Mnr,
Ek rig hierdie skrywe na aanleiding van u versoek om verdere besonderhede soos uiteengesit in afdeling 3 van die ongeluksverslag. Ek het in hierdie afdeling my ongeluk toegeskryf aan swak beplanning. U vra nou vir ´n vollediger beskrywing en ek gee dit graag hiermee en hoop dat die besonderhede soos nou verstrek voldoende sal wees vir die afhandeling van my eis.
Soos u weet is ek ´n Messelaar van beroep. Op die dag van my ongeluk was ek alleen besig met bouwerk op die dak van ´n ses verdieping gebou. Nadat ek klaar was met die dag se werk was daar nog stene oor – presies 395 kilogram toe dit later geweeg is. Ek het toe besluit om nie die stene af te dra na onder nie maar instede daarvan die stene in ´n drom te plaas en met ´n pulley te laat sak na benede. Die pulley was geanker op die sesde verdieping waar ek gewerk het.
Ek het afgeklim na onder en die tou eers daar goed vasgemaak en toe weer opgeklim na bo. Ek het die drom toe vol bakstene gepak, afgeklim na onder en die tou losgemaak. Ek het die tou baie styf vasgehou sodat ek die stene stadig kon laat sak. U sal sien in die verslag by afdeling 1 dat ek 83 kilogram weeg. Ek was baie verbaas toe ek meteens in die lug in geruk is. Ek het skoon vergeet om die tou te los. Dit is onnodig om te sê dat ek met ´n hengse spoed na bo gevlieg het! – al langs die gebou op. In die omgewing van die 3 de vloer het ek die drom vol stene ontmoet wat ook met ´n helse spoed na onder op pad was.
Dit verklaar die fraktuur op my skedel, die gebreekte sleutelbeen asook kneusplekke op my bolyf soos uiteengesit in afdeling 4 van die vorm. Die botsing het my spoed na bo net effens gestuit maar ek is steeds met ´n spoed na bo. Ek het eers gestop toe 3 vingers van my regterhand in die pulley vasgetrek is. Gelukkig het ek toe tot my sinne gekom en die tou nog vaster gehou ten spyte van ontsettende pyne wat orals begin het.
Terselfdertyd het die drom stene die grond getref en het die drom se boom uitgeval. Dit het meegebring dat die drom nou slegs 21 kilogram geweeg het en ek nog steeds 83 kilogram!. U kan u indink met watter spoed ek toe weer ondertoe is en die leë drom boontoe! Weer het ons mekaar ongeveer by die 3 de vloer ontmoet. Dit verklaar my gebeekte enkels, gebreekte tande asook die snye op my bene en onderlyf. Met hierdie slag het my geluk begin draai want die botsing met die leë drom het my spoed net genoeg gebreek dat ek my nie doodgeval het op die hoop stene nie. Ek het met die val net 4 rugwerwels gebreek! Dit kon meer gewees het!
Dit spyt my om verder te rapporteer dat toe ek daar bewegingloos op die stene en in pyn gelê het ek toe die tou gelos het want ek kon glad nie beweeg nie. Weet u hoe dit voel om met soveel pyn te lê en nie te kan beweeg nie en te sien hoe ´n drom sonder ´n boom in op jou afdonder. Dit verklaar my gebreekte linkerbeen en 5 af ribbes.
Ek hoop hierdie klaar van die onduideilikhede op en dat u my eis vir pyn en lyding goedgunstiglik sal oorweeg.
N.S. Die Spesialis het my meegedeel dat ek oor 6 maande weer sal kan gaan werk.
soos vertaal deur C (oorsprong onbekend)
