Inkopiedag

Oom Hansie se aandag is nie op die pad nie. “Kwits” dink hy. “Hierdie nuwe Suid-Afrika werk soms op my spiere. Nou moet ek alweer dorp toe om dip te gaan koop oorlat Jonas die goed mos opvreet of iets.” Hy is nou sommer de vieste in en trap die pedaal van die bakkie dieper in.

Die ou Peugoet bakkie sluk-sluk een of twee keer, handhaaf dieselfde spoed en dis net die Oom gesigsuitdrukking wat verander waar hy vorentoe sit in afwagting. Hy skuif sy ou hoed stewiger oor sy kop en los ten minste twee nuwe salpetervlekke daarop. Die ou hoed het eintlik ´n lang geskiedenis, want Oom Hansie ry nie graag dorp toe sonder die hoed nie. Hy het destyds in die depressiejare die hoed gekoop by ´n Afrikaanse Jood wat deur die dorp gery het met ´n klomp negosie wat hy so langs die pad verkoop het. Maar later meer oor die hoed.

“Ou Vlekkie, jy moenie afkletter nie, die baas is haastig vandag” skreeu Oom Hansie agtertoe vir sy hond wat stertswaaiend oor die bakkie se kant leun. “En die mislikepalitet het ook noggie die slaggate reggemaak na laasjaar se reën nie” voeg hy by. Dis ook die rede hoekom Oom Hansie nog nie die Peugoet se shocks laat vervang het nie, want hy wag eers vir die nuwe pad. Hy is in elk geval die moer in vir die Koöperasieblond wat hom nooit met die nodige eerbied behandel nie. “Bid jou dit nou aan” reken hy. “Staan en kougom kou terwyl sy praat en dan buk sy boonop lat jy dwarsdeur tot oppie naeltjie kan sien” raak Oom Hansie skoon driftig daar waar hy sit. “Klein tert” mompel hy hardop.

Vlekkie spits sy ore en probeer om deur die ruitlose agtervenster in te klim. “My kwit hont!” skreeu Oom Hansie. “Hoeveel keer moet ek vir jou sê hierdie agterste venster is nie ´n treinstasie nie!” Oom Hansie draai heeltemal om soos hy sukkel om die hond terug te druk. Terselfdertyd gaan die bakkie deur ´n knik en hy en Vlekkie skiet altwee die lug in. Oom Hansie word skoon kortasem van moerigheid, ruk sy hoed van sy kop af en probeer die hoed regdruk waar hy nou plat gedruk is teen die dak met die wipslag.

“Hierdie dag verloop nou weer soos ´n tipiese magersfonteinmaandag” kla Oom Hansie en skuif die hoed weer reg. By die Koöperasie hou hy in ´n stofwolk stil voor die deur, sukkel uit en klap die bakkie se deur hard toe.

“Jy maggie daar stoppie Oom!” skreeu Bettie Vos van die deur af. Sy het weer vandag haar Superbra en een van daai rokke aan wat haar laat lyk soos ´n stoetpelikaan. “Nee ek gaat nou weer ry kinta” koer Oom Hansie terug, sy wrewel van netnou skoon vergete. “Ja maar die bestuurder het gesê hy gaat allie bakkies lat wegsleep wat oppie geel blok stop” kou Bettie voort en blaas ´n bubble met die kougom wat op haar lippe plak toe dit ontplof.

Toe Oom Hansie sy trollie om die hoek stoot, ry hy amper met trollie en al in die hoofdiaken se vrou vas.

“More Oom Hansie” groet sy vriendelik “hoe gaan dit?”
“Goed goed Alletta kind, jy weet mos, ek is altyd maar aan die gang”. Haar kind draai sy nek byna af van nuuskierigheid waar hy sit in die winkeltrollie. “More Jakobussie” groet om Hansie gemaak vriendelik, en glimlag gemaak verleë as die kind in trane uitbars.

“Toemaar Oom, hulle is mos maar so op twee ” troos die vrou, glimlag en stap verder aan.

“Ellendige klein miswurm” mompel Oom Hansie by homself. Tussen die volgende rak en die vrieskaste sien Oom Hansie dat die kind se ma eenkant besig is om tussen die bevrore groente te krap. “Seker weer vir ´n bargain” kners die ou op sy geel tande. Hy los sy trollie in die paadjie en werk blitsig om die yskas na die anderkant. Saam-saam krap die tweetjies tussen die pakke groente rond, Aletta se oë op die prysplakkers en Oom Hansie se oë op haar laehalsrok se lae hals.

“Gmff” dink hy “nie eers ´n bra aan nie – dis skokkend en dit nogal die vrou van die hoofdiaken”. Toe sy kry waarna sy soek, gooi hy een laaste kyk, maak hom uit die voete en kry sy trollie. Van die hoek af tel hy mooi spoed op en toe hy met vol momentum en vaste tred by die kind in die trollie verbystap, prewel hy uit die hoek van sy mond: “Jou mislike klein blouwillebeesgevreet”. Teen die tyd wat die kind aan’t skreeue gaan, is Oom Hansie lankal reeds by die blikkieskos. Hy kyk vreeslik besorgd om en stap nader om sy hulp aan te bied.

Aletta tel die kind op en hou hom styf vas. Waar Oom Hansie agter haar staan, kyk hy die kind vierkantig in die oë en steek tong uit. Die kind wys na Oom Hansie en skreeu histeries terwyl Oom Hansie simpatiek kloek-kloek en oor die kind se koppie vryf.

“Shame” sê Oom Hansie “hy is seker bang om so alleen gelos te word”

“Ja Oom” antwoord Aletta toe sy omdraai “hy is soms maar so knieserig, ek is seker dis by die skool waar iemand hom afknou, hy is so ´n sensitiewe kind”

“Foeitog” simpatiseer Oom Hansie terwyl hy by homself dink “so sensitief soos ´n longdrop se seat, ja”.

Die soustantes in die koöperasie stoom nou ook nader om handjie by te sit. Oom Hansie haal sy valstande uit en wys dit vir oulaas vir die histeriese kind voordat hy sy trollie om die hoek stoot.

Toe hy die inkopies agterop die bakkie by Vlekkie laai, hoor hy van daar af ´n hernieude trauma in die winkel.

“Hehehe” lag hy by homself “sensitief”.

skrywer: Bert van der Walt

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar