Die dam was leeg en die gemoedere vol. Aantygings het heen-en-weer gevlieg. Wie se skuld was dit nou eintlik?

Die munisipaliteit wat geslaap het? Die boere wat nie hard genoeg gebid het nie? Die buurvrou wat skelm snags tuin natlei en glo niemand sal iets agterkom nie? Hoe dit ookal sy, die dam was leeg en die dorp was in die moeilikheid. Dis verkiesingtyd so die partyleiers het besluit om te probeer wys dat hul omgee. Daar word toe ‘n byeenkoms gereël by die leë dam vir Saterdagoggend 07:00. Almal moet kom dat ons kan kyk na die dam en dan braai na die tyd.

Saterdagoggend vroeg is almal daar. Ooms met boepe en blesse wys na die watervlak en ‘n nie amptelike kompetisie wroeg alweer oor wie die langste op die dorp bly en wie die verste terug kan onthou van wanneer laas dit so gelyk het. Die tannies dra koffie aan en loer onderlangs wie nou eintlik daar is en maak opmerkings oor die wie nie daar is nie. Hulle bespreek ook sommer so bolangs die rede waarom ‘n vooraanstaande kerkganger se dogter 3 jaar terug na ‘n skool in die groot stad is. Blykbaar het sy verlief geraak op iemand van ‘n ander kultuur en om die verhouding te verhoed het haar ouers besluit dat skool in die stad haar tot haar sinne sal bring. Teen 07:00 is omtrent almal daar (behalwe die wat uitgeskop is uit die binnekring omdat hulle dit gewaag het om nie tannie Corrie se sop te gebruik tydens Pinkster nie).

Die opposisieparty se leier het almal nader geroep en versoek om ‘n groot sirkel te vorm, om hom natuurlik. Almal het stadig om hom geskuifel.

“Goeiemore vriende!” het hy begin praat, amper gepreek.

“Dis met ‘n swaar hart wat ons hier is. Ons dam is leeg, mense. Leeg!” het hy gesê terwyl hy sy hande in die lug opgooi. Die gebaar was redelik effektief. Hy het voortgepraat terwyl hy stadig in die rondte draai om almal te sien. “Wat gaan ons doen, vriende? Ons is almal mense, ons het water nodig! En wat van ons diere?” hy het stil gaan staan en ‘n vuis teen sy bors gedruk en sy oë toegemaak. “Vriende, ons almal weet dat in hierdie tye daar net een oplossing is. Ons sal op ons knieë moet gaan.” Het hy amper gefluister en voor hy verder kon praat roep klein Stokkie uit: Moet ons dan grou vir water, oom?” Almal behalwe die opposisieleier het uitgebars van die lag. Hy het nie van Stokkie gehou nie. Stokkie se ouers het op ‘n plot gebly en mense vermoed dat hul eintlik direkte bloedfamilie is. Hulle het baie dieselfde gelyk, dieselfde van gehad en ook dieselfde ouma. Stokkie was verontwaardig deur die uitbarsting. Hy het toe maar geloop en in die oorblywende modder gaan speel.

Die opposisieleier het gekug en verder gepraat: “Mense, dis ‘n baie ernstige kwessie. As iemand weet van iets wat ons kan doen, praat asseblief!”

Die skare het onderlangs gefluister. Niemand wou iets sê nie. Sommiges was skaam, ander net bloot onwillig. Die opposisieleier het gedraai en gedraai om ‘n gesig te soek wat wou praat. “Ah, oom Buks! Het oom dalk vir ons ‘n voorstel?”

Oom Buks het lank gedink en toe gesê “Nee, nie eintlik op die stadium nie. Maar, wanneer braai ons nou? Dan kan ons mos gesels daaroor en wie weet, dalk maak ons ‘n plan?” Hy is luid toegejuig. Die leier was ietwat ontsteld, duidelik wou die inwoners kom braai by die leë dam.

Vure is toe aangesteek. Stokkie het vol modder tussen die tannies gaan vra vir ‘n braaibroodjie. Die opposisieleier het foto’s van homself geneem by die leë dam en heeltyd sy Facebook opdateer. Die ooms het gaan 4×4 ry in die modder. Baie het vasgeval, ander het hul dan trots uitgetrek. Die tannies het geskinder en gekyk wie kan die meeste van verlede Sondag se diens onthou. Laatmiddag begin die mense toe huis toe gaan. Bakkies vol modder, Tupperwarebakke en flesse leeg, bottels drank klingel agter op die bakkies, ooms vaak, kinders vuil …

Die opposisieleier en die ouderling het te veel drank saamgebring en gedrink. Hulle het toe besluit om ‘n foto te kry waar hul albei in die middel van die dam staan. Hulle het ongelukkig nie besef dat die modder nie eintlik hul gewig kon dra nie, maar hul het voortgeploeter. Opposisieleier moes sy foto kry en die ouderling was desperaat vir ‘n vriend. Niemand het gesien wat hulle doen nie. Net Stokkie. Hy het hulle dopgehou. Elke keer het die leier of die ouderling sommer heuphoogte in die modder gesak, maar dan weer uitgewurm en net nog dieper gesak met elke volgende tree. Tot in die middel van die die dam. Hulle het probeer en poseer vir ‘n foto en hom geneem. Opposisieleier het besluit om net daar sy profiel op Facebook te verander, ten spyte van die feit dat ouderling aan hom klou en hul nou met mening dieper en dieper insak. Stokkie het niks gedoen of gesê nie. Hy het net gekyk terwyl hy nog aan ‘n laaste broodjie kou. Die ander was almal reeds weg.

Toe Stokkie nie meer die opposisieleier of die ouderling kon sien nie, het hy ook maar opgestaan en huis toe begin stap. Hy het gewonder wanneer hulle nou klaar in die modder sou speel.

Die volgende dag by die kerk was ouderling nie op die plek nie en opposisieleier het nie buite gestaan sodat almal hom kon sien nie. Niemand het geweet waar hulle was nie. Stokkie het nooit kerk toe gegaan nie, so niemand kon hom vra nie. Lulu, die orrelis, het net na die diens ‘n opmerking gemaak:”Sjoe, het julle gesien hoeveel likes het daai foto gekry van ons opposisieleier en ouderling met net hul koppe wat uitsteek uit iets wat lyk soos modder?”

© Gerda Niemann

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar