Twee vreemdelinge, ‘n man en ‘n vrou, beland per ongeluk saam in een kompartement op die Shosholoza Meyl. Hulle doen hulle bes om plekke te ruil met ander passasiers van dieselfde geslag, maar sonder sukses. Dit is tog net vir een nag besluit hulle en sal maar die beste van hierdie slegte saak maak. Die man bied galant aan om die boonste van die twee slaapbanke te vat.
In die middel van die nag skud die man die vrou wakker. “Skuus tog dame, maar wil jy nie net jou hand daar in die kas druk en vir my nog ‘n kombers aangee nie. Dit is verskriklik koud.”
“Ek het ‘n beter idee.” sê die vrou. “Wat daarvan as ons net vir vannaand maak asof ons man en vrou is?”
“Dis reg met my!” antwoord die man opgewonde.
“Goed.” sê sy “Kry jou eie kombers!”
