Boerpot 6

Na die avontuurtjie met ons motor voel mens so of iets missing is. Ek weet ook nie regtig hoekom nie, want ek wou juis van die Merc ontslae geraak het, en ‘n Volvo aangeskaf het. Rubin is besig om die laaste dingetjies agter mekaar te kry vir die kuiertjie vanaand. Hy is nogal ‘n agtermekaar kêrel. As julle verstaan wat ek bedoel. Ons gaan vanaand die hele spul familie op hulle hande dra soos nooit tevore nie. Dan gaan almal kan sê dat hulle kan sien dat ons welaf is.

Daar trek ‘n kapoen kleur Ford Cortina by ons drive way in. Dis van die familie. Hulle is van Yojani (sy hou nie daarvan as ek haar Yojani noem nie. Nou noem ons haar maar Jani) se kant van die familie. Ek sit ‘n vroom bakkies op en groet almal baie vriendelik. Ek kan duidelik sien dat Jani baie voorgee. Sy praat met ‘n singende stem. Dit lyk behoorlik of sy dink dat die son uit haar gat skyn. Ek like dit, want sy wys dat ons nie meer as average beskou kan word nie. Jani stel my voor aan haar oom Ouboet en tant Gertina. As jy my vra lyk hulle maar na die agterlike tipe. Hulle vier seuns spring almal by die voordeure van die motor uit. Die agterdeure kan nie oopmaak nie. Die kinders groet nie eers nie. Onmiddellik hardloop hulle die huis binne. Ek meld aan tant Gertina dat sy haar kinders moet waarsku teen die gladde teëls in die huis. Toe sy met my praat merk ek op dat sy nie tande in haar mond het nie. Sy sê dat sy vier tawwe bulletjies het en dat ek my nie moet kwel oor hulle nie. Sy sê ook dat hulle, hulle self sal besig hou met iets. Dit is my probleem. Ek hoop net hulle hou hulle hande van al ons besittings af. Oom Ouboet lyk darem na ‘n goeie ou omie.

Daar stroom nou baie motors by ons in. Ooms en tannies van my kant van die familie wat ek jare laas gesien het. Ek wonder net waar Rubin almal op so kort kennisgewing in die hande gekry het. Beide ons ouers het ook opgedaag. Nou kan hulle darem oorneem met al die familie. Almal van ons het eers buite onder die lapa gekuier maar as gevolg van die weer het ons maar binne toe gepiekel. Junie maande is nie een van jou warmste maande nie. Boonop lyk dit of ons n winter reëntjie wil kry. Ek is eintlik bly dat die weer saamspeel, want nou kan ek die mense impress met al ons luukshede binne in die huis.

Almal gesels deurmekaar en lag lekker saam oor hulle kinderjare ens. Die familie het die kos en verversings baie geniet. Daar is nie meer ‘n krieseltjie oor nie. Ouboet se kinders het behoorlik weggelê aan al die verversings, om nie eers te praat van sy papbek vrou nie. Na gisteraand se storie saam my tjommies is dit lekker om weer in ouer, meer volwasse geselskap te wees. Niemand van die familie drink nie, en almal is goed opgevoed. Almal behalwe twee mense. Oom Ouboet en tant Gertina. Later staan die kuiertjie einde se kant toe. Almal bedank ons vir ons gasvryheid wanneer hulle vertrek. Almal is huis toe behalwe Ouboet en Gertina. Ouboet sê dat hy bly is dat almal nou hulle ry gekry het, sodat hy my kan wys hoe familie moet kuier. Ewe verbaas vra ek hom dan hoe hy nou bedoel . Hy antwoord nie. Al wat hy doen is om hardop na sy oudste seun Sarel te roep. Ek sien dat hy in sy seun se oor iets fluister. Toe hy klaar is daarmee, roep Sarel sy broers nader en sê dat die party nou gaan begin. Die klomp seuns is toe uit by die voordeur. Ek kan my myself nie indink wat hy nou beplan nie.

Na so tydjie keer die kinders terug met ‘n cooler bag en CD`s. Sarel en Buks neem toe sommer oor. Vinnig, vinnig het Sarel my hoëtroustel onder hande en Buks het gaan glase haal in die kombuis. Ouboet sê vir Sarel dat hy met die musiek moet wag en dat hy eers gou n ietsie vir ons moet skink want ons is dors. Ewe onskuldig sê ek toe dat dit nie nodig was om hulle eie koeldrank saam te bring nie. Ek sien dat Jani my sleg uitkyk. Dit was toe al die pad nie koeldrank nie. Jani was nog altyd baie reguit en sê toe sommer dadelik dat ons nie drink nie. Hoe bly is ek nou ek het haar as ‘n vrou gevat, en om te dink ek het begin huiwer net voor ons getroud is. Gertina sê toe dat dit net ‘n paar drankies sal wees. Om nou nie ongeskik te wees met Jani se familie nie, sê ek dat ons dit werklik op ‘n ander geleentheid moet maak wanneer ek nie so moeg is nie. Ouboet sê toe maar dat dit reg is met hom. Ek kan sien dat hy hom vererg het. Hy sê toe aan Gertina dat hulle ook moet huiswaarts keer. Hulle roep toe hulle hele kroos nader om te vertrek.

Ek kan nie help om te sien dat die seuns broeksakke nou baie vol is nie. Ek wonder wat hulle daarin het. Maar in elk geval ek is net baie bly die spulletjie gaan nou huis toe. Ouboet skud my hand soos ‘n regte boer dit sal doen. En sy vrou .. Wel, kom ek stel dit so. So ‘n slap bek soen doen dit net nie vir my nie. Ek en Jani staan buite en bekyk hoe hulle in die Ford klim. Ek dink by myself dat ek hulle nie gou weer wil sien nie. Almal van hulle is in die motor. Ek kan nie wag om die geluid van daai Ford se enjin te hoor nie. Oom Ouboet draai die sleutel. Net ‘n vinnige paar ploef, ploefs en bolle rook maar die enjin is so dood soos ‘n mossie. Ouboet probeer weer en weer. Gertina en die kinders klim uit, om die krok aan die brand te stoot. Ek en Jani help. Enige iets om hulle so gou as moontlik daar weg te kry. Naderhand is ons al doodmoeg maar die ding wil nie vat nie. Ek wou nog sê dat ek sal reël dat iemand hulle huis toe neem, toe Ouboet sommer al klaar voorstel dat hulle maar die nag hier moet oorslaap. Gertina se toe dat Ouboet sommer môre oggend die Ford kan fix. Sy vertel ons ook dat hy gereeld aan die kar werk en dat hy sommer binne ‘n japtrap die probleem sal oplos. Ons het nog skaars klaar gepraat toe spring sy jongste seuntjie by die motor venster uit en skreeu dat hy die beste kamer in die kasteel gaan vat. Ouboet skud net sy kop en sê: Die laaities van my darem.

1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot

skrywer: Charl Viljoen

Charl Viljoen
Charl Viljoen

Lewer kommentaar

Leave a Reply