Toyota verfris Yaris

In ooreenstemming met Toyota se Kaizen-filosofie van voortgesette verbetering het Toyota SA ‘n aantal veranderinge aangekondig om die gewilde Yaris-luikrug- en -sedanmodelle te verfris. Die veranderinge is daarop gemik om te verseker dat die Yaris-modelreeks sy mededingende voorsprong in die kleinmotorsegment van die passasiersmotormark behou.

Die Yaris, stewig gevestig as een van die twee gewildste passasiersmotors in Suid-Afrika met verkope van 87 440 eenhede van sy bekendstelling in 2006 tot einde November 2008, is ‘n gereelde aanspraakmaker op die top-posisie in die maandelikse verkoopstatistiek vir passasiersmotors van die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA).

“Die Yaris word bemark in een van die mededingendste segmente van ons motormark en bied ‘n uitstekende waardeproposisie in sy segment,” sê Andrew Kirby, Toyota SA se Senior Vise-President: Verkope en Bemarking. “Die welslae van die Yaris spruit uit die feit dat dit pasgemaak is rondom ‘n jeugdige houding en lewenstyl. Die luikrug is hoofsaaklik gerig op jong enkellopendes en die sedan op jong gesinsmense.

“Die eienaars van Yaris-luikrugte beskryf hul motors as oulik, kief, koel, hip en sportief, terwyl die eienaars van Yaris-sedans ook spog met hul motors se styl en bruikbare ruimte. Die kleinmotorsegment is waarskynlik die mees dinamiese van al die segmente ten opsigte van die vereiste aan snelle aanpassing by die verwagtings van die hoofsaaklik jong en tegnologies kundige klantebasis. Om in hierdie vraag te voorsien, het ons die spesifikasie van die Yaris-luikrug en -sedan opgekikker met ‘n aantal kleiner veranderinge.”

Toyota Yaris
Toyota Yaris

Die Yaris-luikrugmodelreeks by onveranderd. Vir kopers in die intreevlaksegment is daar ‘n keuse tussen drie- of vyfdeur-Yaris T1-weergawes, wat albei verkrygbaar is met fabrieksgeïnstalleerde lugreëling. Daar is gevolglik vier modelle om van te kies – twee met en twee sonder lugreëling. Al vier die T1-weergawes word aangedryf deur ‘n gevorderde driesilinderenjin van een liter, wat 51 kW ontwikkel. Hierdie Yarisse het ‘n uitstekende brandstofverbruik van ongeveer 5,4 liter/100 km.

Die Yaris T3-modelreeks het ook vier modelle, almal met vyf deure. Hulle word aangedryf deur ‘n 1,3 liter-viersilinderenjin wat 63 kW ontwikkel. Brandstofverbruik is 6 liter/100 km vir die handratmodelle en 6,5 liter/100 km vir die outomaties. Die spesifikasievlakke is T3 L/R, T3+, T3+ AT (outomaties) en T3 Spirit.

Stileringsveranderinge aan die Yaris-luikrug sluit in hersiene voor- en agterbuffers, nuwe sierrooster en kopligte en nuwe detail vir die agterligsamestelle. Veranderinge in die kajuit sluit in nuwe bekleedsel en instrumenthuls, sowel as die byvoeging van ‘n veelinligtingvertoon in die T3-weergawes. Behalwe in die T1-drie- en vyfdeurmodelle is daar nou ook ‘n toevoer-stuprop vir modelle wat nie standaard toegerus is met ‘n klankstelsel nie.

Die Yaris T1 L/R-modelle spesifiek kry ‘n radio/CD-kombinasie met voorlaai-CD en MP3-versoenbaarheid, terwyl die kantspieëls van die T3 L/R-model
nou elektries verstel kan word. Die handrat- en outomatiese T3+ kry ‘n Bluetooth-mikrofoon met spraakherkenningsvermoë, twee bykomende luidsprekers vir die klankstelsel, leeroortreksel vir die stuurwiel en die ratkierie, en die stuurwiel spog nou ook met satellietkontroles vir die klankstelsel sowel as Bluetooth-funksionaliteit. Ook nuut is die teleskopies verstelbare stuurwiel.

Die Bluetooth-mikrofoon met spraakherkenningsvermoë, kontroles vir die Bluetooth-stelsel aan die stuurwiel en die twee bykomende luidsprekers vir die klankstelsel word ook bygevoeg by die spesifikasielys van die Yaris T3 Spirit.

Toyota Yaris
Toyota Yaris

Aan die Yaris-sedan is daar minder veranderinge. Die stilering word hersien met veranderinge aan die sierrooster en die buffers. Behalwe die T3 L/R-model kry die ander sedans flikkerherhaalliggies in die kantspieëls.

Die nuwe Yaris-sedanreeks bestaan uit vier modelle wat almal aangedryf word deur die gevorderde 1,3 liter-viersilinderenjin van 63 kW. Daar is drie spesifikasievlakke, te wete T3 L/R, T3+ en T3 Spirit. Vir motorryers wat ‘n outomatiese ratkas verkies, is daar hierdie opsie in T3+-spesifikasie.

Die Yaris-luikrug (behalwe T1) en sedan-modelle kom standaard met ‘n diensplan van vier jaar/60 000 km.

(foto’s Motorpics)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. DIE NUWE YARIS IS PRAGTIG…..
    KAR GAAN GOED VERKOOP

Lewer kommentaar

Leave a Reply