Ek haat kraaie! Hier in Panorama is baie kraaie. Dit laat my ongemaklik! Moet ek eerlik wees? Kraaie maak my bang! Dit is asof daar ‘n stuk onheil in hulle skuil, of is dit dalk meer? As ek hul uitdagende en skrille gekrys hoor, dan breek daar iets in my en wens ek ek was ‘n skut van formaat wat hom die swye kon oplê deur sy vlieg uit hom te haal.
Is ek onbillik? Hierdie uiterlik-pastorale wese met sy bedrieglike swart pak en wit das sou soveel beter gedien het, sou hy die waardigheid, geroep en wysheid van ‘n uil ontvang het. Hy sou dan “die biskop van die diereryk” wees. Maar nou het hy, sy veredos ten spyt, ‘n engel van die duiwel geword, ‘n gekrys wat mense laat opkyk en wonder of hy nie dalk die draer van ‘n onheilstyding is nie. As vroeë beskawings die gode om uitklaring wou vra, was die kraaie, swart kraaie, iets wat jou tot versigtigheid maan . Nes ‘n swart kat, Vrydag die dertiende, en om onderdeur ‘n leer te loop.
Dan is die “biskop” van die veld ‘n aasdier! Sy voedselskuur word snags aangevul as motoriste se verblindende ligte die geel ogies van die nagvolk verblind en verboureer. Soms wedywer hulle om ‘n stuk aas, wat reeds deur die brommers en hul nageslagte ontgin word. Khosjer is die happies nie! Hulle word die onaantasbares, want niemand wil aan hulle raak nie – hulle is aasvuil.
In die platteland is kraaineste netso ‘n beswaarde as die telefoonlyne deur ‘n stukkie blink metaal kortsluit. Hierdie waardevolle verkreë eiendom word in die kraaikasteel op die telefoonpaal geberg. Sou iemand die bekende idioom as volg tog wou aanpas: al dra ‘n kraai ‘n goue ring, bly hy nog steeds ‘n lelike ding!
Wat my die meeste van ‘n kraai ontstel is sy stappie! Hy het ‘n wipstap. Kordaat, parmantig, vasberade stap hy asof die wêreld en al die aas daarop aan hom behoort. Al wippend laat hy hom geld en wat hy as syne beskou, word met drif bewaak. Hy deel met niemand nie – ‘n tipe alfa-spesie.
Eintlik krap die kraai my om, want hy wys my wat ek nie is nie. Ek is allesbehalwe die alfa-een in my spesie. Ek hunker daarna maar is dit nie. As Karel Kraai en jy “veredos” die kraai my herinner aan wat ek wil wees en nie slaag om te wees nie – blameer ek jou vir my eie swakhede en interpreteer ek jou vere, gekrys, postuur, geloop op ‘n minusskaal sodat ek in myself beter kan voel.
Die onpastorale aasvoël se toets is of hy sy doel bereik of nie: aasdier wat aas vreet omdat hy so geskape is, is deel van God se vullisverwyderingsspan. Watter higieniese wêreld sou ons in moes oorleef? Wie sou sy werk doen as hy nie daar was nie? Hy bereik die doel waarvoor God hom geskep het – hy is dus gehoorsaam, goed – en ‘n voorbeeld vir my. Hoe voel God oor sy kraaie?
God het kraaie ook lief – die jonges voed Hy – wie volgens sy wil en sy opgelegde bestemming leef, sal nooit honger ly nie. Elke veer op hul lywe is ook getel. God gebruik kraaie ook – nie om oë uit te pik nie, maar om kos na sy profeet te bring tydens ‘n lang droogte. Verbeel ek my, of sou hulle ook goeie kelners wees in hul swart manelle – bedienaars van die Bedienaar! Maak nie saak wat die wêreld , en ek, maak van ‘n kraai nie – kyk deur God se oë na ‘n kraai en word wys …
Ek, as lid van die menslike ras, het die kraai beskinner vir wat hy nie is nie!
Ek het verwag dat hy eerder soos ‘n duif moes wees, wat hy nie kon nie.
Ek het verwag dat hy aan my insigte moes voldoen, wat hy nie wou nie.
want gehoorsaamheid aan God is meer werd as die lewe, eintlik is dit die lewe?
skrywer: Emile de Villiers
