Die man met die jas

Die stad is vanoggend besiger as gewoonlik, miskien omdat dit net voor ‘n langnaweek is. Jaques de Brille parkeer sy klein motor in ‘n systraat, soos elke oggend. Toe hy om die hoek stap, waai ‘n vlaag koue wind sy hare deurmekaar. Hy onthou hoe Anna dit altyd gehaat het as hulle iewers sou aankom en hy eers ‘n plek moes soek om hare te kam. Terwyl hy die boekwinkel se deur oopsluit, besef hy weer dat dinge nooit regtig tussen hulle sou uitgewerk het nie. Tog het hulle, so besef hy nou, soos soveel ander getroudes voorgegee dat hulle verveling met mekaar ‘n dieper soort liefde en hulle bemeestering van die fyn kuns van apart-wees ‘n ander soort intimiteit was. Mettertyd het sy berekende benadering van dinge en denkende gees gestrand op haar aardse, alledaagse mentaliteit. Sedert sy weg is het net die winkel oorgebly; sy liefde vir boeke en die wyse waarop hulle stil-stom op die rak gestaan het, het hom die kalmte gegee om sy eie dinke te dink. Lees, en so nou en dan iets probeer skryf; dis al wat hom nou besig hou. Dit gaan nou al jare so.

Op die oorkanste hoek staan ‘n man in ‘n vaal jas en kyk hoe Denkershoek Boeke vir besigheid oopgesluit word. Hy was al oral in hierdie stad, waar die mense se oë nie vir jou gekyk het nie, maar uitgekyk, opgepas het vir jou. Deur persoonlike ervaring ken hy dit goed. Die Parys van die Lodewyks, en meer spesifiek die strate rondom die Cimetière des Innocents, het dalk meer gestink as hier, maar die ellende was daar vlakker en nie weggesteek agter grimering en duur pakke klere nie.

Die muwwe, stowwerige reuk van die boeke wat Jaques begroet toe hy die volgepakte winkel instap, is oorbekend en gerustellend. Die winkel is ‘n middelslag vertrek met ‘n stoorkamer agter, langs ‘n klein kombuisie met ‘n wasbak en ‘n enkel kombuiskas. Hier is hy tuis en voel hy beskut. Nie dat hy dit breed het nie, maar die winkel help om hom aan die lewe te hou. Hy skakel die ketel aan en kyk na die sertifikate teen die muur agter sy lessenaar; daardie verstarde akademiese getuies dat jy daar was en nou anders is (of moet wees). Soos hy ouer word het hy al meer só aan sy akademiese opleiding begin dink. Dit is nog iets wat sy nooit kon verstaan nie; altyd net verwys na die dankbaarheid wat hy moes toon vir die geleenthede aan hom gebied.
Met die beker koffie langs hom het hy pas deur die koerant begin blaai toe die deur van die winkel oopgaan en ‘n man inkom wat in ‘n goedgebruikte jas geklee was.
“Kan ek help?”, vra Jaques en staan op.
Die man antwoord nie dadelik nie, maar laat sy oë oor die boeke gly asof hy na iets spesifiek soek. Jaques kyk na die man terwyl ‘n onverklaarbare gevoel van onheil en een van matelose nuuskierigheid spontaan in hom veg om te wen.
“Ek soek ‘n boek”. Die aksent is opmerklik.
“Het u die titel of outeur. Dan kyk ek”.
Die man antwoord nie, maar bly rondkyk in die winkel, en Jaques let op dat die man se neusvleuels beweeg asof hy iets ruik. Dit is asof die gevoel van onheil wil-wil begin wen.
“Letterkunde of geskiedenis, ek weet nie. Dit speel af in Frankryk, nog voor die rewolusie. ‘n Baba is op ‘n markplein in die lewe gebring en daarna vir die Kerk weggegee”.
“Sonder die outeur of titel is dit moeilik. Ek…”
“Ek kom terug om dit te kom haal”, kom dit kortaf toe die man omdraai en uitstap.
Die res van die dag lewer nie veel kliënte op nie, maar Jaques kan nie sy eerste besoeker van daardie oggend vergeet nie. Die kil, amper weersinwekkende gelaat van die man het dit laat voel of daar die res van die dag ‘n koue wind deur die winkel waai, al was die hemel blou waar hy dit tussen die geboue deur kon sien.
Jaques sluit die winkel die volgende oggend vroeg oop omdat hy ‘n nuwe besending boeke verwag.
Dit daag so teen tienuur op, en hy laat berg dit in die reeds oorvol stoorkamer. Die vorige aand het hy in die koffiekroeg waarheen hy soms gaan in ‘n ou dosent van hom vasgeloop wat wou weet wanneer hy weer gaan begin “swot”. Hy het ontwykend geantwoord, omdat hy gedink het dit sou swak smaak openbaar om sy sinisme so blatant te wys. In die winkel kon hy lees wat hy wou wanneer hy wou.
Hy het nie weer iemand nodig gehad om vir hom te dink nie.
‘n Week later dink hy weer aan die man met die jas wat nooit terugekom het nie. Op ‘n keer het hy gedink hy het die man voor die winkel sien verbystap, maar toe gesien dat dit die grys uniform is van die bode langsaan; die een wat altyd wil geld leen. Hy staan op, sluit die winkel se deur en sit die kennisgewing wat sê dat klante moet klop, in die venster. Môre kom daar nog ‘n besending boeke en hy moet die voriges nog rangskik. Hy stap die stoorkamer binne en sleep die kratte nader. Vir ‘n halfuur werk hy ongestoord, en skrik toe hy die klop aan die deur hoor. Dit is die bode. Sy besending boeke is nou net, ‘n dag te vroeg, by die winkel hier langsaan afgelewer.
“Baie dankie vir jou moeite”.
“Dis ‘n plesier meneer. Ek het gewonder… ek moet ‘n ou vanaand iets gee vir ‘n guns wat hy my gedoen het. Net so tien rand…”
“Ek is nou bietjie besig…” Hy bedink homself. Die bode het reeds baie gunste vir hom gedoen.
“Kom”, sê hy. Hy haal tien rand uit ‘n lessenaarlaai. “Dankie, hoor…”
“Ek sê dankie meneer. Ek bring dit terug”.
Daardie aand net voor Jaques die winkel sluit, gebeur iets snaaks. Hy is besig om pryse in ‘n paar boeke te skryf, toe hy iets hoor wat soos die skare op ‘n markplein klink. Stemme, in ‘n vreemde, bryerige taal, het vanaf iewers opgeklink. Toe was dit weg. Net voor hy gery het, kon hy sweer die vreemdeling met die jas was iewers tussen die skare by die bushalte oorkant die straat.
Jaques het gedink hy moet sy vriend Olaf, wat hom oor Anna help kom het, weer opspoor, want die stemme wou nie weggaan nie. Elke oggend, of soms saans as hy die winkel sluit, was die klanke en stemme van ‘n markplein daar. Hy het al gesoek na iemand wat moontlik ‘n radio in die stegie agter, of in die leë kantoor bo-op die winkel aan het, maar sonder sukses. ‘n Paar keer het hy gedink hy sien die man met die jas weer. Dit was die ander probleem. Hy kon die man nie vergeet nie. Van die dag af wat die man in die winkel was, het Jaques elke keer ‘n gevoel van onheil beleef wanneer hy gedink het hy sien hom. Hy sal vir Olaf moet bel…
Die aand begin hy lees aan een van die boeke wat hy vroeër die middag by ‘n verslonsde vrou gekoop het wat in die winkel was. ‘n Blas vel, met ‘n sterk Franse aksent, het sy iets gemompel van ‘n kind. Dis al wat sy uiters beperkte kennis van die taal hom laat verstaan het. Sy wou seker die boek verkwansel om kos met die geld te koop. Toe hy die winkel sluit het hy weer die stemme gehoor.
Vanaand praat hy met Olaf.
Jaques het ‘n sluk geneem van die nie te duur wyn langs hom waar hy in sy klein sitkamer gesit het na sy aandete van gebraaide hoender en brood. En hy het aanhou lees, asof iets hom gedwing het daartoe, en heeltemal van sy beplande oproep vergeet. Toe ‘n motor iewers in die straat toet, word hy bewus van sy klam hande en die sweet in sy oë.
“Dis hy! Dis die boek! Dis die boek wat die man met die jas na gesoek het!”
Hy lees weer die opsomming agterop die boek. ‘n Kind wat verlate op ‘n 18 de eeuse markplein in Parys gebore word en uiteindelik werk kry by ‘n parfuumhandelaar, bloot omdat hy iets het wat hom van alle ander mense onderskei – ‘n ongelooflike fyn reuk. En hoe hy uiteindelik begin moor om die reuke te oes van mense wat dit nie vrywillig vir hom wou gee nie; hoe hy geleer het om die suiwerste was voor te berei om geure in vas te vang, dit aan lakens van die fynste materiaal gesmeer en om voorwerpe (en later slagoffers) gedraai het. Fyn reuke, onbekend aan ander en onmoontlik om te onderskei, behalwe vir hom. Reuke wat hy oor myle kon opmerk en wat hom soos ‘n pers inseklig aantrek. Reuke wat hy net moes hê, net moes besit en versamel, elkeen met nuances wat net hy kon onderskei.
Daardie nag het die man en die boek in sy drome by hom gespook. Die volgende oggend het Jaques vergeet om die boek saam te neem winkel toe, miskien omdat hy sleg geslaap het en moeg was. Hy was steeds bang om die winkel oop te sluit, soos vir weke nou al; bang dat hy weer die stemme sou hoor, maar hierdie keer was daar niks. Toe hy in die klein kombuis instap, het hy skielik gevoel dat hierdie dag iets gaan oplewer; iets wat sy lewe totaal gaan verander. Miskien sien hy vir Anna, of vir Olaf of wen hy baie geld of kry hy ‘n aanbod om hierdie stad van stil verlatenes self te verlaat of…
Toe hy omdraai om tafel toe te stap, skrik hy toe hy die figuur in die deur sien staan. Dis hy.

“Môre”. Ek sien jy’s bietjie later as wat jy gesê het”.
Die man ignoreer sy lomp poging tot humor.
“Waar is dit?”
“Waar is wat?”
“Die boek. Wat die vrou vir jou gegee het”.
Hy het begin bang word. “Watter vrou?”
Die man het begin rondkyk in die winkel. Jaques het weer gesien hoe sy neus soos die van ‘n hond wat kos ruik, beweeg. Toe draai die man met die jas om en stap uit.
“Ek lees hom nog”, sê Jaques agterna.
Hoe weet die man hy het die boek, en van die vrou? Hy het geweet alles is hier nie pluis nie. Vanaand lees hy die boek klaar. Hy moet weet wat gebeur voor die vent terugkom. As die verdomde stemme net wil ophou!
Toe hy die aand die boek neersit na hy dit deurgelees het, het hy stilweg gegril. ‘n Meesterlike storie! Hy wil die slot weer môre lees. Hy het notas gemaak van die outeur se ander boeke. Die volgende oggend was hy enersyds te bang om op te staan en winkel toe te gaan; andersyds kon hy nie wag nie, want die man sou terugkom, daarvan was hy seker. Toe hy die winkel oopsluit was die stemme weer daar, en hierdie keer kon hy duidelik ‘n vrou hoor huil en ‘n baba hoor skreeu. Dit het eers opgehou toe hy uit die kombuis stap met sy koffie. Hy het besluit om deur die winkel te soek vir die ander boeke van die outeur, maar hy kon nie onthou dat hy sulke titels gesien het nie. Teen eenuur was hy moeg en het by die tafel gaan sit.
“Hallo Olaf, hoe gaan dit? Dis Jaques”. Die lyn was nie te duidelik nie.
“Nee, goed man. Luister, hoe lyk jou volgende naweek. Ek wil jou iets wys en sommer vertel ook. Ons gaan eet Saterdag middag iets en gesels bietjie… Is dit. Nou kom so teen twee uur, is dit reg? Sien jou. Wat….nee, ek hoor niks van Anna nie. Sien jou Saterdag. Bye”.
Daar was enkele kliënte die res van die dag. Van hulle was ou besoekers wat wou hê dat hy titels in sy “Gesoek” boek moes aanteken en hulle laat weet as hy iets opspoor. Hy het besluit om laat te werk vanaand. Hy was nie lus vir die stilte van sy huis nie en het weer begin lus voel om iets te skryf – iets soos ‘n riller van iemand wat stemme begin hoor en op ‘n stadium van hulle begin herken, begin terugantwoord en mettertyd agterkom dat hy hulle kan hoor maar hulle nie vir hom nie. En dan kom die karakter agter dat hulle oor hom praat en besluite neem, sonder dat hulle ag gee op wat hy te sê het of daarvan dink, want hulle hoor hom nie, en waar is hulle, en hoekom hoor hulle hom nie, en hoekom sê hulle sulke goed, en wie is die vreemdes by hulle…
“Ag, verskoon tog…” Die stem ruk hom tot die hede terug. Die vrou voor hom het Anna se oë.
“Jammer. Kan ek help?”
“My seun het ‘n boek in die venster gesien wat hy wil hê. Kan ek kyk daarna? Dis die een met Superman op”.
“Seker”, sê Jaques en leun in die venster om die boek uit te haal. Hy skrik. Vir een oomblik dog hy die jas van die persoon wat hy so pas deur die venster gesien het om die hoek langs die winkel stap, lyk bekend. Toe hy omkyk onstel dit hom effens dat die vrou haar arms om haar gevou het asof sy koudkry, terwyl die kind sy oë bang deur die vertrek laat rol.
Die vrou blaai deur die boek en vra vir die kind of hy dit wil hê. Die kind knik.
“Dankie. Ek sal dit neem”.
Iewers in die agtergrond hoor hy dat die stemme op die markplein stiller is, en hy verbeel hom dat almal staan en kyk na hom en die vrou. Dis tog belaglik!
“Tot siens en dankie”.
“Dankie”, sê Jaques halfhartig. Toe die vrou in die gang voor die winkel afstap, kyk die kind bang terug. Jaques wonder hoekom, maar toe hoor hy die stemme op die mark is weer fluks besig om handel te dryf.

Dit was vir die bode snaaks dat Jaques reeds by die werk is toe hy die oggend daar aankom. Gewoonlik kom hy eers ‘n uur later. Die bode was bly, want nou kon hy vroeg sy skuld vereffen, en so seker maak dat die moontlikheid vir ‘n latere lening oopbly. Hy het die deur van die winkel oopgestoot. Daar was geen teken van Jaques nie. Op die lessenaar, so het hy in die verbyloop gesien, was daar slegs op ‘n wit notaboekie geskryf “Bel Anna”. Dit was wat hy in die stoorkamer aangetef het wat hom laat vloek en amper die eerste kliënt van die dag onderstebo laat hardloop het.
Op hierdie koue oggend het daar twee mans in uniform buite die winkel met mekaar staan en praat.
“My donner. In al my dae het ek nog nooit so iets gesien nie. Siek bliksems, ja, maar nie so iets nie”.
Die ander een was besig om te skryf op ‘n vel papier wat aan ‘n knipbord vasgeknyp was. Met ‘n hand wat stram was van die koue het hy geskryf:
Plek: Denkershoek Boeke.
Tyd: 1030.
Beskrywing: Die saak is deur die eienaar van die winkel langs Denkershoek Boeke aangemeld. Dit is deur sy bode aan hom gerapporteer. By aankoms was die deur van die winkel oop. Die onderwerp is in die stoorkamer ontdek. Daar is, so wil dit voorkom, ‘n laag was wat die onderwerp se hele liggaam bedek, en plek-plek is daar tekens van patrone en strepe, wat daarop mag dui dat daar iets oor die onderwerp gedrapeer was. Dit is onbekend of iets vermis word. Daar het ook ‘n leesbril op die tafel in die stoorkamer gelê, wat moontlik mag dui daarop dat die onderwerp by die tafel gesit en lees het. Daar was egter geen boek op die tafel nie, net ‘n handgeskrewe nota: “Süskind, Perfume – the story of a Murderer”.
Die bode het eenkant gestaan en was vaagweg bewus van die stemme van die straatverkopers. Hy het nie geweet of hy vir die twee mans moes sê van die geld nie.

skrywer: Johan Schoeman

Lewer kommentaar

Leave a Reply