Dis net die gewone elke-oggend-drama by my dogter se huis om haar driejarige dogtertjie reg te kry vir skool.
Sy weier om haar tande te borsel en skree soos ‘n maer vark wanneer haar ma haar hare borsel. “Nee Mamma, nie die rooi rokkie nie,” raas sy. Sy staan op haar tone om die pers een beet te kry. “Ek nie honger vir pap nie. Mia báie soet, sy moet ‘n sweetie kry.”
Tussendeur op haar tande byt en mooipraat, probeer my dogter haar aandag aflei: “Die tema by die skool die week is die see! … umm … is daar visse in die see?” “Ja, daar’s báie visse in die see!” antwoord sy met haar ‘I-know-it-all’ gesiggie. “Kom, lig jou armpies, ons moet jou rokkie aankry … umm … is daar wiere in die see?” “Ja, ek hou daarvan as hulle om my bene rondglip!” “Lig jou voet, hou vas aan Mamma se skouer … umm … Is daaaaaar, katte in die see?” “Nee Mammie,” sê sy verontwaardig. “Moenie jou voet so bol nie Mia! Is daar skulpies in die see?” “Ja,” antwoord sy nou heel verveeld.
“Wag, staan tog stil. Moet net gou jou hare bind … sê vir Mamma, is daar honde in die see?” “Ja, daar is báie honde in die see!” “Nee man, ek is sommer laf, daar’s mos nie honde in die see nie?”
“Daar ís honde in die see,” sê sy kwaai. “Daar’s ‘n foto van die seehonde op Ouma se yskas.”
Oor die naweek kom Mia by my kuier. Ek vang haar voor my yskas. Sy staar na die foto van die trop honde wat in die see baljaar. “Die hondjies swem lekker, né?” “Ja,” glimlag sy. “My mamma glo nie in seehonde nie. Sy sê ook daar’s nie monsters in my slaapkamer nie!” Sy skud haar kop links en regs in ongeloof.
“Ouma glo ook nie in monsters nie. Dis net in flieks en stories.” “Net kinners kan monsters sien, nie grootmense nie … daar ís monsters binne-in die muur in my slaapkamer!”
“Nee my liefie, jy verbeel jou.” “Daar ís monsters in my muur, Ouma … maar Mia is nie bang nie … hulle pla my net innie nag omdat hulle soooo hard sing … dan roep ek, “Pappa! Mamma!” Dan kom hulle my haal om by hulle in die groot bed te slapies,” vertel sy, heeltemal te tevrede.
“Ek sien … glo jy in feetjies?” verander ek die onderwerp. “Ja, daar is feetjies, seefeetjies. Hulle swemmmm …” “O, ek het gedink hulle woon in die bome en tussen die blomme en grassies?” “Hulle woon innie see, sal vi Ouma wys.”
“Dis so ‘n mooi dag, kom ons stap sommer nou strand toe.” Sy gooi alles waarmee sy besig is net so neer. Huppel na haar sak en krap rond vir haar Frozen-swemklere, haar Frozen-handdoek en ‘n Frozen-hoed. Vra dat ek sappies in haar Frozen-bottel gooi.
“Eers moet jy die klei en drukkertjies opruim,” skel ek. Alles word sonder teëstribbeling weggepak en dan loop ek en Elsa. Sommer kaalvoet af see toe.
Hand-aan-hand hop ons oor die warm teerpad. Daar kom ‘n te vinnige kar om die draai. Ek voel hoe haar lyfie ruk. Sy lag uit haar maag. “Hoekom lag jy?” vra ek verward. “Mia groot geskrik!”
Ons misgis ons met die duwweltjies op die gras. “Oe, eina! Kry jou voete ook seer … miskien moet ons omdraai en skoene kry?” “Dissie seer nie,” sê sy met haar gesiggie opgefrommel van ongemak.
Daar is nog ‘n teerpad om te kruis en dan sien ons die ‘Access to beach’ bordjie. Sy vryf met haar handjie oor die teken, “Dit sê: Hier is die see.”
Ons loop deur die nou paadjie. Die groen heining aan die kante is vol geel blommetjies. Sy stop sporadies om te kyk en te ruik. Op my eie, besef ek, sou ek dit dalk nie eers raakgesien het nie …
Oor ‘n sandduin, oortrek met wilde vye, sien ons die strand. Dis laaggety en die see het ver teruggetrek. Rotse wat ‘n paar uur tevore onder die water weggesteek was, strek ver uit oor die oseaan. Seevoëls sweef in sirkels. Hulle mik en land en vang vissies in die vlak water. Hulle kraai van genot.
Daar is honderde kristalhelder poele tussen die rotse. Mense bring hulle honde om af te koel. Hulle swem in die poele en rol in die sand en in enigiets wat na vis ruik. Hulle sleep bamboes met hulle bekke en jaag die voëls.
“Daar’s baie seehonde vandag Ouma!”
Ons loop ver. Aanskou die Helderberg wat die kus omlyn. Ek vertel haar waar die naam vandaan kom. “Helder, want dit voel of jy elke boom en plant en klip kan sien. Dit voel of jy daaraan kan raak, né?”
Ons tel, meestal stukkende, skulpies op. Vir Mia is dit steeds mooi. Nes die honde sleep sy ‘n stuk bamboes om ‘n lang spoor agter ons te los. Sy verjaag die brommers. “Julle stout, weg!”
Op ‘n skoon, wit stuk sand rus ons. Drink ons sappies en eet gekerfde biltong. Kriewel ons met ons tone in die warm sand.
Later kom ons by ‘n oop stuk see. Sonstrale weerkaats speels op die wiegende water. “Daar’s goud innie water, Ouma!” “En kristalle!”
Sorgeloos loop ons in. Mia lig stukke wiere uit die water. Sy worstel om die glibberige velle om haar lyf te vou. My bene word ook beplak. Ons sien skole bitter klein vissies. Krappe kielie en knyp ons tone. “Ouch!” Mia glip en gly op ‘n mosbedekte klip. Sy skaterlag.
As of die water ons trek gaan ons dieper en dieper. Ons klim op ‘n rotsberg. My voete kry seer op die skerp klippe. “Kry jou voetjies ook seer? Sal ons maar omdraai?” “Nee, my voetjies kry nie seer nie.”
Ons kom by ‘n groot plat rots. Ons gooi ons handdoeke neer. Gaan lê op ons rug. Eet nog biltong.
Mia trippel rond. Agter die rots sien sy ‘n poel, heeltemal omring in ‘n sandwal. Ons klim af en baljaar op ons eie eiland. Ek sit in die kniediep water. Mia rol rond. “My hare vol sand, Ouma?” “Dis ok, jy kan bad as ons huis toe gaan.”
Sy wil verder inloop. “Ouma dink ons moet omdraai, die gety is aan die opkom en dan gaan ons sukkel om by die strand uit te kom!”
“Nog net tot daaaar, seblief Ouma?” wys sy met ‘n ver uitgestrekte arm. “Goed, maar niks verder nie, né?”
Swoesj! swoesj! sleep ek my regterbeen, met ‘n Mia-apie wat daaraan vasklou, deur die water. Ons klouter uit teen ‘n hoë rots en bo ontdek ons nog ‘n plat oppervlak. Ons rus en eet die oorskiet biltong. Drink ons laaste, nou warm, sap.
Aan die agterkant vorm die rotse ‘n lang, diep sloot. Ons plak ons neer en hang ons bene in die water. Hier sit ons soos Ouma en Oupa op die stoep en kyk uit oor die oseaan. Kyk ons hoe branders met die opkomende gety al kwaaier teen die rotse slaan. Wit skuim vlieg in ons rigting.
Mia tel ‘n klippie op en gooi dit karplaks! in die water. Die koel water spat oor ons warm lywe.
Dan so saam-saam: “Kykie vis … seefeetjies!” maak Mia die sin klaar.
“Wag, hou jou voete stil, moenie hulle bangmaak nie.”
Ons staar na die skool silver visse wat in boë en sirkels in die seewater ronddartel. Hulle oë is omlyn en hulle bekkies is pienk. Dit lyk of hulle lyfies vol blinkers geplak is.
Hulle spog met ragfyn vinne wat skitter in die middagson.
“Dis pragtige visse, né Mia?”
“Dis seefeetjies Ouma!” help sy my reg. “Sien Ouma hulle blink vlerke?”
En dan vat ek seker te lank om te antwoord. Of dalk lees sy my gedagtes.
“Dit IS seefeetjies, Ouma!”
“Hulle het net te veel geëet en dis hoekom hulle so vet is!” verduidelik sy.
Ons maak aanstaltes om na die strand terug te keer Die opkomende gety stoot koue water van die diepsee na die kuslyn. Mia se lippies raak blou, maar sy is hoog in haar noppies.
Ons keer huiswaarts en die duwweltjies wil-wil die keer ‘n probleem wees, maar dan onthou sy dat ons gaan braai. “Ons gaan nou vlamme maak en fun hê!” …
Met haar oë vasgenael op die toweragtige oranje vlamme, herleef Mia die middag se gebeure: “Het vi Ouma gesê daar’s seefeetjies!” spog sy.
En terwyl die son agter die see gaan wegkruip en die skadu’s van die palmboom se takke onaardse patrone oor die grasperk gooi, sit ek nou stilweg en wonder oor die singende monsters in haar slaapkamermuur?
Boohoo!