Elke hond kry sy dag

Wat is mooier as ‘n draaijakkals op volle vaart? Met daardie vosstert word die liggaam met die fynste balans gestuur om keer op keer sy agtervolgers die loef af te steek as hulle in die lug hap. Jy sien die rooibruin en silwer blerts teen die bosse vir enkele sekondes in die ooptes. Maar dan maak hierdie jakkals ‘n lewensbelangrike fout – hy vlug in ‘n erdvark se gat in en die kring trek die strop al nouer om hom!

In die Hantam is jakkals-se-kind ‘n ongewilde kuiergas op plase wat leegstaan na die uitgerekte droogtes. Menige boer moes die brakwater-oases verruil vir die chloorwater-reservoirs van die stede, en sy orige paar slagggoed oorlaat aan die buurman se goedhartigheid, waarvan daar baie is, of aan ‘n gehuurde voorman wat nie erg het aan die ongediertes nie en aan die lot van die skaap nog minder.

As ‘n jakkals ‘n probleem word, word ‘n val gestel. ‘n Halfgevrete lam word as aas gebruik en die hok word in ‘n rivierloop gestel waar die jakkals gewoonlik deurkom. As dit nie werk nie, word al die bure opgekommandeer en ‘n strategie uitgewerk om die vos te laat geld vir die verlies wat aan hom toegeskryf word.

Met sonop, as die oostewindjie so deur murg en been sny en die oorskot Duitse weermagjasse nie veel help nie, kom die “kommando” bymekaar. Die gemoedere is vrolik onder die mense want dit drink gou net ‘n koffie of staan wydsbeen oor ‘n vuurtjie om die laaste bietjie warmte op te slurp. Net Nagmaal oortref so ‘n gesellige byeenkoms en daar word oor alles en nog wat gesels. Veral vir die arbeiders is dit ‘n heerlike kuier want afstande tussen die plase is groot en die kuier min.

Die skuts word op ‘n lyn afgelaai. Die arbeiders word ook in ‘n lyn afgelaai, lynreg tot die skuts sodat, sou hulle die jakkals opjaag, en dié reg voor die skuts sy opwagting maak. Die honde is natuurlik by die arbeiders. Daar is ‘n onderlinge wedywering oor wie se hond nou eintlik die jagtersinstink en vreesloosheid het om die jag suksesvol af te handel. Maar kyk ‘n mens na die spulletjie dan wonder jy maar net .

Dié wat nou die jakkals moes opjaag se opdrag was om so ‘n meter, meter-en-‘n-half uitmekaar te loop, niks meer nie, want anders sou die jakkals nogsteeds tussen hulle kan deurskiet. Met die eerste loop was daar sommer vroeg-vroeg opwinding want twee manne het te lekker begin gesels en die formasie gebreek, met die gevolg dat die blits by hulle deur is erdvarkgate toe! Dit was so al asof hy geweet het dat die manne êrens ‘n fout sou maak en daarvoor gewag het!

Maar die erdvarkgat was ‘n doodloopstraat. ‘n Pad in, maar nie uit nie, want daar het in ‘n ommesientjie twee kringe rondom die gate aangetree – die grofgeskut in die binnekant en die arbeiders met hul kieries op ‘n afstand .

Skielik is almal stilgemaak. ‘n Hond tjank-blaf diep ondergronds in een van die gate! Die eienaar van die hond is aangesê om sy hond aan te hits. Dit was nou ene ore en oë om die gat. Gewere is oorgehaal. Die spanning laai op! Dan kom die hond in trurat by die gat uit! “Kyk daar is bloed aan sy bek.” Sy eienaar ondersoek hom gou en bevind dat dit ‘n ander dier se bloed is. Is dit die jakkals se bloed?

Met allerlei beloftes word die hond soveel kos beloof dat sy vel nie gou weer so styf oor sy ribbes sou kon span nie! Altans nie in hierdie lewe nie. Weer tjank die hond en ‘n gat word vertikaal net agter die geluid gegrawe, met dien verstande dat die hond aan sy agterpoot uit die gat geruk sou word en die grofgeskut oorgehaal sou wees om die ou jakkalsie se bestaan te beëindig. Ek moet nou sê dat dit die teorie van die jag was. Praktyk en teorie stem egter nie altyd ooreen nie. Toe die hond uit die gat geruk word, sweepslag ‘n rooibruin karkas agterna. Al wat ‘n skut is, vergeet van die jakkals en soek skuiling! Van hul vroeëre manhaftigheid was daar nou nie veel te sien nie!

Die dag is gered deur hierdie basterbrak want toe almal tot verhaal kom, is jagter en prooi byna onlosmaaklik gebonde. Die jakkals kry op die plek ‘n kopskoot en is ewe triomfantlik op ‘n bakkie gegooi om uitgestal te word. Darem jammer om so ‘n pragtige dier so leweloos en stukkend te sien lê.

Dan ontvou die volgorde van gebeure in die gat. Die werfhond was agter die jakkals die gat in. Die tonnel het skielik opgehou en daar was nie draaiplek vir die jakkels nie en die opportunistiese hond het toe die indringer, by sy flymskerp tande verby, aan sy keel beetkry en so die nekslag toedien. Met die uitgrawe en uitpluk van die hond, het hy vir ‘n tweede keer die (toe reeds dooie) vos gedomineer deur hom aan sy lip beet te kry. So is dié twee saam-saam, onseremonieël uit die gat gepluk. Ironies dat ten spyte van al die skietgoed, dit ‘n basterbrak-werfhond was wat die eer vir die vangs moes kry. En raai, skielik was daar nog ‘n Jock of the Bushveld in wording want die werpsels is vooruit bespreek sodat almal kon deel in hierdie onbevreesde bloedlyn, en aanbiedinge van tewe vir hierdie jakkalshond nog veel plesier sou verskaf! Ja, elke hond kry sy dag, en ‘n brak … dalk twee.

bydrae: Emile de Villiers

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar