“Psigiatriese pasiënte het die verstandelike vermoë soos die van kinders” – Departement Gesondheid, Gauteng

“Ek kan nie kyk hoe jy jouself vernietig nie.” Dit was my familie en vriende se laaste woorde aan my, net voor hulle my inrigting toe stuur. Daai aand slaap almal soet, want ek ly wel aan ’n siekte en dit is soos ma sê die beste opsie vir almal.

Niemand kom kuier nie want hulle moet nog genesing vind. Hulle laai ons in ’n trok en neem ons na ’n gebou wat voorheen ’n kleuterskool was. Soos Jode verdoem na Auschwitz.

Die kleuterskool tannie verduidelik niks.

Na ’n week ontvang niemand meer medikasie nie. Dis seker regverdig. Dis nie asof ons kanker het nie. Mense dra nie mooi lint vir mense wat aan depressie ly nie en niemand kom kuier met rooi neuse en ballonne nie.

Na die tweede week trap ek in pis en kak. Die toilet is geblok. “Dis oraait, dis dan julle eie pis en kak”, verduidelik die tannie.

Na die derde week ontvang ons net middagete. ’n Toebroodjie en water.
#Geheim: Mal mense jok.

Die tannie vertel die dokter ons weier om te eet. Al veertien van ons. Seker gedeelde psigose met somatiese simptome. Gewigsverlies en inkontinensie.

Na week vier sien ek ma met die Volla buite. Sy staar na die bloekomboom. Na vyf minute trek sy weg. Sy moet seker nog bid.

Na week vyf (sonder medikasie, sonder kos) verander die blou kleuterskool mure na malhuis groen. Die tannie straf ons deur om die broodjies weg te vat. Ek vertel die tannie dat selfs die mense in die tronk kry kos én was en ek weet die bed is hard, maar hulle kry ’n kombers en hulle kry son elke dag.
Sy luister nie. Hoekom sal sy?

Na week ses kry ons vrot pampoen. Betsie die ouma wat net altyd sit kry diaree en nie ’n druppel water nie. Ouma Betsie was eerste. Eers na dag twee vandat haar liggaam koud geraak het staan die tannie op en skop ouma want sy kon nie meer die reuk verduur nie.
Ouma Betsie word vlugtig verwyder.

Aan die einde was ek kaal en koud. Die honger verdwyn, maar nie die dors nie.
Ek was laaste om te gaan. Ek dink ek hoor die dokter noem iets van natuurlike oorsake. Biko was weggery in ’n oop swart wa.

#Geheim moet nooit niemand vertel van depressie, selfmoord of stemme nie. Nooit.

Die donker kom haal my. Hallelujah!
’n Eggo, “Ek kan nie kyk hoe jy jouself vernietig nie.”
Ek het nie myself vernietig nie. Julle het my vermoor.

Ek sien ma in swart wat huil. Sy sit voor ’n mikrofoon en blameer die regering en God, almal behalwe haarself.
#Geheim: dis nie moord as die slagoffer mal is nie.

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

  1. Baie hartseer tog so mooi en eenvoudig. Sheridan Walter skep die indruk dat hy eerstehandse kennis het oor die relevante probleem in Suid Afrika

  2. Baie baie goed geskryf en die skrywer som die realiteit van psigiatriese pasiente in hierdie land 100% op. Ek wens carte blanche of die regstelsel kon na elke hospitaal toe gaan en eerstehands dit waaroor hierdie stuk gaan ervaar en besef dit was die lot van die psigatriese pasiente wat dood is en die lot elke dag van baie ander pasiente in psigiatriese eenhede en die hartseerste deel is daar is niemand wat genoeg omgee om vir hulle te baklei nie en niemand weet nie of niemand wil weet nie. Die families wat nou in die hof sit en vergoeding eis was nie eers bewus wat met hulle mense gebeur nie, wat hulle net so skuldig maak soos die sogenaamde instansies en mense wat hulle moes versorg.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar