Geloof, hoop en liefde bly; en die belangrikste die liefde. Dis die liefde wat saakmaak, niks anders nie. Ja, slegs die eenvoud van liefwees, iemand om voor om te gee, vas te hou, iemand se liggaamshitte te voel, te beleef. Die liefde is blind, my kind. Dit trek ‘n lap oor jou oge, sodat jy nie die waarheid kan sien nie. Die waarheid, die hele storie toegevou met goed en kwaad; dit wat die lewe na jou toe bring in die dag-tot-dag bestaan.
Maar wanneer die liefde kwyn in die stilte, die stilte wat te onbeheerbaar groot word in hierdie koue wêreld, van beton en neon ligte. Die nood om te oorleef knyp jou in die hart, pla jou in die nag.
Dan besluit jy roekeloos, dat die lewe voorheen baie meer beheersd was, en goed was – beter was vir jou. Dan vlieg jy uit sonder enige twyfel, sonder enige duidelike beredening oor die gevolg van jou impulsiewe aksies.
Die bome vlieg verby, die wit gebroke strepe word een, die kraglyn spuit ‘n boog van een stut na die ander, en begin onbeheersd sy ritme verbreek.
Jou oë flits, jy dink terug aan die dae wat was, die dae so lank verby, so ver in die geskiedenis heen. Jy voel ‘n traan wat sy weg vind oor jou wang, en jy voel hoe die aarde hom nader roep, nader, nader na die grond..en jy voel hoe sy gewig net vele meer soos hy aantrek soos ‘n magneet.
Basta, basta, sê jy; diep in die donker van jou hart. In die donker voel jy hoe jou aksies die aarde op sy rug laat lê het. Wat jou eens veilige lewe kom reuneer het met sy vrotvisklap in jou gesig. Maar jy beur voort in jou selfstandigheid, dis tog jy wat die brawe keuse gemaak het! Hoe dan anders? Hoe kan jy treur, as niemand jou gelos het nie, as jy als geinisieer het?
Dan sit jy in jou kamer, en kyk na die gesig wat terugstaar na jou met soveel seer in haar oë. Jy kan sien haar hart is verpletter, jy kan sien sy is alleen..en dan voel jy die koue teen jou lyf – die grootheid van die alleenheid is onvertelbaar, soos ‘n storie waaraan die teater geen goed doen nie, dit breek sy storielyn, dit breek sy moraal, dit breek sy kern; dit breek sy KERN.
En jy wonder wat as als nie anders was, en jy weer voor die kansel sou staan – en van daar die pad vat met ‘n voorbereide idee, van wat die lewe vereis?
Sou dit nie dan beter wees? Beter as om nou vir hierdie gebroke mens te kyk? Beter as die alleenheid? Beter as die stilte wat jou hart met ‘n mes deurboor, en al die verlore herinneringe gaan opsoek; en een vir een aan jou kom voorlees – om jou diep binne bewus te maak van dit wat eens was? Sou dit soveel beter wees? Sou dit – BETER WEES?
Dan word jy weggevoer, vêr, vêr hiervandaan; na ander kant die maan, daar waar die wind nie gaan lê, maar nooit jou kom pla. Waar die son heeldag skyn, in ‘n ligblou maanlig. Waar die wolke soos mis deur die woude toer, vir dae aaneen. Daar waar die sterre so naby is dat jy elkeen met jou vinger kan raak, en kan wegskiet na die horison.. en dan word jy rustig, en die oomblik so teer, voel as of dit aanhou vir ‘n ewigheid en ‘n dag. Vir ‘n EWIGHEID en ‘n DAG!
Jy wonder waar hierdie rustigheid vandaan kom, wie het dit vir jou gestuur, wie het dit so bestem? Wat kan jou so gerusstel, so vredevol maak? Dan besef jy jy is nie meer tussen die seer van hierdie wêreld nie, dis asof jy sweef soos ‘n arend, bo die wolke uit – en jy sien die son, ‘n helder lig wat jou kom omhels, en jou kom vashou soos jy nog nooit kon beleef nie – en jy weet verseker jy is veilig. Daar is niks te vrees nie, niks te bekommer nie. En jy word bewus van ‘n hoër mag, ‘n groter wese, groter intelligensie.
Dis soos ‘n battery wat herlaai word – jou selle word een vir een verfris, terwyl jy aan die voete sit van die Heilige, die Almagtige; want sien hier by die Here vind almal hul vreugde, hul vrede..en die soetste liefde.
Jy is vasberaad dat jy dit gaan maak werk, of dit nou lank of moeilik of maklik of seer of swaar gaan wees; jy het Iets wat jou aanspoor, iets wat jou laat weet jy is baie belangrik en jou emosies maak saak – en jy kan ‘n verskil maak, ‘n verskil in hierdie gebroke wêreld, want jy het die allerhoogste vrede beleef, en jy ken die pad, jy kan die aanwysings vir soveel ander gee. Jou woorde kan die harte raak van mense eens vergete, karakters lank verlore.
Kom en vat my hand, en ons stap saam na die lig, wat jou omhels vir ‘n ewigheid en ‘n dag; sodat jy ook kan besef, dit is nie jou dade wat jou na die ewigheid stuur nie, dit is nie jou tekortkominge wat jou sleg maak nie, maar dit is die bloed, die kosbare bloed van die Lam, gekruisig, maar wat lewe, dis Hy wat jou sal verlos dat jy ook kan wees saam met Hom – verhoog en verhewe!
AMEN.
skrywer: Bee
