Oom Hansie se KK by die KKNK

Oom Hansie maak of hy nie die gevloek hoor nie en trek die ou Peugeot bakkie behendig by die parkeerplek in. Met die afskakel haal hy sy valstande uit en druk dit in sy kakiehemp se bosak."Hehehehe" lag die ou by homself "as die simpel swerkater dink ek gaan nog ´n keer om die blok ry, maak hy ´n groot fout!"

Die man wat by die Pajero uitgespring het, storm op Oom Hansie af en begin bulder by die venster: "Verskoon tog meneer, maar ek staan al ´n geruime tydjie en wag om ´n plekkie hier te kry. Het meneer nie gesien my flikkerlig is aan nie?"

Oom Hansie kyk op met sy jammersaligste uitdrukking: "Ag neef, ek het mos suiker enne ek voel juis nou so bewerig, ek dink ek kry ´n aanval! Help my tog net gou uit die bakkie. Kom Vlekkie."

Die Oom gryp die kruk wat Tant Willa laas in die bakkie vergeet het toe hy haar hospitaal toe gevat het, en sukkel dramaties tot op die sypaadjie. Hy slaan sy blik ewe teatraal op na die blonde vroutjie en kindertjies wat grootoog vanuit die Pajero die petalje aanskou. Selfs Vlekkie raak vasgevang in die oomblik en sluip met hangore tussen almal se bene deur. Die man help hier en ondersteun daar en stap dan maar weer terug na die Pajero nadat hy ongesiens ´n opgevoude honderdrandnoot in die Oom se hand gedruk het.

Dis Oom Hansie se derde dag hier by die Kunstefees in Oudtshoorn (ook bekend as die GKVR – grootste kitsh vlooimark in die Republiek) en dis hier waar hy en Vlekkie soos ou bekendes begroet word by die tente waar gratis eetgoed en komplimentere drinkgoed sporadies hul opwagting maak. Hy verduur maar die sogenaamde kunstenaars – waar al die mense uitkruip weet nugter alleen. Dit lyk vir die Oom asof elke bottelblond en elke tweede two-tone kakiehemp ´n beurt agter die mikrofoon kry.

"Ja Vlekkie, Die Fris Weskusklong word afgewissel deur die Blonde Uithanglong, hehehehehe"

Hy het selfs al in Anton Goosen vasgeloop, maar Anton het hom gelukkig nie raakgesien nie, en Oom Hansie kon ongesiens wegsluip voordat daar weer so ´n herrie losbars soos laaskeer. Die arme man lyk juis of hy ´n heel paar ekstra myl gedoen het sedert daai keer. Die enigste kunstenaar by hierdie fees van wie die Oom werklik hou, is Piet Botha. Hoewel Oom Hansie nie ´n koekin clue het hoe die man sing nie, het hy een middag regtig lekker gesels met die mannetjie. Interessante kerel.

By die RSG tent wuif Oom Hansie vir Johan Botha daar in die ateljee voordat hy sitplek soek tussen ´n spul ordentlike middeljariges wat op die oorgetrekte strooibale sit. Hy strek oor die tafeltjie om homself voor te stel en stamp met die ander hand sy valstande in die volste glas bier. Na die ergste gilletjies en vorskonings bedaar het, bied Oom Hansie galant aan om maar die biertjie te drink, ten einde die tande in die hande te kry.

Op daardie oomblik skrou iemand daar uit die een hoek: "Daar is hy, kom hier laat ek jou donner!" Toe die Oom omkyk sien hy net hoe Anton Goosen oor mense klim om by hom uit te kom. Voordat Oom Hansie kan vlug, stamp Anton Goosen ´n tafel met drankies om. Gelukkig vir almal is niemand beseer nie. Ongelukkig vir Anton is dit Steve Hofmeyr se tafel.

"Hehehehe" grinnik Oom Hansie terwyl hy met sy plestiekglas bier tussen die mense verdwyn "hierso ou Vlekkie, kom ons vier hierdie gewyde oomblik met ´n stukkie volstruisbiltong."

skrywer: Bert van der Walt

Lewer kommentaar

Leave a Reply