deur Elize Ehlers

Daar is drie aasvoëls in ’n groot boom voor die verlate kasteel met sy torinkies en verskuilde kamers waarvan net Jakop weet. Die buitemure is toegegroei met rankplante. Dit skep byna die indruk dat die kasteel deel is van die oorgroeide bosse en bome wat die kasteel omring. Die aasvoëls sirkel laag om die kasteel en gaan sit weer in die boom waar hulle luidkeels skree-kras – ongeduldig … In die verte tjank ’n jakkals.

Jakop grinnik wreed. Die venster skreeu-kraak hard toe hy dit met geweld oopgooi. Hy skree met ’n waansinnige lag: “Moenie my aanjaag nie, hierdie dinge neem tyd en ek wil elke oomblik geniet!”

’n Bloedstollende gil weergalm! Dit maak die aasvoëls rasend opgewonde; hulle flap hul vlerke en wip met kwylende bekke van tak tot tak. Hulle is honger – Jakop het hulle lanklaas gevoer, want hy was vir ’n geruime tyd weg gewees. Hy klap die venster ongeduldig toe en stap giggelend na die man wat vasgebind is aan die operasietafel. Instrumente blink in ’n ovaal stainless steel-bakkie. Daar is ’n emmer waarin die bloed stadig afdrup.


Sanrie het Anise net betyds omgepraat om saam met haar ’n breek te neem, anders sou sy ineengestort het. Hulle staar in stilte na die hoë golwe wat met geweld tuimel en val. Die wit skuim skiet hoog in die lug as dit die rotse tref. Anise se gemoed vind aanklank by die ruwe golwe. Haar gedagtes dwaal na haar man, wat ná ’n beroerte al twee maande bedlêend is. Tot nou toe het sy toegegee aan sy onredelike eise. Hy het daarop aangedring dat sy hom self versorg. Sy sidder as sy daaraan dink wat sy reaksie sou wees as hy geweet het van die huishulp wat haar help met die spesiale dieet wat hy moes volg. Hy was nooit ’n maklike man om mee oor die weg te kom nie, maar in die laaste tyd het hy in ’n tiran verander. Sy verwyte maal nog steeds deur haar suwwe brein toe sy hom meegedeel het dat sy vir ’n rukkie weggaan. Sy het sy bedorwe selfsug vir die eerste keer geïgnoreer en ’n verpleër aangestel.

Voor sy beroerte het hy dikwels op ‘sakereise’ gegaan. Hy het haar nooit ingelig waarheen hy reis nie en het haar ten strengste verbied om hom te skakel. Wat Anise nie weet nie, is dat sy ongeduld spruit uit frustrasie omdat dit nie meer vir hom moontlik was om met sy duiwelsplanne voort te gaan nie. Sy woede gee hom bomenslike krag om te herstel. Hy loop al lankal, sonder Anise of die dokter se medewete.

Anise is weer tuis. Die huis is doodstil. Sy loer by die kombuis in, maar die huishulp is nie daar nie. Die verpleër en haar man is ook weg. Sy kyk verwonderd na die rolstoel wat agtergebly het.

Anise vind ’n briefie op haar bedkassie: “My Liefling, vergewe my asseblief dat ek die lewe vir jou so moeilik gemaak het. As jy my regtig lief het, sal jy na my toe kom. Ek wag vir jou. Jakop.” Onderaan is die adres van die kasteel …

Nadat Jakop die verpleër en Anise se verminkte liggame begrawe het, neem hy sy eie lewe.

Die aasvoëls kom nie meer nie …

Lewer kommentaar

Leave a Reply