deur Dedri Strydom
Leesstoffie van ‘n Londen-toffie
Rudolf het my nou net gemail en gevra van die vreemde mense by wie ek bly en toe dog ek, hey, siende dat ek in die mood is kan ek netsewel vir julle van my landpeople vertel.
Kim is die wit ma van 3 point-fivers (dis nou gemengde bloedjies, elk met ‘n verskillende pa, natuurlik). Sy is gesond gebou – mollig, rond, spekvet en gesond – en lag te lekker. Elke tweede woord is love. Oh, love, as ek ‘n slegte dag gehad het. Oh, love, as sy van een van my pertrette hou. Sy vra elke dag om net vir 5 minute op die internet op te gaan en bly dan ‘n uur. Die requests word gewoonlik voorgeloop deur: how much do you love me, oh love, of deerdriii, of ask the lodger if…
Sy maak ongelooflike kos en daar is feitlik altyd ‘n skraapseltjie vir my. Soms sit sy die oorskiet vir my in ‘n bakkie om werk toe te neem.
Russel is die oudste. ‘n Aantreklike 17-jarige wat op die oomblik kuns op college doen (nie dat hy ooit gaan nie). Hy rook permanent dagga, maak kompulsief skoon rondom 3-uur op ‘n Sondagoggend en sy totale woordeskat (behalwe vir die uitsondering) bestaan uit mompels en grunts.
Hy is ‘n lang maer ou, die kleur van chocolit Nesquick en sy broek hang altyd halfpad tussen sy toekoms en sy voete. Sy oudste broer (selle pa, ander ma) is Jason of Face van So Solid Crew (‘n helse lang pikgit lel met ‘n bokbaardjie, twee kinders en ‘n criminal record).
Sine (gesê: Shinay of eintlik Sheeenay) is 14 en meer grys as bruin. ‘n Absolute karakter. ‘n Mini pussycats foot dolls of watokal tipe. Lekker tieties en boude en ongelooflik vain. Kyk heeldag en aldag vir haarself in die spieël en noem my dedridarling. Haar gunsteling goed is haarself, haar mp3-speler en haar ass, en sy is soos ‘n sussie vir my, maar ‘n regte klein madampie. En tog, partykeer, as haar ma op haar gil en vir haar sê sy’s useless en “I gave you one room to clean. ONE ROOM. And i come back and it’s not done. Well LET ME TELL YOU SOMETHING”, met ‘n heupwaggle op elke woord en ek is altyd verbaas dat sy nie haar vinger in Sine se gesig metronoom nie, “YOU ARE GROUNDED FOR ONE WEEK!”
Dan shrug Sine haar skouers en stryk die klere en was die skottelgoed en ek cringe, want as iemand so met my gepraat het, het ek vir ‘n week nie uit die bed uit geklim nie.
Morgan is 7 en gaps net goed wat rondlê en smeek om gevat te word. Soos 10 pond op die kombuistafel of tjoklits wat los rondlê. Hy is ongelooflik intelligent en onthou die kleinste details van ‘n storie. Hy dra ‘n Harry Potter brilletjie en het krulhare. Hy is gedurig in-en-uit my kamer met interessante stories of ‘n nood – potlood, gom, liniaal, sker, lekkers, papier, wondergom…
Ons kry ons toiletpapier courtesy of the corner pub – ek weet nie of hulle weet van hierdie generosity nie. Ek dink nie so nie. Vra niks, dan is daar niks. My koffie en melk is gedurig op en die safeste bet is om maar te koop op pad huis toe, want die odds is dat iemand dit gebruik het.
Soos ek nou die ding weer deurgelees het klink hulle soos ‘n onaangename spul, maar ek is baie gelukkig saam hulle. Maandagaande kyk ons Next American Top Model en lag en remoer en doen handstane. American Idols is skreeusnaaks en om dit saam met hierdie lot te kyk is voorwaar ‘n fees. Ek leer woorde wat ek in ‘n miljoen jaar nie sou gehoor het buite die sfeer van ‘n council flat nie. Hulle klere hang altwee my radiators vol en dis orrait, want Kimmie was my klere vir my. Ek eet hulle brood, want daar is geen nut daarin om ‘n hele brood vir myself te koop nie. Laataande raak Kim se soet-tand bietjie kriewelrig, dan deel ek choklits en crisps uit. As ek uitgaan sê hulle vir my of ek orrait lyk en Sine is gou om te sê ek lyk crap en dan iets anders voor te stel. Hulle ooo en aaa oor my prente of sê sommer pront-uit dis strooi. Kim leen my handskoene en gooi hulle weg. Ek gebruik haar naaimasjien.
Ek is regtig geseën in my huislewe.
toei toei
skrywer: Dedri Strydom
