Hennie se wraak

In Heidelberg is daar twee ou broers, van dieselfde ma en pa, maar verskillend soos Adam se Kain en Abel. Die een was ‘n koringboer en die ander ‘n veeboer – hier moet ons die Kain en Abel analogie maar eers laat vaar want die twee broers sou nie droom om die hand teenoor mekaar op te tel nie. Maar verskil het hulle wel soos dag by nag. Waar ek sommer kon “Hennie en Christine” sê, het ek ge-“oom Frans” en ge-“tannie Miemie”.

Hennie die veeboer was blas verbrand deur die vlakteson terwyl hy lang ure by sy vee deurgebring het. Oom Frans was meer aries van gelaat en rooi gebrand as die son hom met oestyd deur die lugverkoelde stroperkajuit gekou het.

So het die verskille al verder getrek.. Oom Frans het bokant die nasionale pad gewoon en Hennie duskant die pad. Oom Frans het in ‘n moderne huis gewoon en Hennie in die ou familieopstal met sy groen deure en hortjies, wat al tot monument verklaar is.

Oom Frans het ‘n Mercedies Benz gery en Hennie ‘n VW Passat. Oom Frans het in Stilbaai ‘n rondawel gehuur vir die lang vakansies en Hennie in Hartenbos. Oom Frans het in die Landbou ko-operasie as direkteur gedien en Hennie was ouderling vir Krombeksrivierwyk. Oom Frans het in die Tweede Wêreldoorlog as ‘n kolonel gedien. Hennie het tydens `n stormagtige verkiesing toe daar net anderkant sy plaas ‘n padblokkade was, vir elkeen van die soldaatjies ‘n oorvloed braaivleis gegee.

Oom Frans is ‘n diepkind van die Here, maar baie formeel in sy godsdiensuitlewing. Hennie met sy diep stem en vaderlike wysheid het Vrydagaande sy gedagtes oor die Woord tydens ons bybelstudie laat hoor.

Oom Frans was bestuurslid van die Nasionale Party-tak op Heidelberg en Hennie, nou ja hy was te besig Vrydagaande om bybelstudie te doen en het nie tyd vir die politiek gehad nie. Dit was nou voordat die Konserwatiewe Party afgestig het van die Nasionale Party. Maar toe die breuk kom, het Hennie besluit om vir Volk en Vaderland te werk en moes hy Vrydagaande hertoewys vir die party se sake! Hierdie broers het soos dag by nag verskil, maar alles het broederlik daaraan toe gegaan.

Maar op een punt was oom Frans altyd voor. Skaars het Hannes Bester die kerkklok vir die tweede gelui oor die dorp laat beier of oom Frans en Tannie Miemie het statig hul plekke in die familiebank ingeneem. Met die derdegelui was daar vele oggende ‘n laat beroering as Hennie, Christine en hul kinders vervaard na hul sitplekke skarrel.

Hennie het gepraat met Christine en die kinders maar kon hulle nie beweeg om daad by die Woord te voeg en vroeër op te staan nie. Met ‘n vonkel in sy oog het Hennie “wraak” gesweer… Net een oggend se betyds wees sal vir hom tot in die derde hemel wegruk!

Die Sondagoggend het ek `n kinderdiens moes lei en besluit toe om my preekhulpe voor die erediens op die kansel te gaan neersit. In die kerk was daar skaars ‘n paar mense want die tweede gelui moes nog kom! Ek kon my oë nie glo nie. Hennie, Christine en hul kinders sit in hul bank op ‘n ry. En oom Frans en tannie Miemie – hulle was nog nie in die kerk nie. Hennie het geglimlag soos een wat biltong gesteel het. Na die erediens het ek Hennie moes vra hoe hy dit reggekry het om almal so betyds in die kerk kry.

Sy antwoord was:”Man sien, ek het gisteraand al die horlosies in die huis nageloop en dertig minute aangestel. Eers toe ons by die kerk kom en daar nog so min mense was, het Christine lont geruik!”

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Leave a Reply