Dis boring op varsity, moer boring. Anton trek sy vodde tekkies aan, sit die CD-speler af, gryp sy sleutels en stap kar toe. Hy weier om oor te gee aan die depro wat dreig-dreig om hom te pak. Vanaand gaan hy jol en te hel met die res.Vroeër daardie aand het Anton ´n groot besluit geneem. Ja, sure, hy weet hy moet die pille drink, maar hy gaan dit vir een week los en kyk wat gebeur. Die psigiater het hom aan die begin van die jaar ´n moerse speech gegee, maar dis iets wat hy ´n go moet gee. Destyds het hy, soos gewoonlik weer een aand gesuip geraak en iets het gesnap. Hy het in sy MG gespring en is Durban toe met sy pa se kredietkaart. ´n Week se paarties voor die polisie hom opgepik het en hy is met staatsvervoer terug Kaapstad toe. Eindelose preke en duisend liter trane later is hy toe opgeneem in die hospitaal. Fruit Cake Central. Jip, ´n psigiatriese hospitaal my ou. Lekker koekoes.
Die psigiater, ´n nice ou omie met die standaard bles en bril, het hom laat sit in die stoel oorkant die tafel. Hy het eintlik ´n major gat gevoel in sy T-shirt, PT broek en kaalvoete.
"Anton, na die twee weke se evaluasie is ek oortuig daarvan jy ly aan Bipolere Gemoedsteuring. Dis ´n genetiese siekte wat veroorsaak dat jy uiterste gemoedstoestande ervaar, soos jy self sal weet. Met hierdie siekte, want dis ´n siekte soos diabetes, het die antidepressante wat jy die afgelope ruk gebruik het veroorsaak dat jy ´n ander gemoedstoestand, een wat ons noem ´n hipomaniese fase, ingegaan het. Die hipomaniese toestand het veroorsaak dat jy so onverantwoordelik opgetree het, en dit het ook bygedra tot jou ineenstorting ´n paar dae later."
"In hierdie stadium is daar geen medikasie wat Bipolere Steuring kan genees nie, maar ons kan sekere gemoedstabiliseerders gebruik om te verhoed dat jy besonder depressief raak, of hipomanies. Jy moet asseblief onder geen omstandighede die medikasie staak nie, selfs al voel jy gesond."
Anton sug en trek die MG se deur agter hom toe. Hy is gatvol vir al hierdie stront. Na sy hospitalisasie is hy huis toe gestuur – die een hand vol pille en die ander vol brosjures oor sy kamstige siekte. Hierdie brosjures het hom onder andere vertel dat daar van die wereld se mees begaafde mense aan die siekte gely het. Hy sweer hulle is net besig om hom binne die mould van "normaal" te hou – geen nuwe Mozarts en Hemingways word in hierdie wêreld van happy pille toegelaat nie.
Anyway, vanaand vergeet hy en konsentreer op belangriker dinge. Bier is belangrik. Girls is belangrik. Woensdag se privaatregtoets sal Dinsdag belangrik word. Sy proffie-pa sê mos hy moet prioretiseer my kind. Sy ma sê niks nie – sy is al meer as ´n jaar net missing. Seker gatvol geprioretiseer. Natuurlik haar gene.
By die Sports Bar in die Waterfront skuif hy langs die brunet wat alleen by die toonbank sit, in.
"Lets be honest" grinnik hy "dit lyk terrible as jy alleen sit en dit sal terrible lyk as ek alleen sit. Wat sê jy ek sit hier langs jou – niemand sal dink jy soek ´n date nie en die ouens los jou uit. O ja, ek’s Anton."
Verstommend genoeg glimlag sy en vee haar donkerbruin hare uit haar oë. "Maar wat kry jy uit die deal?"
"Wat kry ek? Ek red jou. Ridder op die wit perd en al daai stuff. En niemand dink ek is ´n dronk of weird pervert nie."
Haar klokhelder lag weerklink in sy ore en sy vat ´n sluk van haar bier, maar hou hom in die oog. Anton wonder soms waar hy die selfvertroue vandaan kry. Hy is normaalweg maar skamerig en het al gebloos as sy sussie hom soengroet, maar hierdie is alles net ´n game en hy speel maar net volgens die reëls. Hy weet egter wanneer ´n girl nie in sy klas is nie, nie eers amper nie.
Na ´n paar biere vertel sy dat sy eintlik op pad is om ´n movie te gaan kyk, wil hy nie saamgaan nie? A Beautiful Mind. Hy weet nie of dit ´n haar manier is om van hom ontslae te raak nie, maar besluit om in elk geval saam te karring, teen sy beterwete in.
Hy huil homself simpel in die fliek, ´n feit wat haar skynbaar meer aantrek as enigiets anders, en hy maak ´n mental note daarvan om hierdie wapen meer te gebruik. Toe hulle by die teater uitstap, loop hulle in ´n groep van sy klasmaats vas.
"Hei Anton, ons gaan ´n paar hake maak by Roxy’s, kom jy en jou date saam?"
Amanda, want dis haar naam, neem die uitnodiging namens hulle aan en fluister in sy oor "Ons kan met jou kar ry en myne net later kom optel". Na die nodige oeee’s en aaah’s oor sy klassieke MG, pak hulle Roxy’s se voorraad rooiwyn met ´n krag. In die geselskap is Anton net bewus van haar, die gesprek rondom hulle agtergrondgeluide. Nadat die res gewaai het, vertel sy Anton van haarself. Hy neem egter niks in nie, staar slegs na haar vol lippe en die glinstering van haar perfekte tande in die kerslig.
Toe hy haar die eerste keer soen, draai sy nie haar kop weg nie en hy beheer sy asemhaling met moeite. Die plek is al leeg en die suur waitress moet hom op sy skouer tik om sy aandag te kry. Sy vra hulle om te gaan, hulle wil toemaak.
Anton neem haar tot by haar kar en volg haar dan tot by haar woonstel iewers in Mowbray. Op pad het hy besluit dat sy haar dalk nou reeds bedink het, en hy besluit om voet in die wind te slaan voor sy hom met allerlei verskonings probeer wegkry.
"Luister Amanda, dit was great. Dis al laat en ek dink ons moet …"
Sy kyk af. "Ek verstaan. Kom drink gou koffie, ons het altwee te veel gedrink en jy kan nie so huis toe bestuur nie."
Hy maak homself tuis op die rusbank terwyl sy in die kombuis doenig raak. Die lig gaan af en hy kyk op. Amanda staan voor hom, met net ´n geel deurtrekker aan. Sy wys na die kaal figuur agter haar. "Dis my vriendin Karla – sy vra of jy sal omgee as sy kyk"
Toe die MG met skreeuende bande om die eerste hoek gaan, weet hy dat hy nooit die uitdrukking op sy ma se gesig sal vergeet toe sy sien dis haar seun wat daar op die rusbank sit nie.
skrywer:Anoniem
