Jy bly nommer een

Celeste loop op en af in die besige Durbanse Lughawe. Sy haat dit onteenseglik om te wag. En hier wag sy al langer as ‘n halfuur vir iemand wat sy nie eers seker is sy wil sien nie. Miskien is dit juis ‘n teken dat sy haar uit die voete moet maak, maar aan die ander kant as sy nie vandag hierdie hoofstuk in haar lewe afsluit nie, sal sy nooit weet of sy die regte ding doen nie.

Die borde flits nog steeds – vertraagde vlug 203 vanaf Johannesburg na Durban – en Celeste gaan sit moedeloos gewag by die naaste Restaurant. Sy bestel ‘n vrugteskommel en sit rusteloos daaraan en teug. Twee jaar gelede, toe sy nog op universiteit was het die liefde tussen hulle begin. Hy was ‘n vierdejaar ingenieurswese student en sy ‘n tweedejaar onderwys. Hy was ‘n fors geboude jong man wat nie sy oë van haar kon afhou nie. Sy was gevlei, wie sou nie wees nie. Hy het gelyk soos iemand uit ‘n sea rescue film. Sterk bo-arms, gespierde lyf, songebleikte hare wat effens te lank oor sy gesig gehang het en sy mond…..
Dis juis sy mond en die vleitaal wat haar na hom toe aangetrek het soos ‘n magneet wat nie ‘n teenoorgestelde pool besit nie.
Sensueel, smaaklik en sy smak haar lippe. Die vrugteskommel het sy einde bereik en daarmee saam ook haar gewag.

Sy stap geforseerd na die deurgang waar die passasiers nou hul verskyning maak. Glimlagte so breed soos die oseaan op almal se gesigte. Behalwe een forse gestalte wat lyk of die granietlaag op sy gesig sal kraak as hy net selfs probeer om te glimlag. Armand kom reguit op haar afgestap met sulke lang tree dat hy soos blits reg voor haar staan. Celeste het nog nie eers mooi gedink wat sy vir hom gaan sê nie. Nadat sy hom geskakel het om haar te kom haal, en verduidelik het van die motor was hy nie juis spraaksaam nie.

“Celeste!” Hy omhels haar met so ‘n styfheid in hom, hy kon net sowel ‘n pilaar gewees het. Hy is seker baie kwaad vir haar. Nie dat sy hom kwalik neem nie, maar hy kon seker darem blyer gewees het om haar te sien.

Sy word uit haar gedagtegang teruggeruk deur die harde ongenaakbare soen op haar lippe.
“Hgm..Hgm” keel skoonmaak gee haar tyd om te dink wat sy nou moet doen.
“Armand, ek …..!” is al wat sy uitkry voordat hy haar ru aan haar arm gryp en begin aanstap in die rigting waar die motorparkering is.
“Los dit liewer, ek stel nie belang in jou verskonings nie. Niks wat jy kan die situasie verander nie. Wat het my besiel om my Ferrari vir jou te leen!?” Die toon van sy stem laat koppe nuuskierig in hulle rigting draai.
“Ja kyk!” se hy skaamteloos vir die omstanders terwyl hy letterlik vir Celeste agter hom aansleep motor toe.
“Wat laat jou dink ek wil verkonings maak?” vra Celeste verontreg maar Armand verwerdig hom nie eers om haar te antwoord nie.
“Waar staan die motor?” Dit klink eerder soos ‘n bevel as ‘n vraag en sy antwoord flink.
“Net om die draai.” sê sy parmantig en wys met haar voorvinger in die rigting waar die Ferrari staan. Armand kyk haar skerp aan en stap dan om die draai waar sy wys.
“Wat de hel!”……..Hy wys met sy vinger na haar en dan weer na die motor……….”Is dit hoe ‘n klein stampie lyk!”……….”Is dit hoe ‘n klein stampie lyk!”…… Celeste het hom die eerste keer gehoor. As hy so aangaan gaan hy netnou ‘n aar in sy kop bars. Waarom hy alles moet herhaal weet nugter alleen. Armand swaai sy arms verbete in die lug rond en trek sy gesig soos wanneer mens ‘n suurlemoen eet. Hy lyk glad nie gelukkig nie. Laat haar amper dink aan ‘n groep rugbyspelers wanneer hulle die Haka doen. Hy trek sy gesig in vorms wat sy nog nie aanskou het nie. Dan gryp hy sy hare vas……….
Celeste besef skielik wat ‘n skok dit vir Armand moet wees om sy eens blink duiklose Ferrari so te sien en sy wens sy het hom nie gebel om haar te kom haal nie. Sy was op pad terug van ‘n shoppingspree toe ‘n simpel padvark regs voor in die Ferrari vasjaag. Sy is nie as bestuurder op die assuransie nie, so Armand sou mos opdok vir die skade. Wel, streng gesproke moet hy nog steeds opdok vir die skade.

Hy het voordat sy gery het die oggend vir haar ‘n elle lang preek afgesteek oor hoe versigtig sy moet ry juis omdat sy nie veronderstel was om met die voertuig te ry nie. Sy het hart en mond belowe, en kyk nou net hoe lyk sy Ferrari. Hulle sê altyd, “Jy mors nie met ‘n man se motor of sy vrou nie”. Celeste kon nie terug huis toe nie. Nie met ‘n gestampte motor nie. Hoe verduidelik sy aan hom dat dit nie haar skuld was nie. Dis volgens navorsing altyd die vrou se skuld. As sy nie die ongeluk veroorsaak het nie, was sy die oorsaak van die ongeluk. Kan maar net nie wen nie.

Sy het toe maar pad gevat na haar ouers in Durban en besluit om hom nie te kontak nie. Haar ma wat bekend is daarvoor dat sy altyd die regte ding doen het haar aangeraai om Armand te bel en te verduidelik wat gebeur het. Volgens haar moeder sou dit die ideale geleentheid wees om te sien of Armand regtig vir haar lief is. Sy het uitgestel vir dae en toe die verlange haar beetpak maar besluit om hom te bel.

En hier staan sy met Armand wat nou al vier keer om sy motor geloop het en kort kort aan sy ken vryf. Dis seker ‘n paar duisend rand se skade en dit was sy wat in die motor was toe dit gestamp is, so sy sal seker maar moet aanbied om die skade te delg. Nie dat sy weet waar sy nou ‘n lening sal kry nie en haar salaris is lank nog nie genoeg nie.

“Magtig Armand. Praat met my! As dit jou sal laat beter voel sal ek die skade betaal!” Celeste dink nie helder nie. Dit wat maar net gedagtes was is so pas in woorde omgeskakel.
Celeste wonder oor die kyk in sy oë. Lyk hy geskok of probeer hy geamuseerd lyk.
“Nee, maar baie dankie dan! Dis nou ‘n eerbare ding om te doen. As jou moeder nou hier was sou sy baie trots op jou gewees het.”
Daar is lag in sy oë waar hymet sy rug na haar gekeer staan. Dit is net waarvoor hy gewag het. Hy kan nie lank vir sy eerste liefde kwaad bly nie. Sy het lankal in sy hart ingekruip om daar te bly, maar hy kan haar darem ook nie te ligtelik daarvan laat afkom dat sy hom vir dae laat soek het na haar en dit net oor sy sy Ferrari gestamp het nie! Wonder wanneer gaan haar ouers eendag gebruik maak van nuwe tegnologie en selfone aanskaf.

“Jy sal maar solank moet begin spaar, want dit gaan baie kos om hierdie Ferrari weer soos sy ou self te laat lyk. Ek skat so in die omgewing van R50 000.00;” Armand vryf sy ken geduldig terwyl hy na haar draai om haar reaksie te sien.
“Wat! R50 000.00. Is jy mal!” Celeste is verbyster. Hy het nie nodig gehad om haar aanbod te aanvaar nie! Hy weet mos sy kry nie baie geld nie.
“Ek het geweet jou prekery stuur my op ‘n ramp af! Pleks ek met my voete geloop het!”
Verontwaardiging stroom uit elke woord wat uit haar mond kom.
“Ja, dalk moes jy! Ongelukkig vir jou, het jy nie!” Armand klink ongelukkig. Hulle is wraggies besig om te baklei. Die eerste keer vandat hulle ontmoet het. Hy moet sê, hy hou nogal daarvan om Celeste so kwaad te sien. Dit laat hom lus voel om haar oor sy skoot te trek en ‘n verdiende pak slae te gee. Met hierdie gedagtes verkrummel sy wrewel en hy dink hy moet haar soen.

Hy sak af op een knie, en Celeste vervies haar hewiglik.
“Staan op!’ Ek is nie nou lus vir jou lawwe grappe nie!. Almal kyk vir ons Armand.” Celeste trek paniekerig aan sy skouers, maar Armand sit bankvas op een knie.
“Celeste, sal jy lewenslank met my en my Ferrari opgeskeep sit?” Armand het nie een romantiese haar op sy kop nie, dink Celeste gebelg.
“Nee! En staan om hemelsnaam op!” Celeste voel nou eers omgekrap. Waarom daai skedonk in ‘n huweliksproposisie inbring. En dit nogal in ‘n garage van alle plekke, en terwyl hulle baklei! Armand voel meer as net een paar oë in sy rigting en besef dat hy sopas ‘n hengse aap van homself gemaak het. Hy kyk verlee om hom en wonder wat hom besiel het om dit te doen. Hy het altyd beplan dat hy haar om haar hand sal vra in ‘n Franse Restaurant waar hulle romantiese disse voorsit, met Franse Sjampanje en ‘n harpspeler. Hy het nie eers ‘n verloofring hier nie.

Hy vat haar hand en stap terug na die lughawe se ontvangslokaal.
Hy neem haar na die naaste koffiekroeg en hulle gaan sit by ‘n stil tafeltjie. “Vergewe my asseblief.” Armand sluk swaar en wonder of hy nou alles verbrou het. Celeste is die vrou vir hom en hy is baie lief vir haar.
Die hele storie met die Ferrari klink nou skielik vir hom baie kinderagtig. Pleks hy haar net omhels het soos hy inniglik wou.
“Celeste?” Armand sit sy hand op hare neer.
Sy kyk na hom en sien die teerheid in sy oë, die speelse trek om sy mond en alles in haar hunker na hom.
“Waarvoor moet ek jou vergewe?” Celeste moet weet wat in sy kop aangaan.
“Dat ek so onnosel kon wees om jou in ‘n garage te vra om met my te trou.
As ek jou nie finaal afgeskrik het nie, sal ek bly wees as jy my vanaand sal vergesel na ‘n ordentlike restaurant sodat ek dit betaamlik kan doen.” Armand se hand gee hare ‘n ligte drukkie, so asof hy haar wil herinner dat dit nou haar beurt is om iets te sê.
“Ja, Armand. Jy is vergewe. Lankal al. Ek sal jou op een voorwaarde vanaand vergesel.” Celeste gaan haar nie weer laat vang nie.
“En wat is dit?” Armand lyk soos ‘n kat wat room gekry het.
“As ek die plek kan kies.” sê Celeste saaklik.
Armand kelk haar gesig in sy sterk hande. “Ek is mal oor jou, my skat.”

skrywer: Anita de Lange

Lewer kommentaar

Leave a Reply