Boerpot 7

Die volgende oggend word ons uit die bed uit gejaag deur die snaaksste geluide. Dit klink soos iemand wat op iets hammer. Jani is bang en sy sê ek moet gou gaan loer. Toe ek my kop by die deur uitsteek toe val dit my by. Dit is haar familie wat mos hier oornag het. Hulle kinders het die hele huis op hol. Ek groet hulle maar vriendelik omdat ek besef hulle kan mos nie daarvoor help dat hulle nie so opgevoed is nie. Ek vra wat so raas. Hulle vertel my toe dat hulle pa (oom Ouboet) besig is om aan die Ford te werk. Op daardie moment kom Gertina by my aan. Sy sê dat sy bly is dat ek op is want sy wil glo iets by die winkel gaan koop en dat ek haar gou moet vat. Sy het nie gesê wat dit is nie, maar ek hoop dis ‘n stel tande.

In die kamer sê ek vir Jani dat ek nie hoop haar familie wil te lank bly nie. Ek wil nie reguit vir haar sê dat ek dink hulle is agterlik nie. As iemand ons saam met sulke mense sien sal dit ‘n swak indruk van ons skep. Ek bedoel ons beweeg nie in daardie klas nie. Ons is heeltemal te wel-af vir hulle. Jani lag net. Sy sê dat ek nie moet dink dit sal binnekort gebeur nie. Sy sê sy ken hulle. As hulle motor op ‘n spesifieke plek breek, dan bly hulle daar. Ek vra toe aan haar of hulle nie verpligtinge het om na te kom nie, soos byvoorbeeld werk. Hulle moet tog by die werk en skool uitkom. Jani sê vir my dat hulle werkloos is. Sy beskou hulle as boemelaars.

Buite vra ek aan Ouboet of ek nie ‘n handjie kan bysit met iets nie. Dit was maar net om die spul van ons rûe af te haal. Dit is net spanners en olie waar jy kyk. Ek hoop regtig nie dat hy ja sê nie. Ek is nie eintlik iemand vir olie, pistons en ringe nie. In so tipiese boere stem sê hy toe, dat al hoe ek kan help is om gou vir Gertina winkels toe te neem. Sjoe nou is ek darem verlig. Ek sê toe aan die omie dat ek dit met graagte sal doen. Binne in die huis jaag ek die twee vrouens aan om klaar te maak vir die dorp. Teen die tyd wat ons terugkeer sal Ouboet seker al die skedonk reg hê. As ek dalk saam met Jani en Gertina in die dorp moet rond beweeg, sal ek maar so vêr moontlik van Gertina af moet beweeg. Dit is nou sodat mense my nie met haar moet assosieer nie.

In die dorp hou ek maar my afstand. Tant Gertina pluk my nader en druk my. Sy sê dat ek so baie vir haar beteken. Ek weet dat dit onsin is, omdat sy my skaars ken. Ons gaan by Edgars in. Ek wonder wat sy hier wil doen. Die verkoopsman by Edgars vermy haar en vra onmiddellik vir my en Jani of hy ons kan help. Hy ken ons al, en weet dat sy brood gebotter is by ons. Ek sê toe aan hom dat ons eintlik saam met die vrou voor ons is. Hy moet haar maar help. Wanneer hy na haar kyk val sy gesigsuitdrukking. Sy pak baie klere, juwele en reukweerders in haar mandjie. Ek dog dan hulle is arm. Ek wonder net waar sy al die geld gaan kry om vir al daardie goed te kan betaal. Ek berus my toe daarby dat sy seker weet wat sy kan bekostig en wat nie. Ek en Jani koop sommer vir ons ook heelwat klere. Die inkopies is toe nie so bad nie. Tant Gertina vermaak ons deur kort-kort ‘n ander stel klere aan te pas en dan vir ons te wys. En mense sê die vere maak nie die voël nie. Kyk hoe goed lyk die tannie nou. Sy lyk byna soos ‘n statige vrou, dis nou behalwe vir daai mond van haar. Gertina huts ons aan en se sy moet nog baie doen. Ons beweeg toe na die betaalpunt toe. By die betaalpunt maak sy seker dat sy eerste is. Die kassier lui al haar artikels. Dit kos ‘n belaglike R3 265. Toe die kassier vir haar die geld vra, krap sy in haar handsak rond. Sy mompel hardop dat sy dit nie kan glo nie. Ek vra aan haar of daar iets fout is. Sy sê dat sy nie kan glo sy het haar beursie tuis vergeet nie. Die kassier lyk half jammer vir Gertina. Jani fluister in my oor dat sy geweet het dit was te goed om waar te wees. Ek wou nog vir haar vra wat sy bedoel, toe Gertina my vra of ek vir haar die geld wil leen. Sy belowe my dat sy my sal terugbetaal. Sonder om te skroom sê ek ja. Die tant Gertina het my nou so lekker in die winkel vermaak dat ek nie eers regtig dink wat gebeur nie. Ek betaal toe maar vir al ons goed. ‘n Aardige bedraggie vir klere as jy my vra. Buite op straat sê Gertina dat sy by Pick n Pay wil ingaan. Ek vra toe aan haar of sy nie maar eers haar beursie wil gaan haal nie. Sy sê dat ons nie te veel tyd moet mors nie, want sy en Ouboet moet nog Boksburg toe. Die ou vrou kan nogal sense praat. Hoe gouer ek haar by al haar draaie kan laat uitkom, hoe beter vir my en Jani. By die winkel lyk dit amper of sy twee maande se inkopies doen. Ek betaal sonder om sleg te voel, want ek weet ons gaan nou terug huis toe waar Ouboet en die kinders seker al reg is om te vertrek. Ek hoop net Gertina het so baie kontant by haar om my terug te betaal. Jani wys vir my in gebare taal dat ek “toe” is. Ek wonder hoekom nou dit.

So paar honderd meter van ons huis af, lui my selfoon. Dit is Ouboet wat my bel van ONS huis foon af. Ek neem toe dadelik aan dat hy seker wonder waar ons is. Ek sê toe vir hom dat ek hoop hy en die kinders is al gepak en in die motor want ons is byna by die huis. My vrou sien aan my gesigsuitdrukking dat ek baie slegte nuus kry. Ouboet sê vir my dat hy al vroeg opgegee het met die Ford. Hy het glo seëls nodig gehad, maar in dieselfde asem sê hy weer dat hy dink die ding moet geboor word. Om alles te kroon, sleep die ou omie se tong ook nog.

1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot

skrywer: Charl Viljoen

Charl Viljoen
Charl Viljoen

Lewer kommentaar

Leave a Reply