Stephren Saayman, wat die afgelope jare ’n stewige reputasie as een van die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre opgebou het, is pas met ’n kykNET Fiësta bekroon as beste opkomende kunstenaar. Hy het dié gesogte toekenning ontvang vir sy spel in die verhoogdrama, Mannetjie, wat verlede jaar by die fees gedebuteer het.

By Suidoosterfees 2022, van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap, is Stephren betrokke by twee verhoogstukke – as die skrywer en regisseur van Dankie, maar nee dankie op die Nati Jong Sterre-program, en as mederegisseur van Miss Morris op die NATi Jeugteater-program. Dankie, met onder andere Charlene le Roux en Liandé Valentyn, gaan oor gesinne wat deelneem aan ’n kompetisie om die “perfekte coloureds vir die perfekte Suid-Afrika” te kies. Miss Morris handel oor ’n jong Engels-onderwyser wat in die brandarm Langkloof-omgewing begin skoolhou.

Die Suidoosterfees spog met drie van die vier benoemings in die kategorie waarin Stephren met die louere weggestap het. Jodi Jantjies het ’n nominasie ontvang vir haar optrede in Die liedjiemakers wat verlede jaar by die fees se inryteater opgevoer is, en René Cloete is benoem vir haar spel in The Infinite Woman, wat by verlede jaar se fees gedebuteer het. René is vanjaar te sien in Agulhasvlakte, Herschelle Benjamin se nuwe drama oor ’n vrou se stryd teen skade wat aan die natuur aangerig word.

Philip Rademeyer se Opdrifsel, ook vanjaar by die fees met Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots op die verhoog, is by die Fiëstas as beste feesproduksie genomineer. Dié aangrypende verhaal van ’n ouerpaar wat hul tienerseun aan die dood afstaan, is op 30 April om 11:30 en 1 Mei om 11:00 by die fees te sien.

Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse, wat in 2021 Sinjatuurtoekennings by die Fiëstas ontvang het, speel by vanjaar se fees in die opwindende Mutton Hour. Dié produksie sal mense ná twee jaar van pandemie-grendeltye weer van voor af lief maak vir die teater.

Lewer kommentaar

Leave a Reply