Die Stad Kaapstad het ´n “pikkewyn-kruising” — stellig die eerste ter wêreld — op die Simonstadse hoofweg aangebring op aandrang van bestuurders van die Kaapse Skiereiland Nasionale Park, wat oor die doodry van hierdie geveerde voetgangers begaan is.
Die kolonie Afrika-pikkewyne woon te midde van die Simonstadse inwoners in ´n natuurlike beskermde gebied by Boulders-strand, wat deel van die Kaapse Skiereiland Nasionale Park (KSNP) is.
Ondanks pogings van die KSNP om die voëls binne hul natuurlike omgewing te hou, bly party pikkewyne in die broeityd die pad oorsteek op soek na geskikte nesplekke.
Justin Buchmann, die KSNP se afdelingsopsiener vir die suidelike deel van die park, sê 19 pikkewyne is die afgelope vier maande deur motoriste doodgery.
“Die hoofweg is ´n besige deurpad langs die Valsbaaise kus en word gebruik deur inwoners en toeriste, vir wie Boulders ´n gewilde bestemming geword het. Hoewel die snelperk op die pad naby Boulders 60 km per uur is, is die pikkewyne moeilik om raak te sien, veral snags as hulle die rugkante na die aankomende verkeer het.
“Ons het selfs kunsmatige neste ingerig om die pikkewyne met broeityd binne die park te hou, en ons oorweeg nou om pikkewynvangers te gebruik om dwalende voëls terug te bring,” sê Buchmann.
“Dit is een van die buitengewone dinge met die bestuur van Suid-Afrika se enigste nasionale park wat in ´n stad geleë is, en ons is dankbaar dat ons so ´n goeie verhouding met die Stad Kaapstad het,” sê hy.
Toe die KSNP se assistent-afdelingsopsiener, Monique Ruthenberg, die saak by die verkeersmense geopper het, het die beamptes dadelik die informele kennisgewings van inwoners vervang met ´n amptelike ‘pikkewyn-kruising’ in Hoofweg.
“Ons waardeer die Stad se vinnige optrede en onderhandel nou om nog tekens. ´n Inwoner het selfs aangebied om daarvoor te betaal,” sê sy.
Volgens Ruthenberg is daar tans 19 neste bokant die pad. “Om hulle nou te verskuif, sal net die kuikens en eiers versteur. Ons praat met SANCCOB oor die beste ding wat nou gedoen kan word,” sê sy.
Die jongste jaarlikse pikkewynsensus stel die bevolking op 3 600 voëls – van net twee broeipare in 1982.
“Hierdie beraming is volgens die aantal aktiewe neste wat getel is en nie volgens werklike voëlgetalle nie,” sê Bruce Dyer van Mariene en Kusbestuur, wat met die tellery gehelp het. Ruthenberg sê vergeleke met verlede jaar bly die pikkewynbevolking bestendig.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
