deur Ferdi Wheeler
Die klein kind is agter in die ry en sukkel om by te hou by die drie mans. Sy naam is Gerhardus de Kok, vyf jaar oud. Sy pa Lood, loop net voor hom in die prosessie. Hoewel sy pa dus naby is, voel hy huilerig. Die mans is nie baie simpatiek nie. Inteendeel, hy vind hulle kortaf en stug. Dit sluit sy pa in.
Die res van die prosessie bestaan uit ‘n Ab Antonio, met heel voor sersant Joep, stasiebevelvoerder van die polisiepos op die dorp. Ab Antonio het sy swart myter op en is verder geklee in ‘n wit py. In die regterhand dra hy ‘n wierookvat wat reeds grys rookwolkies die vroeë aandlig instuur.
Sersant Joep is ‘n groot gesette man met ‘n welige kuif swart hare. Hy dra ‘n dubbelloophaelgeweer in die waai van sy regterarm. Sy gesig is uitdrukkingloos en die oë is klein en donkerbruin.
Hulle loop in gelid met die laan van reuse ou eike langs. Hulle bevind hulle aan die suidkus van Suid-Afrika en ‘n wind wat dreig om stormsterk te raak, ruis deur die eike. Die eike is geplant net nadat die huis in die laat agttienhonderds gebou is en is reusagtig en lowerig op daardie someraand.
Hulle is onbewus van ‘n donker figuur in die top van een van die bome. Hy gaan ongemerk verby, omdat die blaredak hom verberg en ook omdat die lede van die prosessie nie links of regs kyk nie. Hul doelwit is die imposante herehuis wat agter op die vier hektaar landgoed staan. Die gedierte onthul homself ook nie. Net sy twee groot oë draai in hul kaste soos hy die prosessie se gang volg.
Die herehuis is van laat Victoriaanse argitektuur, ‘n reliek van die tyd toe die Britse kolonialisering van Suid-Afrika in volle swang was. Die eienaar is reeds die vierde geslag wat die afgelope 125 jaar die huis bewoon. Hy is ‘n jong psigiater, ‘n man genaamd Ernest Jacobs. In die vele vertrekke van die huis het hy vir hom ‘n ontvangskamer en spreekkamer ingerig. In die spreekkamer ontvang hy pasiënte van alle beskrywings, aangesien die praktyk nog nie gevestig is nie. Oor ‘n paar jaar, wanneer sy reputasie vir die behandeling van kriminele versteurings gevestig is, sal hy spesialiseer.
Maar hy’s nog jonk. Hy’t in die groot huis opgegroei. Die huis het ‘n geskiedenis.
Ernest Jacobs I het sy bruid in 1890 dorp toe gebring en die imposante huis vir haar gebou. Die jong getroudes het gereeld onthaal en was gewild onder die inwoners. Hulle het drie seunskinders gehad en toe was daar ‘n verskriklike tragedie. Die oudste enetjie was so om en by nege jaar, toe hy die jongste kind met ‘n haelgeweer doodgeskiet het. Die amptelike bevinding was dat dit per ongeluk was. Maar die swart bediendes, wat in die plaaslike lokasie genaamd Pampierstad gebly en bedags in en om die huis gewerk het, het ‘n ander storie vertel.
Die oudste enetjie was ook Ernest gewees. Ernest II. Opvlieënd en impulsief was hy. Sy ma het hom te veel laat begaan, is gesê. Hy’t die idee gehad dat hy oor sy boeties geregeer het en miskien was die kleinste enetjie nie daarmee tevrede gewees nie.
Net die wat in die huis was, het werklik geweet wat gebeur het. Die ma is daarna bitter min in die openbaar gesien. As sy ingegaan het dorp toe, was sy gesluier en afsydig. Haar man, ‘n sielkundige wat, volgens die vooraanstaandes in die dorp, onder Breuer en Freud in Europa gestudeer het, is ook maar min gesien. Wat wel waar was, was dat die man die vrou se histeriese uitbarstings met poeiers, pille en strope gedokter het. Opium meestal, het een ingeligte, een van die min in die sielkundige se binnekring, vertel. Die gewelddadige dood van die jongste het soos ‘n vloek oor die gesin en die huis neergedaal.
Nou werk Ernest Jacobs IV, saam met die plaaslike polisieprefektuur soveel hy kan. Hy behandel krimineel versteurdes wat deur die hof na hom verwys word. Dis ‘n winsgewende toeloop na sy praktyk toe. Sy enigste bekommernis is dat die speurders soms daarop aandring dat hy saam met hulle polisiewerk moet doen. Soos die groepie wat op daardie oomblik met die laning langs na die voordeur aangemarsjeer kom, kan sy lenige figuur in die kosyn gesien word, waar hy hulle staan en inwag.
Sy aandag is gevestig op die voorloper met die haelgeweer. Sy oë is half op skrefies. Hy hou nie van wat hy sien nie. Haelgewere is verbode in die huis. Sedert die tragedie jare gelede, is dit tradisie. En hy is in die tradisie grootgemaak.
Ab Antonio het hom die vorige week kom spreek. Hoogs beswaard oor die werking van ‘n bose gees in sy gemeente. Hy was nie spesifiek nie. Al wat hy kon sê is dat die bose ‘n amorfe swart ding is wat die siele van mense binnedring en daar sy onheil bewerk. “U verstaan wat ek bedoel?” het Ab Antonio toe gevra en indringend na Ernest Jacobs IV gekyk. Laasgenoemde het hom dom gehou en net sy kop geskud.
Dit was egter vir hom duidelik dat die storie van Ernest Jacobs II nog sterk in die kontrei loop. Sy huis- en tuinwerkers weier om na sononder op die landgoed te wees. Onder hul geledere is daar diegene wat hoog en laag sweer dat hulle al vir Ernest Jacobs II gesien het. Die sieners het by tye ook maar oormekaar gelieg. Want vir verskillende mense was dit ‘n geval van verskillende manifesterings van Ernest II. Katte is die meeste uitgesonder as die manifestasie van Ernest II se gees. Maar ‘n kat word vir baie dinge in die kontrei geblameer. Baie ander het weer niks gesien nie, maar is verskrik gelaat deur die gees van die landgoed en die huis. Met ander woorde dit was net die onrustige, vreesagtige gevoel wat jy kry na sononder.
“Die bose gees moet uitgedryf word,” het Ab Antonio uiteindelik gesê. “En met alle respek teenoor u voorsate, is dit my openbaar gemaak dat dit die rustelose gees van u voorvader, Ernest Jacobs II is, wat hier uit ons gemeenskap gedryf moet word. Ek wil u dus versoek om toestemming te gee dat twee van my gemeentelede wat besete is, hierheen gebring kan word en die bose gekonfronteer en uitgedryf kan word.”
Ernest Jacobs IV het net geknik. Sou hy nee gesê het, sou Ab Antonio nogtans op ‘n maanligaand met die besetenes opdaag en ongenooid op die landgoed rondloop en uitdrywingsrituele uitvoer.
“Wie is besete?” het hy gevra.
“Dis die natuurkunde-onderwyser, Lood, en sy vyfjarige seun wat besete is. Ons moet hulle hier bring. Hier waar die rustelose siel van u voorvader Ernest Jacobs II dwaal en hom konfronteer.”
So het hulle dan ‘n afspraak gemaak vir die eersvolgende Saterdagaand. En nou is die prosessie aan’t marsjeer langs die eikelaan op na hom toe. Hy keer sy rug op die deur en stap weer die ontvangskamer van sy praktyk in. Hy skink vir homself nog ‘n whiskey en gaan sit in ‘n gemakstoel en wag.
In die volgorde waarin hulle geloop het, stap hulle die huis binne. Sersant Joep met die haelgeweer eerste.
“Is daai geweer veilig?” vra Ernst Jacobs IV.
“Veilig. Die patrone is in my broeksak en die hane is nie gespan nie.”
“Goed … naand, Ab Antonio.”
“Naand, meneer Jacobs,” sê Ab Antonio afgetrokke en loop agter die wierookvat aan wat hy metodies aan ‘n ketting in elke hoek van die vertrek rondswaai. Hy brand mirre en die effe bitter, harsagtige geur vul die vertrek.
Lood kom ook binne, nadat hy die kind op die trap sitgemaak en hom beveel het om net daar te bly sit. Hy lyk effens verlore. Hy ken Ernst Jacobs IV glad nie. Maar hy ken die legende van die Jacobs familie.
Sersant Joep gaan sit op die ander gemakstoel in die ontvangskamer. Hy laat rus die haelgeweer oor sy knieë. Lood draai rond en stap dan weer uit en gaan sit langs sy seun buite op die trap. Ab Antonio bly besig met die wierookvat en mompel gebede. Ernst Jacobs IV drink slukkies whiskey en is verder stil. Buite raak dit donker en hy raak effe geïrriteerd. Hy wens hulle wil hul duiwelsuitdrywing begin en klaarkry.
Ab Antonio is die enigste een wat enigsins ‘n gees van dringendheid openbaar. Hy beperk homself nie net tot die ontvangskamer nie, maar wandel op die stoep uit en bewierook die buitelug ook. Die heeltyd prewel hy amper onhoorbaar.
Met die koms van die aand, begin die gedierte wat in die top van die ou eik geskuil het, ook beweeg, want daar’s ‘n roering in die lower. Hy klap sy vlerke, waar hy onderstebo aan ‘n tak met sy kloue hang. Hy’s ‘n reuse dier met ‘n vlerkspan van by die twee meter. Sy pels is swart en die rooi uitpeulende oë kontrasteer met die pels. Die kop is smal en die gesig word in beslag geneem deur twee rooi uitpeulende oë en ‘n lang dun neus. Tande so skerp soos naalde is in die kakebene geset. Daarmee steek hy gate in sy prooi se vel tot die bloed vrylik vloei en dan lek hy dit met ‘n lang pienk tong op. Die wêreld het nog nie so ‘n kreatuur gesien nie. Die laaste sonlig is nog net ‘n karmosynrooi streep op die westelike horison, toe blaf die gedierte meteens. ‘n Hoë loeigeluid volg, soos van ‘n wolf in ‘n woud.
In die ontvangskamer tel sersant Joep die geweer van sy knieë af op en kyk na die ander. Niemand sê egter iets nie en sit net in afwagting en luister. Ab Antonio bid effens harder. Ernst Jacobs IV frons en teug aan sy Whiskey.
Buite kom Lood orent op die trappie waar hy gesit het. “Daar’s iets in die boom,” sê hy.
Die kind frons en kyk vraend rond – eers op na sy pa en dan in die rigting van die laning bome.
Ab Antonio stap tot by die boonste trappie en waai met die wierookvat heen en weer.
“Kwak-kwak-kwêk,” roep die gedierte dan nes ‘n gans.
Lood stap teen die trappe af en loop ‘n paar tree vorentoe op die werf.
Sersant Joep verskyn in die voordeur, die haelgeweer rustend in die waai van sy regterarm, met Ernst Jacobs IV wat reg agter hom oor sy skouer kyk. Hulle almal sien die roering tussen die eikeblare.
Lood loop vorentoe met die kind agterna.
“Stadig nou…” waarsku sersant Joep toe dit lyk asof Lood sommer wil aanhou loop.
Lood bly vorentoe loop, asof gefassineerd. Hy’s al ‘n goeie 30 meter van die stoep af, met die kind bangerig en trippelend op sy hakke.
Ab Antonio bid nou luid. Hy resiteer al die bekende gebede om die bose te verdryf. Een na die ander sê hy die gebed aan die Aartsengel Migiel, die Onse Vader, die Anima Christi en die gebed aan die Maagd van Guadalupe op, en volstaan dan met die kragtige gebed van die Heilige Benedict.
“Lood!” roep sersant Joep verontrus uit. “Staan stil!” Hy loop self vorentoe en teen die trappe af.
Ernst Jacobs IV bly in die deuropening staan, Whiskeyglas in die hand. Hy frons. Hy het grootgeword met die legende dat Ernst II, die moordenaar van sy eie klein boetie, by sy dood in ‘n vlermuis verander het en gedoem is om vir ewig in die naghemel rond te fladder.
“Hoeeei! Hoeeei!” loei die gedierte weer en skud die takke van die eikereus.
Sersant Joep en Ab Antonio sluit hulle by Lood aan en voetjie vir voetjie begin die drie in ‘n linie vorentoe loop. Sersant Joep druk reeds die kolf van die geweer teen sy skouer vas.
Lood kyk om na die kind. Laasgenoemde het onseker stil gaan staan. “Terug, terug!” skree hy vir die kind en wuif met een hand in die lug terug in die rigting van die stoep. Die kind gehoorsaam en stap omkyk-omkyk terug na die trappe, waar hy weer op die boonste trappie gaan sit.
“Keraaak-keraaak!” skree die gedierte nou en in die groeiende donkerte styg ‘n groot swart amorfe vorm die lug in.
“Boem!” skiet sersant Joep. ‘n Geel vlam blits in die halfdonker by die een loop van die haelgeweer uit. Die skoot moes getref het, maar die enigste uitwerking is ‘n gloeiende stralekrans wat om die lyf verskyn – ‘n lyf wat op daardie oomblik as die van ‘n vlermuis herkenbaar is. “Moerskont, het hom!” roep sersant Joep uit.
Die vlermuisding wys egter geen teken van ‘n besering nie. Hy pyl reguit die lug in op en swenk dan suid in die rigting van die ingang van die landgoed toe. Lood, sersant Joep en die biddende Ab Antonio volg. En uiteindelik is hulle by die ingang waar die gedierte sirkel en agter hulle sit die kind alleen en klein op die trappie.
In die huis skink Ernst Jacobs IV vir hom nog ‘n whiskey. Sy hande bewe. Dis Ernst II, dink hy in ‘n waan en gaan sit weer in die diep leunstoel in die ontvangskamer.
Buite het die vlermuisding weggedraai en uit sig uit verdwyn. Maar net momenteel, want die volgende oomblik sien hulle sy vlermuis vorm afgeëts teen ‘n groot geel opkomende maan. Sersant Joep herlaai. Lood en Ab Antonio staar na die vlermuisding.
“Boem!” skiet die sersant weer.
Ab Antonio fokus nou uitsluitlik daarop om die gebed van die Heilige Benedict te resiteer, sy stem sangerig en vals op die aandlug. Dan skielik verstar die drie.
Vanuit die naghemel duik die vlermuis reg op die huis af, na waar die kind op die trappie sit. Dit, terwyl die drie mans amper drie honderd meter weg is.
“My kind!” skree Lood en begin hardloop en sersant Joep volg terwyl hy sommer so in die hardloop herlaai. Ab Antonio dek die agterhoede, maar hy vorder maar stadig.
Dis egter te ver weg. Die vlermuisding duik geruisloos deur die lug op die kind af, sy maer bene voor hom uitgestrek, die kloue oop. Lood en sersant Joep doen hul bes, maar dis of tyd op daardie oomblik stil gaan staan en asof die treë wat hulle gee, hulle nie nader aan die kind bring nie.
Dan vou die vlerke van die vlermuisding om die kind, verberg hom en lig hy die kind gemaklik in sy kloue in die lug in op. Net Lood hardloop nog, sersant Joep het gaan staan en korrel nou met die haelgeweer na die vlermuisding. Ab Antonio val langs hom in, nog steeds biddend, hoewel hy uitasem is.
“Boem!” skiet sersant Joep. En: “Boem!” met die ander loop dat die lug helder met die vlamme vanuit die lope verlig word.
“Keraaak! Keraaak!” skree die vlermuisding.
“Moerskont, het hom!” roep sersant Joep uit. Weer is daar die weerlig krans om die vlermuisding se lyf en hy los die kind amper twintig meter in die lug in op.
Toe die klein liggaampie die grond tref, is Lood feitlik onmiddellik by. “My God! O, my God!” skree hy. Hy wil die kind optel, maar die middellyfie is net ‘n sponserige bloederigheid, waar die bokhael hom getref het. Hy trek sy hande terug en staar na sy bebloede vingers.
“Kyk, kyk wat het jy gedoen,” sê Lood toe sersant Joep uitasem langs hom kniel.
Ab Antonio, met sy myter nog wonderbaarlik op die kop, stop by hulle en toring bo die toneeltjie uit. Dan spreek hy die dooie aan: “Gaan voort, Christensiel, vanuit hierdie wêreld in die naam van God die Almagtige Vader, wie jou geskape het…” begin hy.
Lood lê snikkend op sy knieë op die kweek.
Sersant Joep draai ylings op sy hakskene in die rondte, soos hy die vlug van die vlermuisding volg.
“Keraaak! Keraaak!” hoor hulle die ding nog vir oulaas skree, terwyl hy pylreguit na die Jacobs-familiebegraafplaas toe vlieg. Hy mik na die graf van die lank oorlye Ernst Jacobs II, om daar neer te daal en daar te wag vir die volgende slagoffer.
