deur Elize Ehlers

Ons huis is groot en ek bedoel grooooot… My ouers is baie joviaal, daar is gedurig gaste. Ek maak die instap-yskas se swaar staaldeur met moeite oop. Aan die hake hang ‘n paar skape, varke en ‘n beeskarkas, gereed om opgesny te word vir Kersfees se groot okkasie met ons uitgebreide familie en vriende. Almal bring tente saam. Daar gaan dwarsdeur gekuier word tot in die nuwe jaar.
Ek stap rustig tussen die karkasse deur om seker te maak dat alles nog in orde is. Dan ruk ek geskok tot stilstand. My ingewande ruk spasmaties saam… vanoggend se ontbyt skiet met ‘n boog uit. Die suur brousel drup teen die lyk af. Ek probeer wegkyk, maar die toneel voor my sluk my hele wese in. Die prentjie is vir ewig in my brein ingebrand.
Daar is ‘n groot plas bloed… taai klewerige vars bloed. Die kadawer se voete is aanmekaar vasgebind. Hy hang onderstebo aan ‘n haak en die bloed drup, drup, drup, drup ritmies uit sy keel wat met ‘n enkele snit so diep deurgesny is dat die nekwerwels sigbaar is. Sy vlees is in fyn repe gekerf en vet peul oral uit. Sy maag is oopgeskeur en al die organe hang uit. Stokstywe oë staar glasig voor hom uit. Albei hande is afgekap, dit lê op die vloer. Ek sien ‘n beweging uit die hoek van my oog, dan gaan die deur met ‘n weergalm toe.
My oë vang nog ‘n beweging. Die hande beweeg, hulle kruip nader en nader na my toe! Die naels maak skraap geluide op die sementvloer. Ek staan vasgenael, dan is die hande op my, wurg my en skeur my vlees aan repe… die kadawer se mond gaan oop in ‘n grynslag en ‘n satanse lag kom uit sy verwronge keel. Dit sý beurt om wraak te neem. Myne kom nog …

Lewer kommentaar

Leave a Reply