deur Elize Ehlers
Adolf Hitler, ‘n Duitse politikus en leier van die Nazi-party, heers met ‘n ystervuis. Hy inisieer die Tweede Wêreldoorlog vanaf 1939. Op 8 Mei 1945 gee Duitsland oor. Sedertdien broei onheilsplanne in sy kop … !
Hitler, wat wraak gesweer het, ontmoet sy ou vriend, Alf Schneider, in die geheim. Alf is ‘n voortreflike wetenskaplike, maar is net so korrup soos Hitler. Hy en Alf het ‘n afskuwelike plan bedink.
“Hitler, my vriend, ek het baie nagedink oor jou versoek! ‘Your wish is my command!’ Dit wat jy voorgestel het is mál, sê ek jou, mál, maar dit is wel moontlik! Jy kan solank jou aanhangers aan die werk steek dat hulle al die gestorwe krygers se geraamtes opgrawe. Ek begin solank met die elektroniese toestelle waarmee ons die geraamtes gaan toerus. Hulle sal dan soos robotte beheer word.”
Hitler is ekstaties, want sy bisarre veglus is nog lank nie geblus nie. Alf neem hom na sy ondergrondse laboratorium. Daar lê ‘n oorvloed elektroniese toerusting rond. Hy neem Hitler dan na ‘n ander vertrek waar daar ’n klomp draadhonde rondstaan, elkeen toegerus met ‘n radar (wat soos ‘n stert lyk).
Dan verduidelik Alf sy diaboliese plan: “‘n Paar van die robotte (geraamtes) kry elkeen ‘n hond wie se taak dit sal wees om mense gevange te neem. Sodoende oes ons menslike weefsel om die geraamtes mee te bedek.”
‘n Walglike reuk draal deur die stad. Oud-krygers, wat Hitler nog steeds aanhang, grawe die geraamtes op. Hulle word na ‘n groot vertrek in die laboratorium geneem waar hulle beendere aanmekaar geheg word. Al wat nog kortkom is die elektroniese toestel en vlees …
Isis von Cruchten en Aleyna Bauer, albei wetenskaplikes, word eerste gevange geneem.
“Julle sál julle samewerking gee óf julle families ly daaronder!” dreig Hitler se harde stem.
Alhoewel hulle Hitler se afgryslike metodes streng teenstaan, het hulle geen ander keuse nie …
Geraamtes en robothonde begin met hul grusame tog. Mense raak bewus van die spookagtige geraamtes en die weerklank van metaalpote. Hulle soek skuiling in dof verligte kerkers omring deur bang kinders en oumensies.
Die robotte besit geen emosies, geen naam … slegs die drang om hulle meester te gehoorsaam. Vandag het hulle ‘n kerker geïnfiltreer. Mense het die geraamtes, met hul aggressiewe honde wat hulle soos skape aanjaag, angsbevange na die laboratorium gevolg. Isis merk met ‘n sinkende gevoel die klomp mense op wat toegesluit word, nog onbewus wat die doel daarvan is. Toe die wagte weg is loer hy deur die eenrigting glas en sien sy dogter, Antje, wat in die hoek ineengekrimp sit. Sy woede ken geen perke nie! Hitler het belowe om sy gesin uit te los!
… Hitler ja … maar nie Alf nie!
Aleyna luister stil na Isis se ontstellende mededeling. Sy het intussen agtergekom wat aangaan en wou vir Isis daarvan sê, maar huiwer nou om hom te vertel. Isis sien egter hoe Aleyna spierwit word en dring daarop aan dat sy uitkom met die waarheid. Hy is vir ‘n paar oomblikke stomgeslaan, nie eers in staat om reguit te dink nie.
“Aleyna,” sis hy, “ons gaan die mense bevry en hierdie duiwelse plek opblaas! Ek weet nog nie hoe nie, maar dit moet baie gou gebeur! Kom vanaand na my kamer, maar maak seker dat niemand jou volg nie.”
Antje se vreesgevulde oë spook by Isis. Hy het klaar sy planne agtermekaar, maar het Aleyna se hulp nodig. Sy sluip versigtig by sy kamer in. Haar oë rek groot toe Isis sy planne met haar deel. Dit klink na ‘n onbegonne taak vir twee mense, maar hoe anders? Die volgende dag daag daar egter hulp op. Aleyna se broer, wat ‘n opgeleide soldaat is, word gevange geneem. Sy slaag daarin om hom in te lig wat hulle beoog voordat hy toegesluit word.
Aleyna en Isis spring dadelik aan die werk. Terwyl Alf onder die indruk is dat hulle navorsing doen hoe om die oorplantings suksesvol te doen, maak hulle tydbomme. Daar is immers oorgenoeg elektroniese toerusting daarvoor.
“Jy is ’n monster! Oes mense vir ‘n dooie weermag!” beskuldig Isis vir Alf toe hy weer ‘n draai in die laboratorium maak.
Alf spot met hom: “Vooruitgang vereis opoffering!”
Isis kners op sy tande en gluur hom agterna.
Die bomme is gereed …
Isis infiltreer die sentrum en plant bomme op strategiese plekke; gestel om na ‘n uur te ontplof – so ook by die vierkant waar die geraamtes dikwels sit en ginnegaap.
“Magtiging vereis,” sê-vra die KI.
Eleyna voer die toegangskode in, verkry uit Alf se lêers en gaan die heiligdom binne waarvandaan die robotte beheer word. Sy stuur seine uit na die geraamtes en honde om by die laboratorium se vierkant bymekaar te kom. Nadat sy ‘n bom agter die rekenaartoerusting versteek het sluip sy weer vinnig uit. Haar hart klop in haar keel.
Die grootste uitdaging is om die gevangenes los te laat. Toe die robotte en honde terugkeer na die laboratorium heers daar chaos. Die drang om hulle meester te gehoorsaam laat hulle deur niks stuit nie. Die oud-krygers wat hulle probeer keer se doodsgille weergalm deur die gange.
Dit gee Isis die geleentheid om die gevangenes los te laat. Aleyna se broer, wat die gevangenes voorberei het op hul ontsnapping, neem dadelik beheer en help dat dit vinnig geskied.
“Hoeveel tyd nog?” fluister Aleyna vir Isis. Isis kyk op sy horlosie en sis: “Ons moet dádelik hier padgee!”
“Julle dwase!” skree Alf, wat vasgemaak is, agterna. “My navorsing sou die wêreld verander het!”
Isis steek vas: “Jou ‘vordering’ is gebou op lyding. Dit eindig nou!”
Dan begin die bomme ontplof …
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
