‘n Storieboek naam

As jou ma lief is vir romantiese storie boeke, die tipe wat jy so van die kafee se rak af koop, is dit baie moontlik dat jy ´n uiterheemse naam kan erf. So is daar heelwat Angelique van der Merwes in die wêreld, en Esmerelda Viljoene.

Sasha se ma was een van daardie tannies. In die plaasdorpie van Kroningsdal was daar net een winkel en die boeke moes maandeliks bestel word. Sasha se ma was ´n baie goeie kliënt. So tussen die gereelde swangerskappe deur was daar altyd tyd vir lees.

Sasha Meintjies is na een van daardie heldinne vernoem, bloot omdat haar ma op daardie stadium besig was met ´n boek met ´n soortgelyke naam. Dit was nogal ´n verleentheid, maar darem nie so erg soos haar arme ouer suster nie. Die arme vrou is Brunhilde gedoop. Haai shame, het almal altyd agter hulle rue gesê. Dat ´n ma ´n kind darem so ´n onreg in die lewe kon aandoen. Dit was dan ook juis die opvatting wat van Sasha die vegter gemaak het wat sy was.

Nie remarkably mooi nie, het sy alles in haar vermoë gedoen om almal te laat weet wie en wat sy was. Daar was nie ´n seun of dogter wat vinniger kon hardloop, harder kon skreeu of hoër kon boomklim as sy nie. Wat nie doodmaak nie, maak sterk, het Ouma Ossewanie altyd gesê, en dit was Sasha se leuse. As sy die beste kon wees in alles, kon die mense dit hopelik in hulle harte kry om haar haar naam te vergewe.

Net een iemand kon haar dit nooit laat vergeet nie. Jack de Beer. Met sy sproetgesig en kraai bene was die arme kind dan altyd aan die ontvangkant van Sasha se humeur. Tog, dit het hom nooit laat stuit of stilbly nie. Menigmale het hy haar hare getrek en dan losgetrek en vir ´n vaart gehardloop, net om om te kyk en haar te sien aankom. Nie nodig om te sê nie, hy het die meeste van sy jong lewe met ´n blou oog deurgebring. Dom astrant.

Snaaks dan dat hy die enigste een was wat haar tot trane kon dryf. Sasha kon dit nooit verstaan nie, en Ma se filosofie dat al die antwoorde tussen die blaaie van ´n boek lê het geen vrugte afgewerp nie.

Dit was Pa wat die enigste sin gemaak het, en later het dit dan ook nie heeltemal so sinvol geklink nie. “Hy hou van jou, pop. Weet jy dit dan nie? Hoekoem dink jy laat hy jou dan toe om hom so op te dons. Ek sou lankal terugebaklei het.” Nou ja, of Pa dan nou waarheid gepraat het weet nugter alleen. Om dit so te stel, Sasha het met nuwe oë na Jack de Beer gekyk.

Met die begin van hoërskool is sy koshuis toe in Bloemfontein, en Jack en die plaas was nou maar vir eenmaal vêr uit haar lewe geskuiwe. Daar was soveel meer interessante dinge om haar die gang, dat sy nie kon dink aan enigiets anders nie. Gaandeweg het rabedoe Sasha ontluik in die mooiste meisie op die kampus.

Lang blonde hare het in ´n digte bos om haar skouers gespeel, slanke liggaam altyd in jeans en ´n t-hemp. Sy was steeds ´n tomboy, maar nou net op ´n meer verfynde manier.

TWAALF JAAR LATER

Ma was dood. Een vir een moes sy nou haar verskansings afbreek en huis toe gaan, huis toe.

Vir twaalf jaar lank het sy weggebly en weggebly, te bang om terug te kom Kroningsdal toe. Te bang vir die vernederings wat sy daar beleef het. Te bang vir die mense en dat hulle soos altyd agter hulle hande vir haar sou lag. Nou is Ma dood, en sy staan hier in Pa se arms op die stasie. Wanneer het hy so oud geword, wonder sy as sy hom volg na die blou Ford bakkie wat hy nog al die jare ry.

Swaarkry en hartseer lê soos treinspore diep in sy gesig ingeleef. Sy geliefde blou oë is dood, koud en rooi gehuil. Sy het nog nooit vir Pa gesien huil nie, altyd gedink hy was te sterk om te huil.

“Almal is al hier, pop. Jy is die laaste een wat kom. Het jy net die een ou tassie?” Sy knik en tel die tassie op, trane wil-wil oor haar wange val. “Wie is al hier, Pa?” Vra sy net om nie stil te wees nie. “Ag, my kind, almal. Brunnie (Brunhilde), Ettie (Estiban), Andries (Andries Petrus Jakobus) [vernoem na ´n oupa wat aangedring het op ten minste een familienaam] en Bert (Alberto).

Almal met hulle kinders, wel almal behalwe Andries, hy is net so rondflenteraar soos jy. Sal ok nooit trou nie.” Sasha sug saggies. Almal met hulle kinders. Net Sasha is hier met niks behalwe ´n klein ou tassie klere en ´n kop vol ontnugterings.

“Hoekom het Pa nie vir Andries gevra om my te kom kry nie? Pa lyk nie vir my so gesond nie.” Pa knik net, ´n skewe glimlaggie om sy ou mond. “Jong, my kind, jy is dan nou my jongste. Jy was altyd Ma se babatjie, haar sussie. Ek wou jou maar self kom kry het, sy was so bekommerd oor jou.” Sasha sluk hard teen die knop in haar keel.

Die herinnering van haar Ma wat oor haar kop streel en haar liefdevol vasdruk, haar stem sag as sy sê, jy is my sussie. Die trane kom dan vir al die tyd wat sy so gemors het met haar Ma.

“Ek is jammer Pa.” Sê sy saggies onderweg na die plaas. “Jammer oor wat pop?” Sy skud haar kom stadig as die trane oor haar wange val. “Ek is jammer ek het nie meer kom kuier nie, of geskryf so gereeld nie. Ek wou wegbreek en my eie mens wees. Ek wou die wêreld sien, en daar was nie tyd vir iets anders nie.” Hy knik net sy grys kop en vou sy sterk hand oor hare.

“Ma het geweet, pop. Sy het altyd gesê sy het jou reg vernoem, jy is nes daardie vrou in daai boek van haar. Sy het die boek vir jou gebêre, ek sal hom later vir jou gee.” Sasha lag dan saggies en leun haar kop teen Pa se skouer. “Ek het verlang, Pa. So baie.”

Nee, dit kon eenvoudig net nie Jack de Beer wees hierdie nie! Waar is die sproete dan? Die kraaikrom bene? Die man hier voor haar in sy deftige swart begrafnis pak, met sy gitsswart hare en donker oë kon net doodeenvoudig nie dieselfde laaitie wees wat haar hare getrek het nie! Hy was te deksels mooi!

“Hallo, Sasha.” Glimlag hy dan en haar hart slaan bollemakiesie. “Jack?” Vra sy, steeds seker dat daar iewers ´n fout moet wees. “Ja, Jack de Beer. Hoe gaan dit met jou? Ons het na Hoërskool nooit weer iets van jou gehoor nie?” Sy knik en bloos as sy dink hoe breed sy skouers is, hoe maklik dit vir hom sou wees om haar toe te vou in daardie fris boere arms.

“Is daar iets fout?” Vra hy bekommerd. “Nee, nee, nee. Hierdie is net skielik ´n baie lang dag. Wil jy dalk ´n koppie tee hê?” Jack neem haar hand in syne en lei haar na waar Brunnie en Ettie tee skink.

Haar opgeboude swart sandale maak nie ´n geluid op die kerksaal vloer nie, en sy trek-trek selfbewustelik aan haar lang swart rok. Wat was dit met die plek? Nog nie eens twee dae hier nie, en sy het al klaar nie selfvertroue nie.

“Ek het jou amper nie herken nie. Jy het nogal mooi grootgeword.” Dalk was dit die skok van die woorde, of dalk net hoe hy na haar gekyk het terwyl hy dit gesê het, wat skielik haar bene soos jellie laat voel het. Haar voet swik onder haar en met ´n gedempte gil klou sy aan sy hand. Sy hande is dan om haar skouers, en hy hou haar regop.

“Dit was maar net ´n kompliment, mêrrie.” Glimlag hy en sy bloos tamatierooi. Mêrrie, hoe kon hy haar nogsteeds dit noem. “Jy vra nou vir ´n blouoog, kraai.” Waarsku sy en hy lag. “Ek is nie die een wat my lewe op daai skoene waag nie.” Te laat kom sy agter dat hy haar net terg, en woel haarself los uit sy arms.

“Skaam jou, Jack. Wat sal die mense sê?” Hy vat weet haar hand en kyk skuins onder digte swart wimpers na haar. “Van wanneer af worry jy wat die mense sê, mêrrie?” Dit was waar, en tog, in die dorp, in die dorp is sy nogsteeds Ma se kind, en dis Ma se reputasie was sy nie wil opmors nie.

“Verskoon my ek moet vir Brunnie gaan help.” Sy draai om en stap weg, en dit is asof sy sy oë op haar rug kan voel, die intensiteit daarvan brand haar. Hoe kry hy dit nogsteeds reg om haar so te afekteer? Destyds was dit sy getergery wat haar emosies so kon omfoeter. Was dit bloot oor hoe hy nou lyk? Wie sou kon raai dat Jack de Beer so aantreklike dekselse skurk sou word?

Nes een van ma se boeke.

“Jy was nog altyd die odd een uit, kleinsus.” Brunnie se oë is afkeurend op haar klere gerig, en Sasha voel of sy kan ontplof. Brunnie was soos haar naam, groot en fors, lang yl blonde haire altyd in ´n sindelike bolla agter haar kop vasgevang. Sy het sestig gelyk, plaas van die dertig wat sy was. Netjiese tweestuk pakkie en hofskoene het geskreeu van verveeldheid. Sy sou mooi kon wees as sy net wou, maar iets het haar het geskram teen die idée dat mens maar mag mooi wees. Sy moes eintlik in die agtiende eeu gebore gewees het, dink Sasha, die lewensstyl sou haar so amazingly gepas het.

“Niemand anders dink so nie. Wat is jou probleem?” Brunnie draai na haar, en Sasha weet al wat kom. Die spesifieke lesing het sy al ´n paar keer oor die jare gehoor, verbaal en op skrif. “Jy is ´n verleentheid vir ons almal. Jy maak ´n bespotting van ons almal, van Pa se naam. Wat het jy nog met jou lewe gedoen? Wat kan jy wys vir die afgelope twaalf jaar?” Net dan kom staan Andries agter haar, sy een arm om haar skouers.

“Ag tog, al weer daai storie. Kom, sussie, ek is seker daar is beter dinge om te doen.” Hy lei haar weg en Shasha is uiters verlig.

“Dankie, boetie, ek het daai storie al so baie gehoor. Al wat sy op die brein het is trou en kinders soos hase. Sy kan nie verstaan dat dit nie al is waaroor die lewe gaan nie.” Andries knik sy donker kop, en weereens wonder Sasha waar sy so ´n aantreklike boetie kon losslaan? Eintlik was hulle almal aantreklik. Ettie was ´n blonde Adonis, en Albert ook, soos Ma se familie.

Net Andries was so donker soos Pa. Breë skouers, soos sy boeties. Hy was eerlik en hardwerkend, jy kon dit aan sy vernielde hande sien. ´n Boer, nes die Oupa na wie hy vernoem is. Hy was ook eintlik al een wat nie gedink het Sasha mors haar lewe nie. Hy was trots op haar en wat sy al vermag het.

´n Week Later

Sasha stap stadig deur die groen koringlande, nie regtig besig om aan enigiets besonders te dink nie. By die huis in die kamertjie wat sy vroeër jare met Brunnie gedeel het, lê stapels navorsing wat wag om gedoen te word. Sy moet haar meestersgraad kry hierdie jaar, en sy het nog nie eens daarmee begin nie.

Perdeposte trek haar aandag en sy draai stadig om om te sien wie aankom. Tot haar skok besef sy dit is Jack. Die bruin hings lyk na ´n spoggerige dier. Hy moet geld maak op daai plaas van hom as hy so ´n dier kan bekostig.

“Goeiemiddag.” Groet hy vriendelik en gly maklik uit die saal. “Middag, wat kom maak jy hier in ons geweste?” Vra sy half verleë, blou oë glinsterend. “Ek het jou kom soek, natuurlik.” Sy bloos tamatierooi. “Jy pa het gesê hy dink jy is hier op die lande iewers. Ook maar goed ek het jou so gou gekry, anders was dit te laat.” Sasha sluk senuweeagtig, haar mond skielik droog as haar hart onstuiming in haar bors klop.

“Hoekom?” Sag plaas hy sy hand op haar skouer en laat dit dan afgly teen haar arm om haar hand gevange te neem. “Daar is ´n dans op die dorp vannaand, en ek het gewonder of jy saam met my wou kom?” Sy trek haar asem diep in, en bloos, sy het nog nooit so baie gebloos in haar lewe nie!

“Ek sou graag wou, maar ek is nie seker ek het iets om aan te trek nie.” Hy lag saggies, en druk haar hand. “Jy sou mooi lyk in ´n sak, merrie. Dis sommer net ´n jongmens byeenkoms, jeans en ´n t-hemp is heeltemal reg. Toe nou, jy moet ja sê, anders het ek al die moeite verniet gedoen.” Dit is haar beurt om te lag. “Watse moeite nogal. Jou plaas is nie sover hiervandaan nie.”

Sy bruin oë ontwyk hare as hy liewer afkyk grond toe, ´n skaam glimlag om sy sensuele mond. “Ek moes eers gaan stort en skoon aantrek ook. Mens kuier mos nie in vuil werksklere nie. Besides, weet jy hoeveel peptalks moes ek myself geen terwyl ek vir Rebel opgesaal het?” Sy wend haar aandag na die pragtige hings.

“Okay, net solank jy my ´n ry gee op jou perd.” Hy knik en draai weg van haar af. “Deal! – Kom dan, merrie, dan lift ek jou terug huis-toe.” Sy knik net en lig haarself maklik in die saal in, ´n oomblik later sit hy agter haar. Die elektriese skok toe sy sterk, gespierde bene styf teen hare vasgly, gedy deur haar soos ´n skokgolf. Die gevoel van sy borskas teen haar rug, en sy arms onder hare deurgevou om die teuls op te tel, is amper te veel vir haar woes kloppende hart om te hanteer. “Jack?” Haar stem is sag in die laat middag son as sy ´n houvas kry op die hings se weelderige maanhare. “Ja?” Sy stem is fluistersag teen haar nek, en koue rillings hardloop teen haar ruggraat af. “Hoekom noem jy my nog altyd merrie?” Jack stuur die hings in ´n stadige loop terug na die op stal toe.

“Jy is nog altyd vir my so mooi, en vurig soos ´n wilde, ontembare merrie. Niemand kon dit ooit regkry om jou te tem nie, en dit was vir my iets besonders. Gee jy om?” Sy skud haar kop, en draai effens om hom in die oë te kyk. “Ek het altyd, maar nie meer nie. Ek was nog nooit mooi nie, Jack. Jy hoef my nie te vlei nie.”

Haar oë is groot en ondersoekend in syne as die hings tot ´n staanstil kom. “Vir my was jy nog altyd beeldskoon.” Een sterk hand vou om haar nek en sy moend vind hare in ´n sagte, ondersoekende soen. “Jy is pragtig.” Fluister hy en die soen verdiep. Sasha is verlore, haar emosies in ´n maalstroom vasgevang wat haar meesleur. Haar hand gly oor sy sterk bobene as sy dieper dieper in sy arms inleun. ´n Kreun ontsnap tussen haar lippe deur en sy verbreek die kontak.

“Jy weet ek moet terug Bloemfontein toe.” Fluister sy teen sy mond en hy verstyf vir ´n oomblik. “Ek is bereid om te vat wat ek kry, Sasha. Ek het solank vir jou gewag om terug te kom.” Sasha draai dan weg van hom af.

Wie sou ooit kon raai dat sy so hard sou kon val vir Jack de Beer? Hoe sou sy ooit kon raai dat die man van haar drome hier reg onder haar neus was? Sy het saam met hom grootgeword, hom nog altyd lief gehad. Hoe kon die lewe sulke draaie met haar loop?

“Nou goed, dan het ons ´n week.” Sy arms vou om haar en druk haar styf teen hom vas, sy ken op haar skouer. “Mooi, net genoeg tyd om jou om te praat om baie, baie, baie gou terug te kom.” Sy lag en plant ´n soek op sy kaalgeskeerde wang. “Ons sal sien hoe goed jy jou van jou taak kan kwyt – Nou, Mnr. de Beer, moet jy my huis-toe vat. Ek moet darem ook gaan regmaak.” Hy knik met ´n glimlag om sy mooi mond en hulle galop al die pad tot by die Opstal.

Daardie aand om sewe ontmoet sy hom in die voorhuis, uitgevat in die beste wat sy in haar tas kon kry. ´n Ligblou hipster denim, met uitgerafelde some en ´n wit lae hals t-hemp wat haar middel verleidelik naak gelaat het, die spinnekop naeltjiering met sy blou steen vry om te grynslag oor sy bevooregtheid. Wit en ligblou sketcher sandale rond die uitrusting mooi af. Haar hare val verby haar ore in ´n netjiese bob, en haar grimering is lig en pienk, natuurlik. Sy voel vir haarself mooi, en kan in sy oë sien, dat hy ook so dink.

Hyself is geklee in ´n blou denim, bruin caterpillar boots en ´n netjiese bruin toeknoop hemp. Sasha staar verwondered na hom en vang haarself dan, sy bloos, tamatierooi. Net dan kom Andries die vertrek binne, sy laggie skelm. “Wel, julle tweetjies lyk fraai.” Hy is ook aangetrek om te bekoor, maar Sasha sê niks, staan net daar en staar na haar voete. Sy was al met vele mans uit, hoekom voel sy dan nou of sy in die skool is en nog nooit op ´n date was nie? Mens sal sweer sy’s sestien of iets!

“Sonja wag vir jou.” Sê Jack dan half vieserig, en sien die onverskillige glimlag om haar boetie se mond. “Ek is deeglik bewus daarvan, my vriend.” Jack knik net sy kop, neem Sasha se hand en lei haar die voordeur uit, sonder om ´n woord te sê.

“Sonja was nog altyd mal oor hom, ek onthou toe ons kinders was was hy altyd al een wat suikerkoekies gekry het as jou ma bak. Ek kon altyd net ´n gemmer ene kry. Ek haat gemmer koekies.” Jack lag en stop voor die saal waar die dans gehou word. “Sy sal haar siel gee vir hom, maar hy hou haar aan ´n lyntjie. Eendag is eendag dan sê ek dit vir hom, en nie in woorde nie.” Sasha klim uit nog voordat hy die deur kan oopmaak en lag dan vir sy gesigsuitdrukking. “Vrou van die negentigs, ou maat. Kom, laat ons dans!” Sy gly haar arms om sy middel en glimlag op in sy donker oë. Sy arm val om haar skouers en hy lei haar die saal in, ´n lied in sy hart. Wie sou ooit kon droom hy sou vannaand hier saam met haar wees? Hy het, baie, baie eensame aande.

Jack vou sy arms om haar middel van agter, sy ken rus op die kroontjie van haar kop. Die sonsopkoms brand rooi en oranje oor die geil koringlande, die majesteit daarvan te mooi om te beskryf. Het sy ooit opgekyk en die son waardeer? Was daar ooit ´n tyd in haar lewe wat sy enigiets behalwe haarself raakgesien het?

Jack het haar betower, haar oë oopgemaak vir die wêreld om haar. Sy het nog nooit so gelukkig, so volmaak veilig en geliefd gevoel soos op hierdie oomblik nie. Hoe kon sy hom dan hier los en net weggaan? Terug Bloemfontein toe om ´n simpel graad te kry, waarvan sy in elkgeval al genoeg het. Sy wou hom nie nou los nie?

“Ons moet teruggaan. Jou Pa sal dalk bekommerd wees.” Sy knik net en voel die trane agter haar oë. “Ek wil so graag hier by jou bly, Jack.” Sy draai stadig om en kyk op in sy sagte bruin oë. “Jy hoef nie terug te gaan nie. Jy kan altyd hier by my bly.” Sy skud net haar kop. “Ek het ses jaar lank geleer, my lewe opgeoffer, my ma. om hierdie graad te kry. Ek kan dit nie net sommer so los nou nie. Maar ek wil jou ook nie sommer net so los nie. Ek kon lankal terug plaas toe gekom het, maar ek wou nie. Ek wou nie deel wees van hierdie wêreld vir die res van my lewe nie. Nou, nou voel alles anders. Het jy my getoor?” Hy glimlag net, sy arms sterk om gevou.

“Nee, want as ek het sou jy nie nou hier gestaan en praat het van weggaan nie. Jy sal al klaar op jou rug op die gras gewees het, en-” Sy bloos bloedrooi, en hy lag, een hand gly saggies om haar nek in haar hare in. “Ek het twaalf jaar gewag, merrie, ek kan nog ´n rukkie langer wag.” Sy lippe ontmoet hare, en sy wil word hare, sy wese vloei om haar, deur haar, totdat sy nie weet waar sy begin en hy eindig nie.

´n Maand later

Verveeld sit sy na haar dosent en luister, en skribbel so nou en dan iets wat belangrik klink. Tog is haar gedagtes nie op haar studies nie, nee, sy droom van ´n groot, sterk plaasboer, met oë soos ´n nuutgeploegde veld en ´n glimlag so sexy soos George Clooney s´n nie kan droom om te wees nie.

Sy kom nie eens regtig agter as ´n slanke ouerige dame die dosent in die rede val en ´n paar woorde met hom wissel nie. Die ou professor draai stadig van die dame af weg en stap doelgerig op haar af. Sasha wip soos sy skrik toe hy haar naam sê, en sit kiertsregop.

“Jou broer is hier, mej. Meinjies. Jy kan gaan.” Stadig maak sy haar mond oop en dan weer toe, en begin dan rats haar boeke bymekaar maak. Kon daar iets met Andries of Pa gebeur het, dalk een van die ander? Wie sou haar kom haal het? Wat het gebeur?

Vrae maal deur haar kop en teen die tyd wat sy vir Andries by haar motortjie sien staan, is die knop van angs in haar keel so groot soos ´n krieketbal. “Wat is fout?” Vra sy as hy haar vlugtig groet en dan haar in sy arms neem. “Jack was in ´n ongeluk.” Sasha voel hoe haar hart ophou klop, en yskou vrees slaan sy kloue in haar wese in.

“Is hy o-oraait?” Andries knik net, maar die lig in sy oë sê iets anders. “Sê my!” Gil sy amper vir hom, en hy klem sy hande om haar skouers om haar regop te hou. “Hy het gisteroggend die lande gaan kyk op sy perd, en nooit teruggekom nie. Een van die plaaswerkers het vir Pa kom wakkerklop na sononder om te gaan help soek. Ons het deurnag gesoek en vroeg vanoggend hom in ´n sloot duskant ons plaasgrens gekry. Hy was bewusteloos en amper gevries. Die perd het ´n paar honderd meter verder gelê. Iemand moes die hings onder hom uitgery het want daar was feitlik niks van sy pens oor nie, en albei sy agterbene was morsaf gebreek.” Hy bly dan stil en sien hoe sy witter en witter word.

“Jack is in die hospitaal net hier anderkant. Sy regterbeen en arm is gebreek, seker van die val. Hy is nogsteeds bewusteloos, maar gelukkig het nie sy rug of nek seergekry nie, die dokter dink ook nie daar is breinskade nie. Hy het inwendige bloeding gehad, maar hulle kon dit darem nou gestop kry. Die dokter is optimisties. Ek wou nie loop voor ek nie seker was nie, sussie. Dis hoekom ek jou nou eers kom kry het.” Sy knik net en begin aanstap na sy bakkie.

“Wag.” Sy stop, en draai na hom toe. “Hier, jy lyk of jy dit nodig het.” Hy druk die klein goue kruisie wat Ma altyd gedra het in haar hand, trane in sy gevoelige groen oë. “Sy het dit vir my gegee, voor. sy dood is, vir jou.” Dan praat hy nie meer nie, begin net aanstap na sy motor.

Sasha volg hom soos ´n robot, net een ding in haar kop. Jack. Sy moet by hom kom, moet sien dat hy nog lewe. “Asseblief, Here.” Prewel sy. “Moenie hom nou al vat nie, ek was so dom.”

Sy stap die privaatkamer binne, en trane val van nuuts af oor haar wange, en sy gly een hand oor haar mond. Sonja is dan lange haar en hou haar styf in haar arms vas. “Toemaar, toemaar, dit lyk erger as wat dit is.” Sy lei haar na die bed en bly dan langs haar staan, een hand op Sasha se skouer, haar oë vas in Andries s´n.

Jack is so wit soos die laken onder hom, sy swart omringde oë diep in sy kop weggesak. Daar is ´n sny langs sy wang af en scrape oor sy voorkop en neus. Sy arm en been is in gips en sy borskas wat bo die laken uitsteek daal rukkerig op en neer. Hy is vol blou kolle, dink sy, kan dit wees omdat sy hart gaan staan het en hulle hom geskok het?

Saggies vat sy aan sy skouer en buig af tot by sy oor. “Ek is hier, Jack, en ek sal jou nie weer los nie, moenie weggaan nie?” Haar lippe val fluistersag teen sy wang en dan huil sy weer. “Jy is die belangrikste mens in my lewe, ek wil huis-toe kom, na jou toe.”

Haar lippe val fluistersag teen sy wang, en dan huil sy weer. Sonja trek ´n stoel vir haar nader en laat haar sit. “Ek gaan vir ons iets kry om te drink, iets met baie suiker, kom Dries.” Sy boender hom die kamer uit en Sasha vou albei haar hand om sy linkerhand, versigtig om nie aan die snye te raak nie. Daar is ´n drip in sy nek, merk sy op en pyn kruis deur haar maag.

Andries en Sonja het vir hulle ´n kamer in ´n nabye hotel gekry en vir Sasha belowe hulle kom los haar af oor ´n uur of so, nie dat sy in elkgeval iewers sou heengaan nie. Net daar langs sy bed raak sy vas aan die slaap.

Die rukkerige hand wat deur haar hare gly, laat haar wip van die skrik en sy sit regop, verbaas om te sien hoe lig die kamer is. Vaagweg onthou sy iewers middernag vir Andries en Sonja, maar dis ook al.

Dan vind haar oë sy gesig en hy glimlag vir haar, en sy het nog nooit iets mooier in haar lewe aanskou nie. “Ek het gedroom jy was hier.” Sê hy heserig, en sy glimlag liefdevol. “Jy het nie nodig gehad om te verongeluk om my by die huis te kry nie, jy weet?”

“Drastic measures.” Glimlag hy en sy voel die trane oor haar wange biggel. “Wil jy nog met my trou, plaasboer?” Sê-vra sy, albei hande om syne gevou. “Jy’s lekker voor op die wa, nè?” Sy knik adamant. “Jy sou dit nie anders wou hê nie.”

skrywer: Noelene Botha

Lewer kommentaar

Leave a Reply