Kieslys

Close


*/

13 Desember
2018
Verhale
302 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

James Bond en die tannie wat so sit en suig

deur Gerda Niemann

In ons buurt was daar ‘n lekkergoedwinkel wat goedkoop lekkergoed verkoop het. Verdagte suigstokkies vir onder R5 en ysies wat basies water was vir R1 elk. Die tannie wat daar gewerk het het altyd aan iets gestaan en kou of suig. Sy het swaar asemgehaal en kon ook nie sonder hulp beweeg nie. Ons het nooit geweet wat haar naam is nie. As kinders het ons haar ‘die tannie wat so sit en suig’ genoem. Wanneer ons iets gaan koop het, sou sy diep sug en elke item se prys eers lank bekyk en oorweeg voordat sy die finale bedrag gee wat jy moes betaal. Haar stem was grof. My niggie het altyd gebid dat haar stem nie soos skuurpapier moes klink soos ‘die tannie wat so sit en suig’ s’n nie. Gelukkig het dit toe ook nooit gebeur nie. Sy sing tans sopraan in een of ander kerk wat vreeslik hande klap se koor.

Die dag voor my elfde verjaarsdag is ek weer lekkergoedwinkel toe. Die tannie het deur haar slierte na my geloer en twee suigstokkies gelek. Terwyl ek uitreik na die pak lekkergoed, wat ek nou nog nie weet wat dit was nie omdat die skrif in ‘n Oosterse taal was, hoor ek ‘n harde slag. Ek loer om die rak en sien die tannie het van haar stoel afgeval. Voetjie-vir-voetjie het ek toe nader na die tannie gestap. Ek het langs haar gebuk en probeer sien of sy nog leef. Sy het. Ek het haar ‘n paar keer probeer skud en lekkergoed onder haar neus gehou om haar wakker te probeer kry. Niks wou werk nie. My redding, of eintlik die tannie s’n, verskyn toe in die winkel se agterdeur. So lang, donker man met ‘n snor wat my herinner het aan prentjies wat ek al gesien het van Hitler. Hy het vorentoe gestorm , in tale geskree en langs my kom buk: “Not again!”, was al wat hy met ‘n swaar aksent kon uitkry.

Hy het vir my oog geknip, vorentoe geleun en vir die tannie begin fluister: “Jy weet, wie was hier by onse wenkel?” Ek het gewonder hoekom hy Afrikaans so snaaks praat. “Daai man op TV wat jy so like …” Toe hy dit sê begin die tannie prewel. Hy het verder gepraat: “Ja, daardie man, jy kyk hom, jy like hom, jy wil trou met hom.” Die tannie se oë het begin fladder en die man met die snor het al hoe breër geglimlag. ‘n Skuurpapier stem het gereageer: “James …”

“Yes! Daai is hom naam!” het die snorman gejuig met hande in die lug. Hy het die tannie kreunend van die vloer af gehelp. Die tannie het agteroor gerus terwyl die man ‘n pak klipharde appelkosies in haar hand druk. Met haar oë steeds toe het sy gevra: “Regtig, was my James hier?”

Dit was asof die snorman wou sing: “Ja, yes, ja! Hy was hier by onse wenkel.”

“Ek het hom gemis …” het sy hartseer gesê. Die man druk toe ‘n suigstokkie in haar mond en probeer troos deur verder te lieg: “Yes, you did. But, he saw jou. Hy gaan kom. Hy sê you musta wag for him”. Die tannie het diep gesug en vorentoe geleun oor die toonbank en weer soos altyd gesit, maar hierdie keer het sy geglimlag. Ek het my lekkergoed betaal en die man het woordeloos met ‘n groot glimlag weer in die agterdeur verdwyn. Terwyl ek buitentoe stap kom daar ‘n lang vrou met kroes hare die winkel binne en ek hoor die tannie wat so sit en suig vertel: “Miem, jy sal nie glo wie vandag in die winkel was nie, James Bond!”

Die tannie met die kroese het haar kougom gesluk , ‘n sigaret aangesteek en gesê: “Ag, kak man. Wat sal hy is ‘n cheap sweets winkel kom soek?”

Die tannie wat so sit en suig het net geglimlag en met ekstra skuurpapier geantwoord: “Vir my, Miem. Hy kom soek vir my.”

Ons het ‘n ruk daarna getrek en ek weet nie of die tannie nog leef of wat nie. Ek kon ook nooit uitvind wie of wat die man met die snor soos Hitler s’n was nie. My ma het net altyd vertel dat ons almal maar soms lieg om dit waarvoor ons lief is te beskerm.

(5 Desember 2018)




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Verhale
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Verhale
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Verhale
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Verhale
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Verhale
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

H L Wehr
2019-01-17 22:25:02
Definisie en betekenis die verskil...
Robert
2019-01-10 18:20:15
Kan Annarine Erasmus my groot asb kontak deur my te epos na robert.conradie91@gmail.com Dis in verb...
Robert
2019-01-10 18:11:44
Hi annarine dis Robert hoe kan ek met u kontak maak. Stuur asb virmy 'n epos na robert. conradie91@...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD