Rooi is die liefde

Wilhelm het geweet sy lewe sal nooit weer dieselfde wees nie die dag toe hy vir Janita ontmoet het. Met haar donkerbruin, amper swart oë en haar aarbei rooi lippe kon hy nie help om weer in liefde met eerste oogopslag te glo nie.

Haar oop en ekstrovertiese persoonliheid het hom dadelik opgeval. Hy het ook instinktief geweet dat sy nie eers twee keer na hom, enkel pa van een sal kyk nie. Sy liefde vir sy klein seuntjie, Ben is al wat hom aan die gang hou. Daar kom ´n tyd in ´n enkel man se lewe wat die moontlikheid om weer lief te hê so vêr en onbereikbaar lyk. Janita was een van daardie vroue waaroor Wilhelm net kon droom.

Dit het alles op Ben se eerste skooldag gebeur. Ben het vir al wat leef aan sy pa se been vasgeklou ten spyte van pa se versekering dat skool nie so sleg is nie. Wilhelm het geen keuse gehad as om sy seun al slepende klas toe te neem nie.

By die klaskamer geariveer vang sy oë hare en soos in die rolprente het dit gevoel as of alles in stadige aksie gebeur. Vir ´n oomblik daar het hy homself verbeel dat hy musiek in sy ore hoor! Sonder dat hy agterkom verloor hy sistematies sy broek met Ben wat klou vir sy lewe. Sy stap nader en haar krulhare beweeg sagkuns soos in ´n droom. Sy blik verlaat haar nie vir een oomblik nie en dit voel asof ´n leeftyd in daardie paar sekondes verloop. Sy lek haar lippe voor sy praat. Wilhelm se hart klop in sy keel.

“Kom jou pappa se broek vandag saam met jou skool toe?” Wilhelm merk hoe sy onderklere uitsteek en wens die aarde wil oopskeur en hom insluk. “Laat los maar vir pappa, jy is seker Ben? Ek is juffrou Nel. Kyk, al die ander maatjies in die klas wag vir jou, daar is jou stoeltjie.” Dit sal nou sy geluk wees, dink Wilhelm. Dat sy seun ´n godin vir ´n onderwyseres moet hê wat nou die kleur van sy onderbroek weet! “Sê totsiens vir pappa” lei sy Ben. “tatta pappa” kom dit van Ben maar Wilhelm staan soos ´n soutpilaar. “Pappa, tata!” maan Ben sy pa om te loop. Wilhelm kan nie beweeg nie. Sy mond is droog. “Totsiens mnr. Pieterse, u kan maar gaan, ek sal mooi na hom kyk” verseker sy. Hy sluk een keer. “Plesier”.”Ek bedoel aangenaam” waarop hy ´n met ´n rooi gesig ´n skaam glimlag gee en homself uit die voete maak.

Die heeldag by die werk kan Wilhelm nie konsentreer nie. Haar stem weerlink in sy gedagte. “Ek is juffrou Nel”. Hy dink aan die klein dimpeltjie langs haar mond. Is sy getroud? Het sy hom ooit opgemerk? “Pieterse” kom ´n sreng stem van sy bestuurder in die vergadering. “Jy sit en slaap! Ruk jouself reg.” “Skuus” sit Wilhelm kierts regop. “Sy is so mooi” dink hy en gee ´n onbeholpe sug. Hy is dankbaar dat sy kinderopasser Ben by die skool afhaal, want hy sou nie graag in juffrou Nel se oë wou kyk na vanmore se gebeure nie. Juffrou Nel se pragtige bokkie bruin oë.

Die groot dag het aangebreek. Die dag wat Wilhelm voor gevrees het: die dag van hul eerste oueraand by die skool. Hy sal vanaand sy beste naskeermiddel aansit en dalk ook sy beste das, maar dit sal dalk te opvallend wees. Wilhelm besluit om liewer geen das aan te sit nie. Op pad skool toe wonder hy of hy sal bloos as hy haar sien en glimlag by die idee dat hy, op sy ouderdom nog oor so iets gepla is. “Pappa, juffrou Nel sê dat manetjie voëltjies ´n mooi nessie vir die vroutjie voëltjie moet bou. As die vroutjie nie van die nessie hou nie kan sy dit maar stukkend skop en dan moet hy weer van voor af begin”. “Andrétjie sê hy is lief vir haar en hy gaan vir haar ´n nessie bou, want sy het nie ´n man nie en hy wil eendag met haar trou”.

Wilhelm glimlag en voel dankbaar vir sy klein informant wat ook maar te gereeld vertel hoe mooi sy juffrou is. By die skool gekom voel Wilhelm ´n koue sweet wat uitslaan. “Kalmeer Wilhelm”. Praat hy met homself en stap saam met Ben.

Die aand het heel goed verloop maar sy was saaklik en formeel soos dit seker ´n onderwyseres betaam. Hulle het nie veel woorde gewissel nie, sy het gesê dat Ben goed aangepas in graad een en dat hy ´n gelukkige kind is. Wilhelm was ´n bietjie teleurgesteld dat hy nie die moed gehad het om haar te vra om saam met hom ´n koppie koffie te gaan drink nie.

´n Maand het verloop waar Wilhelm elke oggend saam met Ben klas toe loop, net om haar gesien te kry, toe kry hy die goeie nuus: die skoolkermis is om die draai. Hy het net daar en dan besluit dat hy nie sy tweede kans deur sy hande sal laat glip nie. Elke kind is verantwoordelik vir ´n ‘smoustery’ vir die kermis. So staan Wilhelm en Ben en bak roomsoesies op die vooraand van die kermis. “Pappa, kan ons nie net koekies by die winkel gaan koop nie?” vra Ben ten aanskoue van die taai eindresultaat. Wilhelm staar na die gemors en wonder hoe hy ooit Mej. Nel sal beïndruk. “Nee, Ben.” “Die hele idee agter ´n kermis is dat mens ´n bietjie van jou eie liefde daarin moet sit. Kom ons maak springmielies in sakkies. Hoe klink dit?”

Die feit dat hulle aan tafel nommer tien gestaan het was ook nie toevallig nie, want Wilhelm het by die ouervergadering seker gemaak hy staan langs nommer elf – die tafel van Janita Nel.

“Ek sien julle het springmielies gemaak?” groet sy vriendelik. “Pappa sê daar is liefde in, want die koekies het geflop.” Wilhelm weet nie hoe om te reageer nie en sê smalend met ´n rooi gesig “uit die mond van die suigeling” en hoop dat Ben nou sal stilbly. Hy probeer so goed as moontlik om die gesprek aan die gang hou. “Wat het jy daar?”. Sy glimlag “gelukspakkies met lekkers, speelgoed en miskien ´n bietjie goeie geluk, ek gee vir julle twee gratis. Hier is ´n blou een vir Ben, en vir jou Wilhelm, ´n rooie.” Hy stik amper toe sy sy naam sê en dink “sy ken my naam.” “Daar is ook liefde in” glimlag sy vir Ben, en sê met ´n knip-oog aan Wilhelm “en ´n bietjie ekstra in die rooies”. Hy kan sy ore nie glo nie. Hy glimlag skaam en sê “ek sou vir jou springmielies aanbied, maar dis ´n bietjie gebrand.”

Daardie dag gesels hulle lekker, asof hulle ou vriende is. Hy vertel hoe mense altyd die aaname maak dat hy geskei is. Hy is eintlik ´n wewenaar. Hy het sy vrou verloor met Ben se geboorte. Sy vertel dat mense weer aanneem dat sy ´n oujongnooi is. Haar verloofde het jare gelede hul verlowing verbreek omdat sy nie kinders in hierdie wêreld kan bring nie. Hierdie wending in haar lewe het haar laat besluit op onderwys. Hy sit en luister hoe sy praat en kan nie help om te dink hoe baie sy na sy wyle vrou lyk nie.

Na die skoolkermis sien Wilhelm vir Janita gereeld, en vind uit hoe hy die eerste dag van skool haar al betower het en hoe sy redelik senuweeagtig was met die oueraand! Hy skep moed vir ´n toekoms saam met iemand, ´n nuwe lewe, ´n ma vir Ben? “Hoe sal jy daaroor voel om juffrou Nel as jou mamma te hê?” vra hy vir Ben. “Julle twee moes al lank al getrou het as jy my vra. Pappa is maar stadig met die meisies sien ek” raak Ben groot vir sy skoene. Wilhelm kan nie help om te lag nie. “Nou toe, gaan jy my help om haar te vra?”

Daardie volgende Saterdag by die skool atletiek hardloop Ben in die vyftig meter resies. Janita werk by die wenpaal. Soos afgespreek hardloop Ben reguit op haar af en druk ´n briefie in haar hand. “Juffrou, sal jy my mamma wees?” Haar oë soek vir Wilhelm op die paweljoen, waar hy ´n faandel ophou. “Trou met my.”

Na die atletiek byeenkoms sluit Wilhelm by haar aan. “Toe, wat se jy?” Janita lyk ontsteld. “Ek kan nie en moenie vir my ´n rede vra nie” sê sy stomp-af. “Maar Nita, Ben wil ook….” “Nee!” bars sy uit en hardloop weg.

Wilhelm voel gebroke. Sy droom van ´n volmaakte gesin lê in skerwe. Sy beteken vir hom so baie. Hy besluit om haar steeds gereeld te sien. Sy ís tog lief vir hom, hy weet dit. Dit alles maak net nie sin nie.

Een aand kuier hy weer daar en sy gaan maak koffie. Daar lê ´n koevert op die tafel. Hy weet hy moet eerder nie sy neus in haar sake steek nie, maar die nuuskierigheid brand hom. Hy draai die koevert om ‘Dr. Louw en venote’. Hy voel skuldig omdat hy dit opgetel het maar vind homself die brief lees. Dit voel of sy energie wegkwyn soos ´n bad wat leeg getap word. Hy is verstom. Die woorde swem voor sy oë: toets vir kanker – positief.

Janita kom die vertrek in en sit die koffie op die tafel neer. Wilhelm draai om met die papier in sy hand. Haar gesig verander in een van teleurselling en hartseer.

Wilhelm kan nie die trane keer nie. Sy gesig rooi en gepof, spoegklotte dam op in sy mondhoeke. “Janita” kry hy haar naam skaars uit. Sy kyk sprakeloos na hom. “Jy kan nie met ´n siek vrou trou nie Wilhelm”. “Nee, nee” prewel hy. “Jy is verkeerd” ek wil met jóú trou, nie met jou siekte nie! “Ek kan nie my lewe sonder jou voorstel nie. Ek weet ek verstaan nie alles wat deur jou gedagtes gaan nie maar gee my ´n kans asseblief, ek is lief vir jou en niks kan dit verander nie.” Janita wil nie ´n oorlas wees vir hierdie man met ´n jong seun nie. “Ek sal vir terapie moet gaan, Wilhelm” “Ek sal jou daarheen neem” stel hy haar gerus. “Maar ek sal siek voel”. “Ek sal jou oppas, jy sal gesond word, ek weet”. Janita is nugter oor die saak. “Die realiteit is dat ek kan sterf.” “Laat dit dan in my arms wees”. Hy neem haar hand, trane drup van haar wange.

“Nita, ek is hier en ek gaan nerens heen nie, jy beter gewoond raak daaraan. Hy druk haar fyn ligaam teen hom vas en voel haar trane teen sy vel, haar asem in sy nek. “Ons sal moet keer dat Ben aan my been hang by die troue.” Sy glimlag. “Jy gaan pragtig lyk, ons moet ´n datum kry.” Sy kyk op na hom, haar wimpers nat en prominent. “Jy steek nie dalk nog van daardie rooi gelukspakkies hier iewers weg nie?” Spot hy en ´n onwillekeurige laggie borrel uit haar. Sy is voorwaar die mooiste vrou in die wereld dink Wilhelm, en sy is myne.

skrywer: Naomi Paul


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply