Dis ´n normale Woensdag by die werk. Die meeste berigte vir die koerant se volgende uitgawe is klaar geskryf. Nou moet nog net verslag gedoen word oor die nuus van die volgende paar dae, voor die koerant Sondag verskyn.
Charmaine en Stander is die enigstes op kantoor wat nie uit is vir middagete nie. Sy ly soos gewoonlik onder ´n dieet en hy is soos gewoonlik nie honger nie.
Sy kyk by die venster uit. Al werk hulle dikwels met ontstellende nuus – al is dit die koerant se stapelvoedsel! – is dit ´n mooi gesig doer onder. In die hawe lyk die skepe soos speelgoed waarmee jy in die bad sou kon speel, en die son kleur die water silwer.
Daar is beweging by die deur, en sy draai om. ´n Baie mooi meisie vlieg omtrent tot by haar. Abby, haar suster.
“Charmaine, jy móét my help!”
“Wat’s dit nou?”
“´n Ou het my uitgevra vir ete Vrydagaand.” Die meisie rol haar oë. “En my geld is so te sê op!”
“So, wat´s nog nuus?”
“Asseblief, Ousus, man, leen vir my ietsie. Net tot betaaldag. Dis tog nie meer so ver nie.”
Charmaine kyk na haar suster. “Abby, ek gaan ook geld nodig kry. En as die man jou uitvra, moet hy mos vir jou betaal.”
“Ousus, man, dit gaan oor my klere. Daar´s niks wat ek kan dra nie.”
“Wát!” Charmaine sien haar suster se klerekas voor haar geestesoog. Dan onthou sy dat sy ´n plig het om na Abby om te sien. Dit sluit seker dié soort ding in. “Kom tot die punt. Hoeveel?”
“Ek het die mooiste rok gesien, wat …”
“Hoeveel?”
“Driehonderd rand.”
“Eina!” Maar sy haal haar beursie uit haar handsak.
“Dit kos natuurlik meer, maar ek het darem ietsie om by te sit …” Abby neem die note. “Dis hoe ek weet ek kan altyd op jou vertrou. Hoeveel ander mense het dié tyd van die maand driehonderd rand in hul handsakke?”
“Jy kan die komplimente los, jy´t klaar die geld.”
“Ta!” Abby gee haar ´n soen op die wang. “Ons praat ´n ander keer. Ek moet wikkel, my lunch break is nou-nou verby.”
“Ek hoop die ou is die moeite werd!” Maar Charmaine praat met haar suster se rug. Die kantoor voel skielik valer.
Sy kyk na Stander se kant toe. “Jy’t seker alles gehoor van die nuutste krisis.”
“Ek hoor áltyd alles, veral as ek afluister.” Hy grinnik. “Toe help jy haar maar, nè? Nes laas keer. Het sy jou toe terugbetaal?”
“… Nee.”
“Nou vir wat dink jy sy gaan dié keer?”
Sy sug. “Sy weet net hoe om my te manipuleer.”
“Nou´t ek eers ´n sigaret nodig.” Hy staan op. “Jy wil my nie join nie?”
“Van wanneer af rook ek?”
“Kom net saam. Dis waarvoor kollegas daar is.”
Hulle skakel hul telefone deur en loop rookkamer toe. ´n Grys walm begroet hulle toe Stander die deur oopstoot.
“Jy´s die een wat rook, en ek die een wat van longkanker gaan sterf,” mompel Charmaine.
“Kermgat.” Hy steek ´n sigaret aan. “Dis beter. Nou, sê my, speel jy ma vir al jou mense, of net vir jou suster?”
“As sy my eers Ousus noem, dan onthou ek dat toe ek ´n kind was, ek vir my ma gesê het ek sal altyd na haar kyk. Wel, sy ís tien jaar jonger as ek …”
´n Oomblik lank sien sy haarself en Abby, doerie tyd – brandmaer meisietjies in Philadelphia se brandarmste deel.
“Wel, as jy so ´n blêrrie fool wil wees,” onderbreek Stander haar gedagtegang.
“Ek wéét ek is een. Sy het hope pret. Sy´s pal uit op ´n date. Ek weet nie waar kom sy aan al die mans nie …”
“Wel, sy´s ´n warm klein nommertjie.”
Charmaine frons kwaai. “Onthou, jy praat van my suster. Maar soos ek sê, sy´s alewig uit, terwyl ek … Dis so onregverdig! Ek meen, ek sit hier, twee-en-dertig en ewe ordentlik. En hoog en droog! Dalk is jy reg, dalk wil mans …” Haar keel trek meteens toe. “Nou praat ons oor iets anders.”
“Jy´s te goed om waar te wees, dis jou probleem. By die huis én by die werk.” Stander beduie met sy kop na waar ander nuusmense in ´n groepie saamstaan. “Dis gesoute ouens daai, hulle weet wat gaan vir wat. Jy glo nog in feetjies en goed. Dit gaan jou terughou, dis nie ´n bedryf vir sissies dié nie. Dinge moet blootgelê word. Almal het ´n stukkie nuus in hulle, en dis nie altyd mooi nie.”
“´n Mens hoef nie altyd negatief te wees nie.”
Stander blaas rook uit in klein kringetjies. “Jy wil goeie dinge in álmal sien.”
“Selfs in jou, as ek hard probeer. Jy hou jou maar net so tough.”
Hy trek sy oë op skrefies. “Partykeer is daar niks meer in mense as wat jy kan sien nie. Hulle is net so en klaar.” Hy lyk of hy ongemaklik raak. “Kom ons waai. Dis bedompig hier.”
Dis oggend in die De Beer-huishouding.
Markus frons terwyl hy sy das knoop. In die spieël sien hy ´n ryk wit sakeman. Hy is nog jonk – veertig is tog ver van oud – maar dit voel vir hom die laaste paar dae hy moet die beskrywing aanpas: ryk wit en eensame sakeman.
Dit het vir hom gevoel asof René se parfuum weke lank hier rondgehang het ná sy weg is.
Hy het haar alles laat vat wat sy wou hê – dis tog net besittings. Soos ´n paar stukke meubels wat mooi in haar eksklusiewe dorpshuis sou pas, en vier skilderye: die duurstes. Skilderye wat hy uitgesoek het. Dalk hou sy nie eens daarvan nie en wou sy dit net hê omdat hý wou.
Hy hoor Willy en Sandra in die gang afstorm, verby die kamerdeur en af met die trap.
Vir húlle wou René nie hê nie. “Markus,” het sy op haar koel manier gesê, “jy kan beter na hulle kyk. Jy’s immers die een met al die geld.”
Asof sy nie ´n groot hap daaruit geneem het nie! Hy haal sy skouers op: die lewe gaan voort. Hy gaan af eetkamer toe, waar sy seun en dogter sit en ontbyt eet. Hulle is net ´n jaar uitmekaar, Willy in graad elf en Sandra in graad tien.
“Môre, julle twee.”
“Môre, Pa.” Willy groet darem nog, Sandra kan nie bodder nie. Markus weet sy neem hom nog altyd kwalik, al was die egskeiding nie sy idee nie.
Hy leun oor en soen haar op die voorkop. Sy trek haar kop weg, maar hy vermoed sy sou seergemaak gevoel het as hy nie probeer het nie.
Marie, een van drie huishulpe, kom sit ´n bord met spek en roereiers voor hom neer en hy val weg. “Hoe lyk julle dag?”
“Dis ´n skooldag,” mor Willy. “Hoe goed kán dit lyk?”
“Enige toetse?”
“Nee.”
“En jy, Sandra?”
“Nee, Pa,” antwoord dié dogter van hom wat hy nie meer ken nie. “G´n toetse nie. Die skole het dan nou maar eers weer begin.”
“Sandra, ek soek nie sarkasme nie.”
“Maar wat dink Pa dan? Die fokken onderwysers sal seker eers -”
“Meisiekind! Ek wil nie weer daai woord uit jou mond hoor nie!” Hy besef hy klink soos ´n preutse diktator, maar kan dit nie keer nie. “Verstaan ons mekaar?”
“O. Sorry.” Sy kyk hom vol in die oë. “Ek het vergeet Pa en Ma het alleenreg op daai woord. As julle baklei.”
En daarmee is sy op en uit by die vertrek.
Willy skuif sy stoel terug. “Cheers, Pa.”
“Willy, hoor -”
“Kan nie nou chat nie, ek´s klaar laat, baai.”
En daarmee is albei weg, vinniger as wat Markus sou dink is moontlik. Die vaart van tienerwees.
Hy bly sit voor die smaaklike bord kos waarvoor hy nie lus het nie, by die yslike tafel in sy tamaai huis.
Dis ´n grap van die noodlot, dink hy, dat albei kinders so baie soos René lyk. Al wou sy hulle nie saamneem nie, het sy hulle beslis nie hier vir hóm gelos nie …
Ná sy vir die rok betaal het, loop Abby na die lipstiffie-afdeling. Eintlik het sy klaar besluit wat sy gaan doen. Dis net roetine dat haar gewete nou met haar raas.
Jy is nie so grootgemaak nie.
Maar sy is ook nie grootgemaak om vir altyd arm te wees nie. Of so te lyk nie.
Sy het vroeg in die week al dáárdie lipstiffie hier opgemerk. Nou is dit tyd om tot aksie oor te gaan. Die verkoopsdame gesels met ´n vriendin.
Abby draai terloops in die rondte om seker te maak niemand sien haar nie, dan vat sy die lipstiffie raak en glip dit vinnig by haar oop handsak in. ´n Kulkunstenaar sou dit nie beter kon gedoen het nie.
Toe sy die winkel verlaat, is daar ´n skreegeluid … en haar hart gaan staan … tot sy besef dis die geluid wat die deur maak elke keer as iemand inkom of uitgaan.
Buite rek sy haar treë, opgewonde om met die oortreding weg te kom. En ja, sy voel weer ´n bietjie skuldig. Misdadiger. Dief.
Maar daardie kleur sal goed lyk aan haar lippe. Die lippe van Abby Adams, die mooi meisie wat uit ´n arm wêreld ontsnap het.
Nóú is sy reg vir haar ete-afspraak. Meneertjie, as jou voete nog nie onder jou uitgeslaan is nie, vanaand is die aand! Sommer so in die loop smeer sy van die lipstiffie aan en glimlag vir haarself in ´n winkelvenster. Dis tyd dat sy aanbeweeg. Tyd dat sy haar horisonne verbreed.
Anonieme bydrae
