Liewe dagboek

Edrich se oë vlieg oop. Hy sit op ´n swart stoel in ´n swart kamer in die stil, swart donkerte. Wel, hy kan niks sien nie, so dis hoe hy dit vir himself teken in sy kop.
Hy sit regop. Rondom hom is alles swart, behalwe vir die blou hamburger in die hoek, wat sy verbeelding so pas opgetoor het.
Hy het al baie aan hamburgers gedink, maar nog nooit een geproe nie, of selfs gesien nie! Vet Elna het altyd van McDonalds se hamburgers gepraat, en Edrich het van haar beskrywing afgelei hoe dit lyk: ´n Ronde stuk perd, met twee broodjies (Wat dit ook al mag wees) bo en onder.
Hy weet wat ´n perd is, want Carien het altyd perdeprentjies vir hom gewys, en gekla dat hulle perde slag vir hamburgers.
Hy dink sy naam is Edrich, want nadat die dogter in die konsentrasiekamp hom so genoem het, het die res ook hom dit genoem, behalwe vir Carien, wat hom sommer net “Dagboek” genoem het. Edrich. Nie Elna, Carien of Johan nie. Edrich…
´n Dagboek se lewe is baie interesant. Jy word nie gebore nie, jy “begin” net eendag. Hy het van ´n ander dagboek gehoor waarom ´n dagboek bestaan. Dis ´n leerskool om vir jou die alfabet, en woorde te leer. Dan, as die dagboek opgeskeur of verbrand is, beweeg jy uit die dagboek uit en word gebore. Jy kan dan niks onthou nie, maar teen die tyd wat jy leer lees, gebeur daar iets in jou brein, en dan begryp jy dit baie makliker. (Mense is andersins te dom, en dit sou eeue geduur het.)
Dit het alles begin met die een in die konsentrasiekamp – Edrich het nooit haar naam geken nie. Sy het haar armsalige lewensverhaal vertel. Toe sy te oud geword het, het sy die dagboek vir haar kleinseun, Johan, gegee.
Dit was Johan wat vir hom meeste dinge vertel het. Hy was klein en het sopas geleer hoe om te skryf. Toe hy die familie dagboek vanaf sy ma oorgeërf het, het hy al sy kennis en ontdekkings in die wêreld daarin geskryf. Dit het soos ´n gewoonte geword, tot Graad sewe, waarna hy besluit het dis kinderagtig en die handboek en vir sy sussie, Elna gegee het.
Vet Elna. Hy het geweet sy was vet, want sy´t die heeltyd geëet en dan gekla almal spot haar. Hy het by haar vir die eerste keer ´n ander mens gesien – sy het foto´s van filmsterre ingeplak, sy Carien (Elna se dogter) het gevrek oor perde en poppe. Sy het vir hom vertel van haar popspelery, en hoe sy haar eie ponie wou hê. Sy het in ´n arm huis gebly, en die droom het nooit gerealiseer nie. Toe sy in graad tien kom, het sy vertel van haar liefde vir Alex, die Eerste-Span kaptein. Maar eendag het Alex haar gespot oor haar draadjies, perde en poppe, en die laaste ding wat Edrich van haar gehoor het was haar afskeidsbrief nadat sy haar pa se geweer gaan steel het. Die dagboek was in ´n asblik gegooi, en gevind deur die nuwe een. Hy weet nog niks van hom of haar nie.
Ewe skielik word die swart uitgewis, en ´n wit skerm verskyn voor hom.
Woorde begin daarop vorm.
“Louize Jansen” word daar in perfekte skrif geskryf. Bo dit vorm daar ´n sirkel, met eiervormige vorms om dit. Baie vinnig sien hy die blommetjie wat vorm.
Ag nee, dink hy. Nog so perd-pop-tipe. Hoekom kan ek nie weer iemand soos Johan kry nie?
Die voorblad word omgeblaai en sy begin skryf.
Liefste dagboek
Nie al weer nie, dink Edrich. Die res volg ´n rukkie daarna

Is dit okei as ek jou Barbie noem?
Dis my gunstelling pop, en, ummm,
Ek is nou agt jaar oud, en in gr 2.
Ek het gister verjar, en toe koop mamie vir jou, Barbie.

Edrich sug.
Ek hou baje van pope, en, um ek bly in ´n groot Hys.

Mens kan aan haar spelling sien sy is nog klein, dink Edrich.

My jufrou is baie oulik. my jifrou is jifrou De Myer. En sy hou van my ook. ek hou van wiskunde, musiek en puose. in puose speel ek en my maaikie Barbie pop.

Yipee, dink Edrich

Maar dan kom ou stinkerige Abrie en samp ons om!

Goed vir hom, dink Edrich.
En so het dit aangehou, dag vir dag.

* * *

Stinkerige Abrie het baie vinnig net Abrie geword. Toe okei Abrie, Cool Abrie, Mooi Abrie en in graad agt, Aantreklike Abrie.
Edrich sug. Hy het nou al drie keer die affêre raakgesien, en as sy soos die ander is, gaan sy vinnig begin kla dat hy nie in haar belangstel nie. ´n Groot wit lig verskyn op die muur. Letters vorm netjies op die lyntjies, langs die blommetjies en wolkies.

Liewe Barbie.
Natasha het nou al sedert graad sewe geen vriende nie. Ek het haar so jammer gekry vandag, so alleen in die agterkant van die klas. Sy doen niks en as meneer Fourie sê ons mag saggies gesels, sit sy alleen en doodstil sonder om met iemand te praat. Shame.

Gelukkig bewonder sy nie weer vir wonderlike Abrie nie, dink Edrich. Ek kan hom nou al van ´n kilometer af herken, danksy haar beskrywings.

O ja! Ek het vir vandag vir Abrie ´n koeldrank verkoop by die snoepie nadat hy gehardloop het. En toe hy vir my die geld aangee, toe raak sy hand aan myne!

Edrich kan net aan haar patetiese glimlag dink terwyl sy die gebeurtenis terug speel deur haar gedagtes. Sagte, ronde lyne vorm ´n hartjie op die papier. Die lyne speel nog op die papier, dan beweeg dit af en teken ´n gesiggie.

´n Vloed van kleure spring voor hom in. Al die swart, die wit skerm met woorde het verdwyn, en plek gemaak vir ´n wêreld van kleur en ruimte. Hy kyk op na ´n pen wat skryf, en sien vir Louize wat in ´n kleurvolle kamer sit.
Hy kan dit nie glo nie! Hy kan sien! Alles danksy ´n gesiggie wat sy geteken het op die papier!
Vir jare het hy in net donker swart geleef, en nou, kan hy sien! ´n Nuwe wêreld het sopas voor hom oopgemaak. Dit voel asof hy nou alles in die lewe ontvang het!
Hy probeer terugkeer na die swart kamer. Ewe skielik sit hy weer met die wit skerm aan sy regterkant, en ´n skerm vol kleur uit die tekening se oë. Louize teken verder. Edrich voel lewe aan sy regterkant. Dan sy linkerkant, en baie vinnig sy hele liggaam!
Hy probeer van sy swart stoel opstaan. Hy kan! Hy loop na die wit skerm wat die papier voorstel, en vryf sy hand oor die mannetjie wat sopas vir hom ´n liggaam gegee het. Dan sien Edrich die prentjie van ´n penneblikkie! Dié een wat op die regterhoek onder op elke bladsy is. Hy vat saggies daaraan en haal ´n pen uit. Dis ´n regte pen!
Hy haal die doppie af en trek ´n lyn oor die papier. Die ink sak in en dit vorm ´n sagte, dikkerige, blou lyn.
Dan sien hy die skêr in die penneblikkie.
As Louize op daardie oomblik na die skerp, lelike glimlag op sy gesig kon kyk, dan sou sy besef dat die verskriklike dinge wat met haar sou gebeur haar dagboek se skuld sou wees.

* * *

“LIEWE DAGBOEK” NOU BEKEND AS DIE MALSTE SLUIPMOORDENAAR TER WêRELD!
PRETORIA
Geskiedenis sou van die dag vertel wat die FBI hulle grootste smeer-storie nòg gevind het – ´n Reeks aanvalle van regoor die wêreld – Louize Jansen(14), Elna van Niekerk (55) en Johan de Jager (85). By elke slagoffer is ´n gedig gevind – almal van ene Edrich, of, soos hy sê, beter geken as Liewe Dagboek. ´n Soortgelyke gedig is gevind in die graf van Maggie de Jager, (Johan se gewese ouma, en Elna se ouma grootjie) nadat haar graf oopgegrawe is en sy vyf keer in die bors gesteek is met ´n skêr. Al die slagoffers is met ´n skêr vermoor: gesteek of hulle nekke is oop gesny. Net Louize Jansen het die aanval oorleef, nadat sy twee keer gesteek was en toe flou geval het. Sy sê dat sy in haar dagboek wou skryf, maar van haar woorde soos “Barbie” (Die dagboek se troetelnaam) was doodgekrap. Die volgende bladsy was uitgesny, en ewe skielik het sy net ´n pyn in haar rug gevoel, en daarna kon sy niks onthou nie.
Een kenmerk van die gedigte, was aanhalings uit elkeen van die slagoffers se kinderjare dagboeke.
Polisie is nog steeds opsoek na die moordenaar, maar sekere Suid-Afrikaners reken hy is terug na die dagboek vanwaar hulle reken hy gekom het.

* * *

Wel, wel wel.
Kyk net wat het ons hier –
´n bottel vol plesier!
Kinderjare – poppe, perde!
Daardie lewe – nou in skerwe!

Dae sonder ophou!
Vir my – nagte sonder ophou.
Jy kon praat en praat,
en ek was gevul met kwaad!

Die klomp irriterende woorde
liefde, vriendskap, stories van alle soorte!
Ek daardeur ly
nou- is dit jy!

Ek hoop jy leef nou lekker
wag – ek vergeet, MY lewe is nou lekker!
Ek is nou klaar met jou, domme Carien
EK, gaan jou gellukig nooit weer sien.

Edrich
(Of liewerste, Liewe Dagboek)

* * *

Edrich se oë vlieg oop. Hy kyk vas in iets wat lyk soos teëls. Ewe skielik voel hy ´n verskriklike gewig op sy rug. Van links af hoor hy ´n stem.
“Strafkamp vir mislukte dagboeke.
Welkom, by die lewe van ´n stoel.

skrywer: Jurgens de Lange

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar