Die vuil game

Dit was voor televisie-skeidsregters en professionele lynregters en video kamera´s langs die skool se rugbyveld.

Paul Sauer Hoërskool was eintlik ´n klein skooltjie met ongeveer drie tot vier honderd leerlinge van sub-A (graad een) tot matriek (graad twaalf). Dit tel natuurlik meisies en seuns saam.

Nogtans was die toewyding en ywer vir sport so groot dat ons drie rugby-spanne en vyf tot sewe netbal-spanne in die veld kon stoot.

Buiten die tentoonstelling van lywe wat vir enige jong seun se oog soos soetkoek geproe het, was my belangstelling in netbal beperk tot die puntetelling wat bepaal het of ons span, wat ek heelhartig en luidrugtig ondersteun het, as wenner van die veld gestap het. Ek was meer ´n man vir rugby, en het my draai langs die netbalbaan gaan maak om die oog te streel en soms ook om met die oog te streel.

Laat ek terugkom tot die opset van die drie rugbyspanne wat ons gereeld in die veld gedruk het. Soos die skole deesdae van ´n pienkvoete span praat, het ons ook ´n span vir die kleintjies gehad. Ook hulle het kaalvoet gespeel. Hierdie span is gekies uit die kleintjies, maar was nie aan ouderdomsperke onderworpe nie. In die ou taal was die afsny-gewig 110 pond, wat ons rofweg by 50 kilogram in moderne maat sou bring. Hierdie gewigsgrens het ek reeds vroeg in my laerskool loopbaan oorgesteek. Ek was nie lank van lyf nie, is trouens steeds nie, maar taamlik duidelik as jy my teen die lig gekyk het. Dit was ook nie net potensiële spiere in rus nie. Dit was die ware Jakob wat my tot baie beweeglikheid in staat gestel het. Omdat ek so klein was, is my stewigheid ook dikwels onderskat, en het dit my gereeld ´n verrassingsvoorsprong gebied.

Die gevolg was dat ek by geleentheid vroeg in standerd vier reeds vir die tweede span moes uitdraf. In standerd vyf was my plek in die tweede span reeds ´n uitgemaakte saak.

Maar toe gryp die noodlot kort na die Junie/Julie vakansie in. Ou Voëltjie wat as standerd agt met ´n gewig van 113 pond vir die eerste span skrumskakel gespeel het, raak op een of ander manier buite aksie. Hy was uitstekend in die posisie omdat hy sy bynaam gestand was. Hy kon uit die moeilikste situasies kom omdat hy so lig en rats en klein was. Dit het natuurlik vir die span baie beteken.

Elk geval, die noodlot het ingegryp en ek word gekies om sy plek in te neem, en die eerste span waarteen ons speel, is ´n skool op toer uit die noorde van die land. Ek kan nie eers meer onthou van hoe ver noord, of ´n plek se naam nie. Wat ek wel onthou, is die wedstryd.

Dit was ´n helse vinnige wedstryd. Ek bedoel nie hy was (vir almal) gou oor nie. Ek bedoel ons het vir die volle tagtig minute op die veld gehardloop en gestoei en gebaklei.

Ou Tafelberg, dis nou die naam van ons rugby veld, was hard en droog met ´n beespaadjie wat diagonaal oor hom tussen die polgrasse deur gekronkel het In die middel was die krieket kolfblad van rooi gruis. Die spel is uit ontsag deur ons en besoekers wat die veld geken het, rondom hierdie kolfblad gespeel. As ons iemand wou lak, het ons gesorg dat dit weg van die gruis is. Uit regverdigheid teenoor jou teenstanders, het jy ook nie maklik oor die gruis kortpad gevat doellyn toe nie. Maar soms het die spel ook tot daar gevorder, want op die res van die veld het die graspolle en beesmis jou gepootjie as jy nie baie bedag daarop was nie.

Verder was daar oor die hele veld ´n eweredige helling na een sykant. Dit het eintlik daarvoor gesorg dat die meeste van die spel in die laagte na die noordekant gespeel is.

Om ´n sweempie van profesionalisme aan die spel te verleen, is dikwels van onverbonde skeidsregters gebruik gemaak. Dit was dan ook dikwels predikante, want wie sal nou hulle onpartydigheid in twyfel trek!

Ewenwel, ek speel die dag my heel eerste game vir die eerste span en ek is maar ´n bietjie skrikkerig. Daarom besluit ek vooraf dat ek my nie gaan laat onderkry as daar fout kom nie. Ek maak my naels vooraf skerp sodat my teenstander gaan seerkry en los as ek daai vinger in sy oog, oor of neus druk.

Met die afskop moes daai losskakel my seker uitgesoek het, want die bal kom reg op my af. Met my balvaardigheid was daar nie fout nie en ek beheer dit tot die voorspelers by is. Maar toe moes daai ander voorspelers seker gedink het hulle gaan vinnig van die skrumskakeltjie ontslae raak, en een ou het my hier in die binneskrum in ´n wurggreep. Nou, my linkerhand se duimnael is weens ´n ongeluk soos ´n jagmes en ek het hom toe ook nog geslyp gehad ook. Ek kry daai nael in sy een pols ingedruk en ek trek na ´n kant toe en voel hoe dit warm word in my hand. Toe weet ek dat ek die eerste ou gemerk het en hy klim sommer bo by daai losskrum uit. Aan die manier waarop hy my daarna deurgekyk het moes hy gedink het ek had een of ander onwettige wapen aan my versteek. Dit het hy eers kon doen nadat hy van die veld is vir noodhulp en vasgestel is dat sy are nie afgesny is nie en hy verbind teruggekom het.

Met die eerste skrum, steek die flank sy been so sywaarts uit om te keer dat ek nie sy skrumskakel kan verhinder om die bal tydsaam op te tel en uit te gee nie. Maar toe merk ek hom.

Die spel gaan voort en by die volgende losskrum word ek deur ´n moerse groot slot ingetrek. Ek kyk hom so en sy naeltjie is hier reg voor my as ek regop staan. Ek besef ek gaan dit moet telegrafeer as ek hom in die gesig wil haak en ek maak ´n ander plan. Terwyl ek hom nog so op die pens kyk, skop ek met my regtervoet en maak my lyf net so effens krom. Toe ek hier aan sy pens sien hy is besig om na sy been te gryp, toe kom ek met alles in my liggaam regop.

Ek voel hoe die kroontjie op my kop iets sag tref, hoe dit vinnig in ´n harde weerstand verander wat weer skielik sag raak, en ek weet dat as die donner gespoeg het, lê daar nou ´n paar tande op my kop. Gelukkig vir my kon hy nie spoeg soos sy lippe tussen my kop en sy gewese tante hervorm is nie. Dan was hy ook nog reeds in droomland toe hy die grond tref.

Sy game was verby. Hy het nie eers ´n stukkie van die kantlyn kon kyk nie.

Daai predikant wat vir ons geref het, het my nog nooit voorheen gesien nie en hy het nie geglo so klein outjie kan so baie skade doen nie, en toe skryf hy dit maar aan ´n ongeluk toe.

Maar toe is daai ander ou se spanmaats taamlik goed gecharge. So in ´n game hoor mens mos maar hoe hulle vir mekaar sê wie gemerk moet word en wie sommer uitgehaal moet word. Ek val toe onder die laaste katagorie. En my spanmaats wis van niks en hulle hoor dat die ouens my wil bêre en in rugby is jou spanmaat jou maat en jy vat nie aan hom nie. Van toe af is daar ´n muur van my eie span om my, maar as ek die bal by ´n skrum moet ingooi, moet hulle op hulle plekke wees en as ek agter ´n lynstaan of losskrum moet skoonmaak, is hulle ook maar besig om hulle eie spel te speel.

By die tweede skrum waar hulle die bal wen en ek om die flank se uitgestrekte bene moet probeer kom, maak ek of ek daai bene nie sien nie. So in my tuimelval oor sy bene gryp ek kamma en kry hom met my hand met die jagmes tussen die bene beet. Maar ek het seker gemaak dat ek diep gryp en dat daardie duimnael met krag en geweld onder sy broekspyp ingly. Ek steek daai nael so hard in sy lies in die vleis in, hy probeer ´n handstand op die skrum doen om weg te kom, maar ek het sy volle skrotumsak in my hand en ek hou en sny met daai duimnael. Toe ek sien die bloed sypel deur sy broek en ek ruik hy begin na ´n vuil plaas toilet stink, toe los ek eers. Agterna het Charles, die dokter, my vertel dat hy ´n ses sentimeter lange sny moes toewerk om hom kans op ´n nageslag te gee. Gelukkig was die ou uit en het nie verdowing nodig gehad nie.

Van daardie oomblik af het daai ander span sommer enige van ons spelers probeer uithaal uit die span. By een geleentheid het ek die bal in ´n skrum op ons kwartlyn ingegooi, gekry en laat spat. Erens tussen hulle halflyn en kwartlyn het ek die bal vir my ouer broer, Eben, op vleuel gegee omdat ek ingehaal is en hy het gaan druk. Toe ek op ons kwartlyn terugkom, toe lê daar nog twee voorrye en stoei.

Hulle het teen die tyd reeds met ´n verswakte span gespeel, maar hulle agterlyn was nog ongeskonde, en het regte naellopers op die vleuels gehad. Ek wou darem graag daar ook ´n verskil maak, maar geleenthede was skaars en van agter kon ek hulle nie inhardloop nie. Maar toe kry ek ook daar my kans en ek gebruik dit.

Met ´n skrum teen die kantlyn wat hulle wen, gee die skrumskakel die bal vir die vleuel, maar ek het dit sien kom en toe hy die bal kry, toe wag ek al vir hom. Ek duik hom reg van voor so teen die bors, maar steek my linkerhand met die wapen aan boontoe. Ek wou sy een oog uithaal, maar met die wat ek nie kyk waar ek wil tref nie, mis ek so bietjie die teiken. Ek voel my pinkie raak weg in ´n warm gat en bid dat hy nie sy bek vinnig moet toemaak nie. Met dié land ons saam op die grond en ek sien dat my pinkie in sy linker neusgat begrawe is. Hy is weg in daai neusgat tot agter die tweede lit en ek raak vies vir die ou in wie se neus ek so krap. Met die kom hulle skrumskakel by en ek sien hy is lus vir my. Ek trek my hand terug om te keer en sien my pinkie kom gelaai met goed wat soos geklitste breins lyk, uit daai neusgat. Ek sien die outjie sien dit ook en hy maak sy bek oop om my aan te spreek. Toe druk ek daai hele pinkie in sy mond en vee sy maatjie se snot aan sy kleintongetjie af. Hy gaan so aan die kots dat die ref dink hy het ernstige harsingskudding opgedoen en hom afstuur om by ´n dokter te kom. Toe ek omkyk, sien ek dat daai duikslag op die vleuel ook nie verniet was nie. My wapen het hom so skrams voor die oor getref en hy lê en sukkel om die bloed gelyktydig uit sy oor en vergrote neusgat te hou. Daar haal ek toe met een onskuldige duikskoot twee oponente uit, en ek het dit nie beplan nie.

Toe kry ek mos weer ´n kans om te breek en ek mik na een kant om die senter en verander van rigting. Dis toe op daai kolfblad en die binne senter, wat my wou lak, gly en land voor my op die gruis. So in die nader maak ek plan en ek sien sy een knie lê plat op die gruis en daar is ´n groterige klippie onder die knie, en ek is in volle vaart en ek kan nie op daai spoed uitswaai sonder om self te val nie. Ek verkort eers my treë en toe maak ek of ek van ver oor daai been wil spring maar sorg dat ek dit nie gaan maak nie. Ek land toe met my een toks senter op daai knie van ´n goeie hoogte af en ek trap dat ek hoor hoe dit kraak. Met die dat die been meegee, verloor ek so effens my balans en die ou se gil breek my konsentrasie so laat ek toe ook val.

My val was ook van ´n taamlike hoogte af en dit ook nog op daai kolfblad. Of ons die game gewen of verloor het, sal ek nie weet nie, maar my gevreet is nounog gemerk soos ek op daai kolfblad gebriek het. Ek kan darem onthou dat ek kan goedstaan daarvoor dat ses van hulle top spelers nie die game kon voltooi nie. Ek self ook nie, en sewe uit dertig is nie te sleg as in ag geneem word dat dit in standerd vyf was nie, toe ek die eerste keer die skool se eerste span gehaal het.

Agterna het ek gehoor een van die span wat die ou met die afbeen van die veld wou help het nie reg gestaan toe hy hom wou optel nie en sy rug ook soveel beseer dat hy vervang moes word. Maar ek sweer ek het niks daarmee te doen gehad nie.

skrywer: Izak Ferreira

Lewer kommentaar

Leave a Reply