer feesgangers te ontvang nie.”
Maar dis nie die enigste feesplanne vir die jaar nie. Gugu Aseda, inhoudsportefeuljebestuurder van MultiChoice, het namens DStv by die Langtafel gepraat. Sy het gesê Woordfees TV, wat van 1-10 Oktober 2021 as ’n pioniersprojek op ’n opwipkanaal uitgesaai is, was baie suksesvol. DStv sal graag in Julie vanjaar weer Woordfees TV as opwipkanaal wil aanbied en onderhandelinge om dit ’n werklikheid te maak is aan die gang.
Feesentoesiaste kan dus gedurende die winterskoolvakansie ook knus tuis die kunste geniet. DStv-intekenaars met ’n Premium-, Compact Plus-, Compact- of Family-pakket sal toegang tot diê opwipkanaal hê. Meer inligting oor die duur en omvang van die TV-fees sal eersdaags bekend gemaak word.
Die komediant Alfred Adriaan was die seremoniemeester vir die aand en die ongeveer 650 Langtafelgaste is deur die Mike Campbell Orkes en die Universiteitskoor Stellenbosch vermaak.