By die huis is ek op moedverloor se vlakte. Jani lyk kwaad vir my, Ouboet is besope, die huis is deurmekaar, die agterplaas lyk soos ‘n scrap yard en boonop speel die jongste van sy werpsel om my heen en maak of hy ‘n space ship of iets is wat op my skiet. Dit voel of ek griep kry en nou hierdie drama ook nog. Ek vra toe vir Ouboet en Gertina of hulle my sal verskoon want ek wil net vir Jani help om die klere wat ons gekoop het uit te pak. In die kamer val ek op die bed neer. Wat nou? Ek kan ook nie regtig dink nie, want Jani slaan behoorlik die kaste se deure toe. Sy is moerig. Sy sê vir my dat as ek hulle nie hier kan uitkry nie, dan sit sy die dominee op my, en as dit nie help nie, verwyder sy haarself maar net uit die prentjie. Op daardie oomblik vererg ek my en sê dat dit haar familie is en dat sy ‘n plan met hulle moet maak. Ons het vir ‘n tydjie lank geredekabel toe Sarel aan die kamerdeur klop. Ons sit albei vroom gesigte op en sê dat hy maar kan binnekom. Hy sê vir ons dat sy moeder vannaand vir ons sal voedsel voorberei en dat ons so sesuur aan die etenstafel moet wees. Toe hy uit is, sê ek aan Jani dat sy plan moet maak en dat ek vir my vriende gaan kuier.
Toe ek by Martin se huis is voel dit of ek weer terug is in die samelewing. Hy sê vir my dat hy sien dat die geld nou na my kop toe gaan want ek hou my maar skaars. Die eerste keer in ‘n lang tyd kry ek weer ‘n kans om lekker met iemand te gesels oor alles wat my pla. Ek het nooit kon dink dat ek soveel hel sal deurmaak as ek geld moet wen nie. Mens hoor nie regtig wat met mense gebeur na hulle gewen het nie. Ek vertel toe vir Martin van die probleem wat ek en Jani het met haar familie. Martin glimlag en sê dat hy n plan het om hulle uit ons huis uit te kry. Hy sê dat mens die storie reg moet benader. Hy verduidelik toe dat ek nie met Jani se familie moet werk nie, maar met Jani self. As daar iemand is wat hulle gou uit ons huis kan kry sal dit Jani wees. Ek verstaan ook nie lekker wat hy bedoel nie. Hy sê toe dat ek my vriende moet vra om by my te gaan bly. Ek weet dat Jani nie van al die mense sal hou nie, en sê vir hom dat dit nooit sal werk nie. Hy sê toe dat dit spanning sal veroorsaak. Jani sal my vriende wil uithê en ek sal haar familie wil uithê. Ek sal dan ‘n deal met haar moet maak. Ek sal my vriende uitkry as sy haar familie kan uitkry. Ek sê aan Martin dat die idee goed klink, maar dat ek net wonder watter van my vriende ek moet nooi. Hy se dat ek nie daaroor moet worry nie en dat hy en ‘n paar van sy aardige tjommies vanaand sal kom intrek. Ek voel nou weer lus vir die lewe.
Dit is tweeuur in die middag en ek en ‘n hele klomp tjommies is sak en pak na my huis toe. By my huis vra Jani aan my of dit nou nodig was om my vriende huis toe te bring. Sy sê dat ek weet dat dit nou ‘n ongerieflike tyd is. Martin en die spul buddy’s begin van hulle goed die huis binne dra. Nou lyk Jani verbaas. Sy wou nog vra wat nou aangaan toe ek sommer met graagte aan haar vertel wat nou gebeur. Ek kan sien dat sy weer woedend is. Nou sal sy gou van ouboet-hulle moet ontslae raak. Ouboet en Gertina kom aangedrentel. Hulle wil weet wie al die gaste is. Ek vertel hulle toe dat ‘n paar van my vriende gaan oorslaap vir ‘n tydjie. Ouboet word bly en se iets van hoe meer siele hoe meer vreugde. Gertina meld dat sy bietjie meer kos moet gaan maak. Ouboet en Gertina is bly oor die voorval en sê dat ons ‘n makietie moet hou vir die gaste. Hulle kan maar so bly wees as wat hulle wil. Hulle weet net nie dat hulle vakansie by ons gou kortgeknip gaan word nie. Martin is ook gou om te sê dat hy van ‘n party sal hou. Hy pomp my toe in die ribbes en vra vir geld om te gaan verversings koop. Ek begin self nou wonder of dit ‘n goeie idee was. Ek haal toe maar ‘n paar rand uit. Soos ek Martin ken gaan hy weer sê dat dit te min geld is. Ek maak seker Jani sien my en oorhandig my bankkaart aan hom. Ek fluister my geheime pin kode in sy oor en se hulle kan maar genoeg trek. Ek sien Jani voel onrustig. My plan gaan dalk nog vinniger werk as wat ek gedink het.
Jani beweeg na die kombuis toe om met Gertina te praat. Jani stel toe voor dat ons hulle motor moet invat om te herstel. Sy meld dat ons hulle motor môre kan invat en dat ons sal reël dat hulle vanaand by die huis kan uitkom. Gertina sê dat sy nie dink dit sal moontlik wees nie, aangesien sy weet dat die party tot in die vroeë môre gaan aanhou. Ek gaan staan langs Jani en soen haar op die wang. Ewe sarkasties sê ek toe dat dit nie n probleem sal wees as hulle nog n aandjie hier oornag nie, en dat hier genoeg mense is om mekaar te vermaak. Jani bars uit in trane en loop kamer se kant toe. Gertina maak bewerings dat sy verwag. Sy sê dat sy ook so maklik gehuil het toe sy verwag het. Die dwaas van ‘n vrou, as sy maar net verstaan hoekom Jani so huil.
1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot
skrywer: Charl Viljoen

