deur Ferdi Wheeler
Die stad brand. Bert van der Burg staan in die hol oog van die woonstel se ontplofte venster en staar oor die skouspel uit. Dis ‘n manjifieke vuurwerkvertoning. Op die horison, waar die raffinadery brand, borrel ‘n helse vuur uit tien verskillende brandende petroltenks die lug in. Soms is die vlamme, wanneer daar ‘n ontploffing is, paddastoelvormig en dan weer word dit hoë oranje tonge wat uit die verwronge gate in die tenks se plaatstaal koepels uit na bo lek.
Hy staan op die tiende verdieping van die gebou wat gedien het as die hoofkwartier van die president. Die gebou is nou voos geskiet deur kanonne, masjiengewere, lug-tot-grond-missiele en granate. Sy staanplek bied hom ‘n wye panorama oor die hele stad heen. Behalwe vir die zoemende woede van die brandende raffinadery, is die hele stad in daardie donker nag oortrek met oranje, rooi en geel vuurkolomme wat in felheid groei en vuurstorms met loeiende winde die donker dele van die nag instuur. Ongeankerde dinge soos die stoele en tafels van sypaadjie restourantjies wat verlate gestrooi in strate rondlê, word gulsig in die werwelkolom van die vuur ingesuig en stook die woede van die inferno. Binne ‘n paar ure sal die hele stad ‘n vlammesee wees en, as die son dof oranje soos ‘n ontblote eiergeel agter die gordyn van rook en gifgas opkom, sal net die swartgebrande murasies en die smeulende ineengestorte puin oor wees.
Hy draai om. Die sole van sy modieuse skoene se sole knars op die gebreekte glas. Hy staan in die ruim leefkamer van die woonstel. Die onvervangbare en duur meubels is bedek met stof en glas. Die stoele het almal, asof in ‘n sameswering, op hul rugkante omgeval. Hy stap afgemete na die drankkabinet toe en maak die skuifdeur oop. Die drankbottels binne in is nog ongeskonde. Hy buk en vat ‘n bottel sjampanje en kom regop sodat hy in die rak met glas kan inkyk. Dit was die beste glas wat geld kon koop en alles is vergruis. Hy draai om terwyl hy die draaitjie om die kurkprop losdraai. Hy loop weer tot voor die gapende venster en wikkel die kurkprop los. Dit skiet met ‘n ligte pop los en vlieg met ‘n boog die nag in en die tien verdiepings na benede. Die vonkelwyn bruis by die bottle se bek uit en loop lou oor sy hand. Hy bring die bottel na sy mond en teug diep aan die wyn. Dit brand sy maag. Hy drink die helfte van die bottle uit terwyl hy na die vuur kyk. Gou voel hy lighoofdig.
Hy draai om en stap knarsend by die leefkamer uit na die slaapkamer toe. Swaar gordyne van damas hang aan flarde voor die vensters. Die spookagtige lig van die vure weerkaats dof in die vertrek. Hy wend hom tot die hemelbed. ‘n Vrou in ‘n modieuse tabberd lê op die bed. Hy neem ‘n teug uit die bottel.
“Veronica! Veronica!” roep hy uit, maar sy beweeg nie. Hy stap na die bed toe. Sy lê aan die ver kant van die bed en hy moet om dit stap. “Veronica!” sê hy weer skerp. Hy buk oor haar en kyk in die mooi gesig wat vredig met toe oë daar lê. Hy steek ‘n hand uit. “Veronica, my skat! Word wakker!”
Haar oë gaan oop en kyk byna starend na hom.
“Veronica, kan jy my hoor?”
Sonder om te antwoord, sit sy regop en swaai twee welgevormde kuite van die bed af. Sy raak aan haar kapsel. “Wat kan ek vir jou doen?” vra sy en haar stem is sag en melodieus, amper te volmaak. “Is jy alleen? Wat is jou behoefte?”
Hy tree terug. Hy weet nie wat om te sê nie. “Ek verlang na jou,” sê hy.
“Ek verlang na jou ook,” sê sy en staan op. Hulle staan teenoor mekaar. Sy neem sy gesig in haar hande, leun vorentoe en soen hom. Haar mond is vogtig en warm. Hy soen haar met oorgawe. Dan draai hy weg van haar af en neem eers ‘n sluk uit die bottel voordat hy na die leefkamer toe terugstap.
Sy volg hom nie. In die leefkamer tel hy een van die omgevalle stoele op, stof die bekleedsel met een hand af en plak dit voor die oop venster neer. Hy gaan sit bottel in die hand en staar oor die stad uit. Na ‘n paar minute is daar die geluid van glas wat knars. Hy draai in sy stoel om en kyk na haar.
Sy is nakend. Sy stop in die middle van die vertrek en kyk na hom, die vol lippe effens oop en die lang blonde are kartelend om haar gesig. Haar liggaam is volmaak. In die fabriek van die gode is sy volmaak gemaak. Die nek is slank en vloei in een lyn in die skouers in. Die holtes agter die sleutelbene in haar skouers vorm klein skaduwees. Die borste is vol, maar nie te groot nie. Die middeltjie en die heupe kontrasteer sensueel. Die bene is lank en slank en verklaar haar lengte van een meter 80 sentimeter.
“Ek verlang na jou, President,” sê sy. “Ek is tot jou diens.”
Sy tree oor die gebreekte glas met haar kaalvoete na hom toe en sit haar hande op sy skouers. Hy sidder effens. In die vêrte ontplof een van die petroltenks en vorm ‘n supernova in die nag. Nog een ontplof. Dan word die rede daarvoor duidelik: die stralers is terug. In ‘n oogwink het hulle die afstand tussen die horison en die woonstel afgelê en snou oorheen terwyl hulle die stad bombardeer en met masjiengeweervuur omploeg. ‘n Paar van die 50 millimeter koeëls slaan agter hulle in die mure vas en ontplof. Stof hang in die vertrek.
“Sing vir my,” sê hy en gooi die leë bottel die nag in.
“Het u enige versoek?”
“Sing ‘No One Like You’,” sê hy, staan op en stap na die drankkabinet toe. Hy vat nog ‘n bottel sjampanje en maak dit oop. Hy sluk die bruisende wyn af.
Die stralers sirkel oorheen. Vlaag op vlaag is nou oor die stad. Paddastoele vuur ontplof orals. Sy gaan staan voor die venster en begin sing. Haar stem is laag en hees.
Twee stralers breek uit formasie los en pyl op die woonstelblok af, hul masjiengewere blits in die vlerke. Die hele gebou word in stof gehul soos al die verdiepings onder die ligte kanonne deurloop. Een koeël tref haar vol in die maag en die geweld daarvan slinger haar agteroor tot teen die agterste muur. Die koeëls ontplof orals in die vertrek en alles ruik na lidiet en stof. Splinters skrapnel deurboor sy lyf. Hy laat val die wyn en syg op die grond neer. Vanaf sy hurke val hy stadig agteroor op sy rug terwyl hy haar steeds hoor sing.
Hy lê op die gebreekte glas wat hom gesel en hy draai sy kop na haar toe. Haar onderlyf is weg. Die torso en die kop is ongeskonde. Sy minnares wat hom nooit verraai het nie. In die oopgeskeurde onderste deel van haar torso sien hy die vonke van die kragbron wat haar animeer, se oop, gebreekte bedradingspunte wat teen mekaar skok. Hy rol op sy maag om. Die stralers brul oorheen. Hy kyk oor sy skouer en sien die blou vlamme wanneer die loodse die stuurstange terugtrek en hulle snel op in die naghemel in klief. Hy seil op sy maag tot by haar. Die pyn laat hom amper flou word.
“Vernocia, my skat, kan jy my hoor?” vra hy.
“Ek kan jou hoor my president,” sê sy.
“Gaan saam met my die ewigheid in,” sê hy.
“Op die telling van tien?”
“Tien.” Sy begin die einde afgemete aftel. Toe sy by nege kom, druk hy sy hand in haar bedrade ingewande in. Toe sy tien sê, is daar ‘n fel en helder flits.
