Borough Market

Voel asof ek steeds nie veel het om oor te skryf nie, maar toe gaan ons Saterdag Borough Market toe en daaroor kan ‘n mens seker nie anders AS skryf nie.

Ek was al weer, nog steeds, hoeserig en proeserig en die reën het nie eintlik gehelp nie. MAAR ek was immers ‘n Borough virgin en so traipse ons half 10 gisteroggend al die pad London Bridge toe vir die Borough experience saam met ‘n Oudtshoorn outjie (Nicholaas Potgieter), sy Franse vrou (sexy Patricia) en connoiseur Mike van Australië (sê ek gister vir Patricia: hy weet ietsie van alles af en het al feitlik alles gedoen. Kap hy terug: No, I know EVERYTHING about everything).

Ek het half verwag dat Eliza Doolittle agter ‘n bos gaan uitspring en die illusie was verder gestrengthen deur twee 5 (of 6)-jariges wat in ou ou outydse klere (soos toe hulle Fourth Reich in Calitzdorp geskiet het) voor die fishmonger gestaan en pose het. ‘n Tannie met ‘n bokskamera (soos pappa s’n maar meer fancy – en ek wil nog steeds weet of ek hom nie maar voor die tyd kan erf nie) het die tweekies laat vat aan die visse en mekaar se hare laat trek. Sy het deur 3 rolle film gegaan terwyl ek knie-diep in viswater staan en bibber het. Op display by die spesifieke stalletjjie was ‘n piepklein haaitjie met ‘n stok in sy bek en klem-in-die-kaak, ‘n Monkfish (het nog nooit so ‘n lelike gedrog in my lewe gesien nie (behalwe vir ‘n roman, natuurlik)), ‘n lot crayfish (nie krewe nie – of ek weet ook nie) wat lê en bubbles blaas het en die nuutste in luxury food: klein groen seegrasserige goed wat lyk soos visdrollies en glo smaak soos aspersies. Vars van die seebodem af in Engeland se kennersmonde in. Hou maar verby, dankie.

Hulle se dat dit aansteeklik is, dat dit in jou inkruip soos ‘n gewas, die reuke en kleure van die mark; dat ‘n winkel net nooit weer dieselfde is nie.

Christiaan het twee oesters gekoop (groter as enige oester wat ek al in my lewe gesien het!! Patricia sê ‘n mens noem hulle perdepote). As ek beter gevoel het sou ek ook ‘n paar gehad het, maar soos dit was het die moet-kou-voor-jy-sluk-want-hy-weeg-7-kg my ‘n bietjie afgesit.

Daar was ‘n courgetterige ding van maklik ‘n meter met ‘n 20cm deursnee – ek jok nie – en petty pans (daai klein geletjies wat lyk soos blommetjies) so groot soos gewone geel pampoene. Twee varkkoppe op ‘n wynkrat, ‘n dairy shop (toe ons instap slaan daai Towerkop-winkel reuk my dwars tussen die oe) met mufkase soos lorriewiele op rakke en soms sommer op die sement vloer, vliegvreter plantjies, olyfolies in elke moontlike kleur en geur, jams, piekels, tofu – toe nie so sleg soos wat ek gedink het dit sal wees nie, maar ook nie lekker nie, want dit smaak na niks, ‘n volstruisvleisstalletjie (egte Engelse volstruise as ‘n mens jou so ‘n ding kan indink) met maalvleis, o, o, die maalvleis (5 pond vir 300 g) en steaks maar, helaas, geen maag nie … en tientalle ander stalletjies.

Ek het moerbeie, rooi ronde klein bessies en eiervrugte by die een stalletjie gekoop. Grenaatmolasse by ‘n ander een. “Dis soet, dis so so soet” het die ou vir my gelieg, “mens eet dit sommer oor jou roomys.” Toe ons by die huis kom het ek vir elkeen ‘n teelepel ingejaag en die gesigte … suur, suurder as suurlemoene. Die tipe ding wat in jou kuwe pyn tot agter in jou oor as jy probeer glimlag. 14 massiewe mushrooms (10cm deursnee elk lag lag) vir 2 pond, balsem room (reduced balsamic stroop), 3 bottels limonade, ‘n kilo en ‘n half cherrietamaties vir ‘n pond, 8 velletjies parma ham, squid-ink en chillie spaghetti (swart soos die nag met ‘n fishy flavour), Harissa, olywe en UITEINDELIK, uiteindelik FETA!

Van die os op die menorablade, ek wil net sê dat ek ‘n week en ‘n half terug ‘n courgette geoes het en dit was die lekkerste ding wat ek in my lewe nog geëet het. Daar is uiteindelik nog enetjie op pad en my sweet pointed peppers begin nou net uitkom. Van die butternuts is daar nog geen teken nie, maar die tamaties maak darem al blommetjies.

bydrae: Dedri Strydom

(Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar