deur Ferdi Wheeler
Tyd het gestop, toe Calvin, ‘n kelner van die Rooi Haan-restaurant, teen skemeraand tussen die nuuskierige omstanders deur druk en na ouman Dirk se lyk op die teerpad toe stap. Nie die twee konstabels, nog die twee para-medici het hom probeer keer, omdat hulle verstar en in tyd gesuspendeer was. Hy het by ouman Dirk gekniel.
Laasgenoemde was op sy sy, met sy linker arm onder sy lyf ingevou en die linker wang op die teer, die mond half oop. Daar was ‘n nat kol in sy hare, waar breinvog uit die gekraakte skedel aan’t syfer was. Calvin was verbysterd en het op en af oor die lengte van die liggaam gekyk.
“Hulle hét hom toe vermoor,” fluister hy by homself.
‘n Week gelede het hy gehoor hoe ouman Dirk in die Rooi Haan met die dood gedreig word. Ouman Dirk was op sy gebruiklike plek in die rokerseksie, omdat hy ‘n kettingroker was. Hy het nie altyd so laat gebly nie, maar die son was al amper onder daardie dag, toe het hy nog gesit en bier drink. Hy was altyd alleen, maar nie verstok nie, omdat hy goed met die kelners en die toevallige gas oor die weg gekom het.
Op daardie tydstip het ‘n man en vrou, beide so om en by die 40 jaar, in die rokerseksie kom sit. Calvin was aan diens in die seksie, wat vinnig aan die opvul was, met klante wat na werk vir ‘n vinnige sopie opgedaag het. Die twee het bier bestel. Toe hy die bestelling voor hulle neersit, het die man na ouman Dirk gewys en gesê: ”Vra vir hom of ek vir hom ‘n bier kan koop.”
Ouman Dirk was verbaas. Hy’t op sy stoel omgedraai en na die man en vrou gekyk. Hulle het so ‘n vier tafels verwyder van hom gesit. “Wie’s hulle?” het hy gevra, hoewel die twee soos ou bekendes jolig vir hom gewuif het. Hy’t fronsend teruggewaai en ja gesê vir die bier. Kort na Calvin die komplimentêre bier vir ouman Dirk gebring het, het die twee opgestaan en by hom gaan sit. Die klante in die rokerseksie het konstant aandag geverg, met die gevolg dat Calvin die heeltyd binne hoorafstand was van die drie.
Soos sy gewoonte was, wou ouman Dirk dadelik eers die man se naam weet. “Victor,” het die man gesê. Die vrou het nie sovêr gekom om haar naam te sê nie. Sy’t opgestaan en na die Ladies toe gegaan. Maar sy was gou weer terug.
Dit was nadat sy weer gaan sit het, dat dié Victor kêrel vir ouman Dirk gesê het: ”Ek gaan jou vermoor.” Net so.
Ouman Dirk het hard gelag en toe vir die vrou gevra: ”Gaan jy my ook vermoor?”
“Ja,” het sy geantwoord.
“Wel, dan kan julle my gerus vermoor. Die waarde van hierdie lewe word heeltemal oorskat,” het ouman Dirk gesê en hulle al drie het luidrugtig gelag.
Die drie het nie verder oor die onderwerp gesels nie. Ouman Dirk het nogtans voortgebabbel. Die ander twee het egter nie tyd verspil nie. Hulle het net hul drankies geledig en toe opgestaan en geloop. Calvin was nie by op daardie spesifieke oomblik nie en hy het dus nie die afskeidswoorde gehoor nie. Miskien was ouman Dirk toe weer met die dood deur die twee makabere siele gedreig. Dit is egter nie seker nie.
Dit is dan hoekom Calvin daar langs die lyk fluister dat hulle hom vermoor het. Die gesuspendeerde oomblik vervliet en die twee para-mediese wat daar saam met hom kniel, kyk streng op na hom.
“Staan asseblief terug,” sê die een en Calvin kom regop.
Een van die konstabels kom ook oorgeloop en sê: ”Dis ‘n ondersoektoneel die. Beweeg asseblief terug tot op die sypaadjie.”
Calvin wil sê dat ouman Dirk vermoor is, maar hy draai woordeloos om en meng weer met die omstanders, voor hy terstond terug Rooi Haan toe loop. Hy voel naar en ontsteld. Hy het ouman Dirk goed geken. Hy weet as hy stilbly, sal ouman Dirk se dood as ‘n ongeluk behandel word.
Afgetrokke stap hy terug na die Rooi Haan toe en hervat sy bediening van die tafels waarvoor hy verantwoordelik is. Maar ouman Dirk se lyk kan hy nie uit sy kop uitkry nie en hy ly aan skok. Die moord, want dit is wat dit was, staan hom helder voor die gees:
Hy’t buitentoe gestap om te rook, aangesien die hele binnekant van die Mall ‘n rookvrye area is. Hy het net die sigaret opgesteek, toe ouman Dirk ook deur die swaaideure na buite stap.
“Sien jou, Calvin,” het hy gegroet en vir omtrent 50 meter parallel met die sypaadjie langs gestap. Toe’t hy gestop en op en af in die straat vir verkeer gekyk. Dit was skoon en hy het begin om die straat oor te steek.
Hy het ‘n ent voor die eerste van vier karre, wat in die geen-parkering-sone geparkeer was, gestaan. Die voorste kar was ‘n grys Toyota. Die bestuurder het die petrolpedaal op daardie oomblik diep ingetrap en die kar het met ‘n gebrul vorentoe geskiet.
Ouman Dirk was in die middel van die dubbelbaan. Hy’t vir die enjingeraas gekyk en die kar op hom sien afpyl. Hy het lomp en dronkerig terug begin skarrel, maar die kar het hom sienderoë gevolg en hom met ‘n dowwe slag getref. Die slag het hom in die lug op gegooi, tot op die enjinkap, en van daar af het hy skuinsweg vry op die teerpad geval. Die Toyota het steeds met hoë enjintoere die draai aan die onderpunt van die straat gevat en uit sig uit verdwyn.
Calvin se eerste gedagte was: bel ‘n ambulans! Hy’t sigaret weggegooi en terug die Mall ingehardloop. Sy selfoon was in sy rugsak, in een van die sluitkaste wat vir die veiligheid van kelners se persoonlike besittings voorsien is. Hy’t die bekende ambulansdiens, ER24, gebel. Die nommer van die ambulansdiens, wat op die ambulanse se bakwerk geverf is, het hy geken. Die ambulanse staan op die terrein van die private hospitaal, oorkant die straat aan die oostekant van die Mall. Die bestuurder van die Rooi Haan het hom egter voorgekeer, toe hy daarna weer na buite wou hardloop.
“Bedien jou tafels, jy kan nie die klante net so los nie,” het die man verergd gesê.
So kon hy eers tien minute later weer buite kom, waar ouman Dirk nog gelê het, en die ambulans, met die twee para-medici, en die polisie reeds op die toneel.
Die volgende more loop Calvin met rooi oë en uitgeput werk toe, om vir die 9 tot 4 skof by die Rooi Haan in te val. Die dood van ouman Dirk het hom ‘n slapelose nag besorg. Hy bly in ‘n woonstel in die straat wat voor die Mall verby loop, maar omtrent ‘n kilometer verder af. Dis ‘n hele paar straatblokke. ‘n Hoërskool is op een van die blokke gebou. Die perseel is omring met ‘n hoë rooi baksteen muur.
‘n Hele entjie voor hom, sien hy die figuur van ‘n man, wat hom baie aan ouman Dirk herinner. Die man stap flink voort en hoewel Calvin sy treë rek, verdwyn die man om die hoek van die rooi baksteenmuur om die skool. Enkele minute later stap Calvin ook om die hoek. Maar daar’s geen teken van die man nie. Hy’s verward. Die manier van loop van die man, is tekenend van ouman Dirk – die een skouer wat half hang, die bos vaal krulhare, maar baie meer opvallend, dieselfde klere wat ouman Dirk tydens die tref-en-trap aangehad het.
Calvin wyfel en staan lank die dwarsstraat op en tuur. Dit is tog nie moontlik nie, sê hy vir homself. Tog vul die gesig hom met ‘n gevoel van hoop, ja, amper blydskap.
Die privaat hospitaal is net oorkant die straat en op die ingewing van die oomblik besluit hy om met die paramedici oor ouman Dirk se geval te gaan praat.
Hy vind die para-medici maklik. Hulle staan by die ambulanse by ‘n spesiale parkeerarea op die hospitaalgronde rond. Calvin stel homself voor.
“Julle moet nog die tref-en-trap-voorval gisteraand in die straat hier voor die Mall onthou,” sê hy.
Die para-medici knik.
“Kan julle bevestig dat die slagoffer dood was op die toneel?”
“Positief,” sê die een para-medikus en sy maat knik beamend. Hulle bly stil en kyk vraend na Calvin.
“Ek wou net seker maak, dankie,” sê hy en draai op sy hakke om en stap oor die straat die Mall binne. Hy sou homself ongetwyfeld belaglik gemaak het, as hy moes erken dat hy ouman Dirk minute gelede gesien het.
In die Rooi Haan swyg hy oor die verskyning van ouman Dirk. Sy medekelners sal hom as van die lotjie getik beskou, as hy met so ‘n wilde stelling vorendag kom. Na werk loop hy weer straatlangs terug huis toe. Die hele lengte van die straat is vol busterminusse. Halfpad na sy woonstel toe, stop ‘n bus by een van die terminusse. Calvin se oë dwaal tersluiks oor die passasiers wat agter die groot busvensters sit. Hy’s onmiddellik geskok om ouman Dirk in die bus te sien sit. Hy kyk na Calvin en hy druk ‘n sakdoek teen sy kop vas, omtrent presies waar die breinvog deur sy skedel die vorige dag daar op die teerstraat gevloei het. Hulle oë ontmoet, net toe die bus weer begin wegtrek.
“Wag, wag!” skree Calvin en hardloop agter die bewegende bus aan. Maar die bestuurder merk hom nie op nie en die ronkende bus laat hom agter. Hy stop en staar uitasem die bus agterna.
Wat gaan aan? Dis mos nie moontlik nie? ‘n Rilling gaan langs sy ruggraat af. Hy het grootgeword met spookstories op die platteland, waar hy gebly het, terwyl sy ouma hom grootgemaak het. Ouman Dirk moet spook. Die gedagte maak hom bang.
Terug by sy woonstel sluit hy die deur oop, maar huiwer om die deurknop te draai. Miskien is ouman Dirk daar, dink hy. Hy draai die deurknop en stap in, maar stadig. Hy is op naalde en spelde. Hy wil vir homself lag, maar hy kyk nogtans onder die bed, net om seker te maak hy’s alleen.
Daarna gaan ‘n paar dae verby, sonder enige verskynings. Hyself noem sy waarnemings van ouman Dirk “gesigte”. Want ouman Dirk kan nie van vlees en bloed wees nie, redeneer hy.
Hy begin nagskof in die Rooi Haan werk. Dis ná elf die aand toe hy die pad vat woonstel toe. Op daardie stadium is hy so op sy senuwees, dat hy in die voorafgaande dae wildvreemde mense vir ouman Dirk aansien. Maar daardie aand, net toe hy weer op die sypaadjie langs die skoolmuur af stap, sien hy ouman Dirk.
Laasgenoemde loop voor hom aan dieselfde kant op die sypaadjie. Calvin begin hardloop. Maar hoe hy ook al sy treë rek, haal hy nie op ouman Dirk in nie. Dit lyk nie of ouman Dirk vinniger loop nie, die afstand bly net konstant. So verloop die agtervolging. Ouman Dirk draai met systraatjies langs af by die buurt van Westdene in en Calvin volg. Uiteindelik stap ouman Dirk deur die ingang van ‘n woonstelblok en verdwyn uit sig.
Minute later volg Calvin. Ouman Dirk is iewers in die woonstelblok, maar waar?
“Ouman Dirk!” roep hy in die portaal en luister hoe sy stem hol van die mure af eggo. Daar’s geen antwoord nie.
Calvin klim met die trappe op na die eerste vloer toe. Hy sien ‘n skoonmaakster in die dowwe ganglig, wat met ‘n mop besig is om die vloer te was. Sy neurie.
“Askies, waarheen is die man wat nou net hier verby is?” vra Calvin.
“Hier’s niemand nie,” sê die vrou tussen die geneurie deur en sonder om op te hou mop.
Natuurlik! Dink Calvin. Dit maak sin. Sy sou hom nie gesien het nie. Dit spreek vanself. Hy kan ook nie op daardie laat uur met huisbesoek begin en die inwoners ontstook nie. Daar’s geen manier om uit te vind waarheen ouman Dirk verdwyn het nie. Maar hy’t ook nie nodig om te gaan soek nie, want die volgende oomblik bars ‘n woonsteldeur oop en ‘n figuur, wat vaag bekend lyk, storm in die gang af by hom verby.
Ouman Dirk verskyn in die oophangende deur, die ewige sakdoek teen die kop. “Soe, eina soe!” sê hy.
Die mopvrou het gesteurd opgehou werk. “Wat’s aan die gang?” neul sy.
Ouman Dirk stap ook by ‘n verstomde Calvin verby. “Ouman Dirk,” fluister hy, bewus daarvan dat ouman Dirk sekerlik sy gedagtes kan lees. Dan harder:” Ouman Dirk!”
Ouman Dirk is by die uitgang soos mes en Calvin moet skarrel om by te bly.
Die voortvlugtende het by die uitgang regs gevlieg en sit nou in ‘n grys Toyota. “Hoink-hoink-hoink!” sê die beskadigde grys motor, terwyl die man hom probeer aan die gang kry. Ouman Dirk, met Calvin agterna, stap reguit na die bestuurderskant van die Toyota toe.
Die motordeur vlieg oop en die man, in die blou straatlig herken Calvin hom as die Victor van die moorddreigement, spring met ‘n vertrekte gesig uit en hardloop terug in die woonstelblok in.
Ouman Dirk dep eers weer die breinvog op sy kop en verkas dan met verbasende spoed agterna. Calvin volg, maar hy’s ver agter. Dis net hy en die onstigde skoonmaakster op die eerste vloer, toe hy daar aanland.
“Julle, julle twee, vous êtes fous!” roep sy uit en swaai met haar mop dreigend in die rigting van Calvin.
“Kalm wees nou, suster,” sê Calvin en hou ‘n hand in die lug. “Waar’s hulle heen?” vra hy, net toe pistoolskote in woonstel nommer 6 afgaan.
“Mon Dieu! Skree die skoonmaakster. Hier kan nou genoem word dat sy waarskynlik ‘n onwettige immigrant uit Wes-Afrika is. “Mon Dieu!” Sy verkas sonder mop en emmer verby Calvin teen die trappe af en hy bly versteend staan.
Die skote is die cue vir woonsteldeure om oop te gaan met effens dapper en baie verskrikte inwoners wat uitloer. Op die eerste vloer vermoed hulle Calvin is die skieter, maar nie vir lank nie.
Nommer 6 se deur word oopgepluk en die man Victor staan met sy rug na die deuropening toe, pistool na die binnekant gerig. Meer skote. Dan val hy soos ‘n paal agteroor en ouman Dirk verskyn in die deur en kyk na Victor wat op sy rug lê en tjankgeluide maak.
‘n Paar van die inwoners som die situasie op en storm vorentoe en omring die wringende liggaam van die man Victor.
“Hy!” skree Victor. “Die drug lord, dis hy, die drug lord!” skree hy en wys met leeggeskiete pistool na ouman Dirk.
Die mense kyk, maar sien niks nie.
“Hy’s mal,” sê een.
“Dwelms, as jy my vra,” sê ‘n ander.
“Ek bel,” sê die een met teenwoordigheid van gees. “Die ambulans.”
Victor is berserk. Hy bly wring en onsamehangend praat terwyl die ambulans opdaag. Calvin en ouman Dirk staan nou langs mekaar en aanskou hom.
Die para-medici daag weer op. Spuit Victor in, maar voor hy sy bewussyn verloor, wys hy vir oulaas na ouman Dirk. “Druglord!” skree hy. Toe vat hulle hom weg. Die inwoners draal nog ietwat en bespreek die sirkus en toe’s die gang weer leeg, buiten vir ‘n verstomde Calvin en ouman Dirk.
Hulle kyk na mekaar. Ouman Dirk dep die breinvog tussen sy hare met die sakdoek.
“Here’s to you kid,” sê ouman Dirk en glimlag en lig ‘n arm in saluut. “Tot siens,” sê Calvin half onseker, toe ouman Dirk weer oënskynlik stadig maar tog fluks deur die uitgang verdwyn. Vir goed.
Baie geniet! Wie weet wat wag aan die anderkant🤔
Flippen nice storie Ferdi!