In ‘n oogwink


Ek staan vingeralleen op Frankfort lughawe. Iewers het ek my arms verloor, want ek het my misgis met die gewig van my handbagasie.

Dit voel of ek al vir kilometers agter die blou aanwysingsbordjies aanloop en nou is dit ‘n doodloopstraat … sementmure?

‘n Treinstasie? “I need to fly to Heathrow,” sê-vra ek vir ‘n vrou in ‘n uniform. “On a Lufthansa flight,” babbel ek verward, terwyl ek my boarding pass vir haar wys.

“Hop on the train, it’ll take you to the gates!” Sy klim ook op. “I’ll tell you where to get off.”

Die trein ry vinnig en seepglad. Die vrou in die uniform speel op haar selfoon. Kou borrelgom. Wys met ‘n enkele kopbeweging dat ek moet afklim.

Weer volg ek die aanwysingsbordjies en kom by die sekuriteitsafdeling.

Daar moet ek my baadjie uittrek en al die deurskynende plastieksakkies in my handsak uitpak. Alles gaan in ‘n houer wat ge-scan word. Dan is dit my beurt om ge-scan te word. Ek staan wydsbeen met my voete op die geel geverfde voete in ‘n glaskas. Arms in die lug.

Aan die anderkant trek ‘n vrou my aan die mou. “Come with me!” Sy gebruik haar hande om my kurwes te ondersoek. Ek moet my skoene uittrek. Dit word weggeneem vir verdere ondersoek.

Dan pluk sy my by die voorkant van my jeans. Trek my broek weg van my lyf en steek haar hand voor by my pantie in. “Sjoe,” raas ek in Afrikaans.

“Go!” sê sy ferm met ‘n strak gesig. Kaalvoet en half verontreg loop ek, soos ‘n afgejakte hond met sy stert tussen sy bene, na my bagasie. Ek begin aantrek en my goed terugpak.

“Not so fast lady, I need to inspect your luggage.” Die man maak die houertjie met my juwele oop. Hy sukkel met die ritssluiter. Oorbelletjies val oral.

Ek kruip op die vloer rond …

‘n Uur en ‘n half later klop my hart vinnig wanneer my vliegtuig op Heathrow lughawe neerstryk. Ek moet weer deur sekuriteit, maar die Britte is vriendeliker as die Duitsers.

Dis met ‘n slaak van verligting dat ek my lang skoonseun se kop bo die skares sien uitsteek.

Om die draai kom die kleinkinders op my afgepyl. Ek probeer my trane sluk.

Amy, die oudste, is voor. In vier jaar het sy ontpop in ‘n pragtige langbeen tiener. Rooi-bruin hare tot by haar middellyf. ‘n Fyn, blonde Zoё kom aangehuppel. Gou-gou leer ek dat sy selde loop: Sy spring en hop en borrel van energie. Die vyfjarige Eli was nog ‘n baba toe ek hom laas gesien het. Hy skuil skuins agter sy suster.

In die kar vat hy van agter aan my hare. “I remember you, you are my little ouma,” sê hy in ‘n Britse aksent.

Dis ‘n amper twee uur rit van die lughawe na die kus van Southampton. Dis koud en reënerig. Grys. ‘n Hele nuwe soort mooi.

Ons ry tot op ‘n groot veerboot en parkeer. Op die boonste vlak is daar ‘n restaurant en vermaak vir die kinders. “Dis so ‘n uur vaart na die eiland, Ma.”

Dan so tussendeur gelykpraat en rondkyk, sien ek haar in die vêrte: die Isle of Wight, heeltemal omhul in ‘n lae, dynserige wolk. Seilbote op ‘n amper branderlose kus.

In die grouheid is die bome en gras onnatuurlik groen. So as of iemand te veel groen verf gebruik het. Daar is stringe skakelhuise met blombakke voor die vensters. Kersfeesliggies.

Die strate is nou, maar die inwoners is beleef en gee mekaar beurte om te ry. Vet katte lê opgekrul op lae muurtjies.

Die winkeltjies en eetplekke is quaint, sonder fieterjasies. Ek merk vele koffiewinkels en kroeë. Elke tweede persoon op straat loop met ‘n regop stert hond aan ‘n leiband.

Ons kom tuis by die kinders se alleenstaande rooi baksteen huis. Die voordeur is potblou, met ‘n krans vol liggies. Binne ontdek ek ‘n pragtige vintage huis en ek ontmoet vir Mayo, hulle kat.

My skoonseun maak watertand toebroodjies met pastrami, agurkies, kaas en mosterd wat hy in spesiale sakkies in die broodrooster braai.

Eli bring ‘n groot handgemaakte Kerskaart. “This is for you …” Ek lees die inhoud: To Dad, Mom, Amy and Zoё. “Your name is not in it. When I made this card you were not part of the family yet,” verduidelik hy.

Amy bederf my met ‘n spesiale bad vol olies en kristalle en my dogter met ‘n heerlike maal. Die eerste van drie weke se vreeslik lekker eet. Voor bedtyd verf Zoë my naels. Elkeen in ‘n ander kleur en dan plak sy hulle vol blinkertjies. Sal maar my hande in my jassakke hou wanneer ons rondloop.

Ons gaan op daaglikse uitstappies om die eiland te verken. Ry al om die pragtige kuslyn. Die oop grys see is branderloos, wat dit wêreld bekend maak vir seiljagvaart. Die strande bestaan uit fyn bruin klippies. Ons besoek die bekende, asemrowende Needles.

Binnelands is die landelike dele oogverblindend groen. Skape en koeie wei in lang gras. Die perde dra baadjies teen die koue. Swane swem rustig op damme. Ons sien rooi eekhorings. Pragtige ou huise herinner aan kastele. Groot bome hang oor die paaie om tonnels te vorm waardeur ons ry.

Godshill staan uit. Dit lyk daar soos die prente op lekkerblikke. Ons beplan ons dae om vier uur in die middag, want dan is dit pikdonker buite.

Êrens op ‘n uitstappie is die polisie agter ons. Die sirene word aangesit omdat hulle wil verbykom. “Just sit up straight and try to act normal …” hoor ons vir Zoё agter in die kar. Ons proes van die lag en wonder oor haar skuldige gewete?

Ons besoek ‘n knoffelplaas. Het nooit besef daar is soveel verskillende soorte nie; Ons gaan na vele Kersfees karnavalle en ervaar die heilige kalmte van Kersfees op ‘n hele nuwe vlak; Ons eet middagetes in snoesige eetplekkies. Die aartappelskyfies is bruin en bros, sag binne.

By die ingang van een eetplek hang daar ‘n groot bord, ‘Eat like nobody is going to see you naked.’ Klink reg, ek is mos met vakansie.

Die kinders bederf my met ‘n rit op ‘n ou stoomtrein. Hulle bedien warm glühwein en fruit mince tertjies. Vader Kersfees is op die stasie en opgewonde kry die kinders presente.

Ons doen inkopies. Die rand/pond wisselkoers is erg. Ek koop ‘n paar goedjies vir 75 pond en ontvang ‘n SMS van Standard bank in Suid-Afrika: Ek het so pas R1800 spandeer!

Oujaarsaand gaan ons na ‘n regte Britse kroeg. Ons loop sommer af met die kinders. Kinders en diere is welkom. En ja, binne gekom is daar net soveel honde as mense. Hulle lê rustig langs hulle eienaars se stoele. Wanneer die persoon sy baadjie aantrek om huiswaarts te keer, kry die hond ook ‘n baadjie.

Tuis speel ek en die kinders Uno en Monopoly. Maak hulle vir my hope tekeninge en kaartjies, my tas is al propvol.

Intussen praat ek oor die foon met my kleindogter in Suid-Afrika. “Ouma? … um, um … Ouma Dusty? My boetie? Hy is nog stééds hier.” “Dis jou nuwe baba boetie, Mia, Eon gaan by julle bly. Vir altyd.” “Ja,” sug sy. “Hy moan heeldag …” “Probeer jy ten minste soet wees, né?” “Ja, maar dis baie moeilik vir Mia om soet te wees.”

Ek glimlag by myself. Dis goed om te weet dat dinge by die huis nog dieselfde is. Ek kan lekker verder kuier …

Time is precious, Waste it wisely
Time is precious, Waste it wisely
Dis egter net ‘n paar dae voor my beplande vertrek dat ons ‘n telefoonoproep uit Suid-Afrika ontvang dat Eon baie ernstig siek in die hospitaal opgeneem is. Daar het ‘n hoofaar in sy twee maande oue breintjie gebars. Hy het toe nie verniet so ge-moan nie.

Dis met ‘n swaar gemoed dat ek almal op die eiland groet. My tydjie op die eiland het verby gevlieg en ek weet nie wanneer ek hulle weer sien nie. Maar die kinders in Suid-Afrika het my nou nodig.

Ek moet weer deur Frankfort lughawe se sekuriteit. Hierdie keer is dit ‘n man wat my lyf ondersoek? Hulle roep die polisie om my bagasie te deursoek. Mans in swart uniforms, “polizei”, groot op hulle bors geskryf, krap deur my goed. Ander mense om my word net deurgelaat, maar my kop is so ‘n warboel van emosies dat ek nie omgee nie.

Ek is op ‘n plek waar ek toelaat dat God se water or God se akkers loop.

Ons vlieg oor Afrika. Deur die klein vliegtuig venstertjie kyk ek hoe die son getrou opkom. Sien ek leë damme wat in modderkluite verander het.

Afrika is droog en bruin. Waterloos.

Op Kaapstad lughawe slaan die hitte my. Mia wag my in.

“Ouma? … Ouma Dusty? My mamma slapies nie meer in haar bed nie. Sy en my boetie woon nou in hospitaal,” vertel sy terwyl sy braaf haar bewende onderlippie in toom probeer hou …

Terug by die werk verneem ek dat die kantoor oor twee maande sluit. Ek kry kennis …

En in Engeland is die kinders na die Kersvakansie terug skool toe. My dogter vertel dat dit nou bitter koud word. Sy stuur ‘n foto van die eens groen gras, nou bedek in ‘n grys yslaag

Want net so kan dinge verander.

Alles in ‘n oogwink.

Tik-tok, tik-tok.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar