Raak groot

Leesstoffie van ‘n Londen-toffie hoofstuk 6

‘n Mens dink jy raak groot.

‘n Mens dink jy is nou mooi groot genoeg om te trou en jou lyf volwasse te hou. Ja, toe, lag nou, asof jy dit nie al self telke male gedink het net om soos ‘n absolute pit te voel nie.

En dan kom ietsie kleins oor jou pad, man, ‘n slakkie van ‘n ding, en jy vou. Jy vroetel op die vloer rond vir jou kombersie of jou teddiebeer of jou tietiebottel en jy besef dat jy nou oud genoeg is om hakskoene en make-up te dra, oud genoeg om te sê JA vir die res van jou deurmekaar lewe, en jy wil skree. Jy wil op jou ma se skoot gaan sit en vir haar sê sy moet reg maak wat jy opgemors het (amper skryf ek moers en dit sou seker ook gepas wees), maar jy kan nie, want jy kry jou eie pay check en jy bestuur jou eie kar.

Nou wat nou? Wat maak jy as jy sulke lelike goed op die vloer tussen julle stukkend gegooi het? Wie waag hulle sagte sole eerste? Wie vat die eerste tree? Of staan julle maar net en kyk vir mekaar met groot tranerige oë? Gaan julle maar net aan met julle lewens tot die hoop kak tussen julle so groot soos ‘n berg is?

Dis ‘n retoriese vraag. Hy was die groter mens. Hy het halfpad deur die skerwe gedans en gesê: kom, dis nie so moeilik nie. Hy smaail deur die seerkry en sê vir my: dit gaan orrait wees.

Lewer kommentaar

Leave a Reply