Mooi is die lewe

Weggesink in die groot Lazy Boy sit-lê Pieter (Boeppens) van der Merwe, stoere boere seun met die TV se remote in die een hand en ´n Lion Lager in die ander. Hy is besig met channel-hopping : 1-2-3-e, e-3-2-1, 1-2-3-e. Daar is nie geld vir M-Net nie. Hy snork verontwaardig. Alweer niks op nie. Nou bly hy maar kyk hoe Felicia Mabusa-Suttle oefen om Suid-Afrika se eie Oprah te wees en die pot met ´n myl missit. Hy snork weer – die bier is op. “Lovie, bring vir my ´n bier…Lovieeee!” Sy hoor hom nie. Pieter kom stadig regop, stamp die leë blik dat hy doer onder die sitkamerbank by sy voorgeslagte gaan lê. Hy voel in die halfdonker op die vuil mat met sy tone vir sy ooptoon plakkies. Kliks-klaks, kliks-klaks stap hy die gang af op soek na Gerty, sy vrou.

Sy lê op haar pens, hand onder die kennebak op die onopgemaakte bed met ´n tydskrif voor haar. Om haar lê die vuil klere gestrooi – party al harderig van al die baie dra en die min was. Haar hare lê in bondels soos hooimiedens op haar kop. Sy hoor hom inkom, maar maak of sy hom nie sien nie.
“Wat doen jy?”
“Ek lees…kan jy nie sien nie?”
“Ek soek ´n bier.”
“Jy weet waar is die yskas. Hulle sê hier in die Sarie daar is meer in die lewe as geld en klere en kos… en bier,” lieg sy sommer by.
“Al weer jy en daardie blêrrie Sarie. Jy weet wat dink ek van daai boek. Hulle prop jou kop net vol idees. As die Sarie sê vrouens kry menopouse – dan het al die vrouens skielik menopouse. En as die Sarie sê jou man verneuk jou, moet hy elke beweging verklaar, opteken en beëdig. En daai slag toe ons ´n soekgeselskap moes uitstuur om jou G-spot te kry omdat die Sarie gesê het jy het die ding…. Hulle sal wragtig ´n bakkie wen as hulle dit tussen jóú vetrolle uitkrap.”
“Man, voertsek. Jy raak nou vieslik. Gaan drink jou bier.”
Pieter kyk haar net so aan en krap met sy voorvinger aan die olierige geel puisies wat soos plakkershutte in sy ongeskeerde baard aanteel. Dan draai hy om en kliks-klaks terug kombuis toe. Gerty klap die Sarie toe. Hy maak haar siek. Siek, siek, siek. Hoe kon sy met hom getrou het? Gelukkig was daar nie kinders nie. Sy wil nie nog ma speel vir die gebroedsels wat uit sy lyf uitkom nie. Die Sarie is reg. Daar moet iets meer wees aan hierdie lewe as so ´n morsigheid van vuil potte, geel lakens, stukkende Tretchikoff afdrukke teen die mure, laaie wat nie ooptrek nie, kaste wat nie wil toemaak nie, vensters met vingermerke, matte met sigaretbrandkolle, asblikke wat oorloop….

Shirley Valentine, dink sy. Shirley Valentine kon dit doen. Gerty van der Merwe ook. Sy het ´n maand terug die video gehuur van die vrou wat haar man net so los en Griekse eilande toe gaan. Daar ontmoet sy ´n Griekse god wat haar haar lyf leer ken het soos nog nooit tevore nie. En omdat haar man vir haar omgegee het, het hy haar kom soek… Gerty het die fliek twee keer namekaar gekyk en elke keer gehuil. Sy het besluit om dit sommer te hou, want sy het gevoel dit hoort by haar (die videowinkel het in elk geval hulle verkeerde adres.) Elke dag as sy moeg raak vir haar lewe kyk sy daarna en sy smag na haar eie Griekse eiland.

Margate, het sy al gedink. Miskien moet ek Margate toe gaan. Klim op die trein en los die man net hier. Vanaand is die gevoel sterker as ooit. Hoekom nie? Die wêreld sal nie vergaan as sy die dik drommel ´n week of wat in sy Lazy Boy los nie. Hy stel in elk geval meer belang in sy TV as in haar. Sy hande is nie rond nie, hy kan vir homself kosmaak. Hier lê baie klere op die vloer rond wat hy kan aantrek. En toe is dit ook so. Toe Pieter homself wegsleep werk toe die volgende oggend, pak Gerty haar tas. Op ´n stuk papier skryf sy net Margate en plak dit teen die kombuiskas met sy koffievlekke vas.

´n Week later sit Gerty op Margate se wit sand. Sy kyk uit oor die see waar die branders aanrol en spieël oor die gladde sand. In die water trippel die kinders en dieper in dryf die surfers soos robbe op hul branderplanke. In die lug ruik sy die soutbries en sonbrandolie. Roomysverkopers maak elke dag ´n miljoen rand uit die vakansiegangers wat bondel rondom groepies oopgegooide handdoeke. En tussen al die mense voel Gerty alleen. Sy het lekker uitgerus die week, maar dit was nie wat sy verwag het nie. Griekse gode was hier genoeg, maar die jong lywe was te jonk vir haar en die ou lywe te oud. Is daar dan geen justice in hierdie wêreld nie? ´n Mens kan ook net soveel keer alleen ´n milkshake in die Wimpy gaan drink of op jou woonstel se balkon sit en na die maan se weerkaatsing op die water kyk. Die ewige stryd om seesand uit haar baaikostuum en oksels te hou het sy ook verloor. Maar wat haar die meeste pla waar sy hier tussen die jillende uitbundige lewens van die ander mense om haar sit, is dat haar man haar nooit kom soek het nie. Hel, gee hy so min vir haar om? Telkens wanneer sy in die see staan het sy strand toe gekyk om te sien of hy nie dalk tussen die die mense rondloop op soek na haar nie. Of dalk is hy die donker figuur wat daar doer langs die strand afgestap kom. Hulle loop dieselfde… Maar die teleurstelling bly… As hy net ´n bietjie meer vir haar omgegee het. As hy net na haar wou luister. As hulle net weer met mekaar kon praat sonder om elkeen vir sy eie paaltjies te keer. As sy maar net ´n TV was sodat hy weer vir haar kon kyk… Daar bly nou niks meer oor van hierdie droom nie. Sy moet teruggaan. Gerty staan op. Skud die sand uit haar handdoek en stap na die naaste telefoonhokkie om te hoor wanneer die volgende trein terug Johannesburg toe is.

Die volgende aand sewe-uur staan sy by haar voordeur. Haar hande bewe so dat sy sukkel om die sleutel in die sleutelgat te kry. Dan stap sy in. Die huis is stil. Die televisie is afgeskakel. Die meubels staan in gelid gerangskik. Hoekom lyk die mat so anders? Is sy by die regte huis? Sy los die tas net so by die voordeur en stap die huis binne – op haar tone asof sy bang is om die stilte wakker te maak. In die gang hang die portrette weer reguit. My magtig is my kombuis so skoon? Tot die vloere is ge-One Step. Uit die slaapkamer hoor sy ´n gesteun. Die deur is toe. Ugh-ugh. Dan is dìt hoekom die plek so anders lyk. Pieter het haar wragtig vervang met ´n ander vrou. In net ´n week! Hoe lank hou hy haar al aan? Het hulle net gewag dat sy moet waai? Wat sien sy in elk geval in hom – met daardie lyf! Vanaand sal hy sy Moses teëkom. Gerty stap kombuis toe. Tot die laaie trek weer moeiteloos oop. Gee die duiwel wat hom toekom – enige vrou wat ´n man kombuislaaie laat regmaak moet iets goed in haar hê. Maar haar man moet hulle uitlos! Gerty trek ´n lang vleismes uit die laai. Hier sal bloed vloei vanaand. Die drif maak haar treë vinniger. Ugh-ugh, hoor sy weer die dowwe kreune. Sy voel die deurhandvatsel onder haar vingers en druk dit af. Die deur swaai oop. Sy kyk na die bed. Dit is leeg. Netjies opgemaak. Dan sien sy die potsierlike vet lyf op die vloer. Ugh-ugh. Pieter is besig om sit-ups te doen. Hy byt op sy tande as sy swaar bo-lyf na bo beur. Hy sien haar in die deur staan – die mes nog in die lug. ´n Smile so groot soos die Grand Canyon stoot oor sy skoongeskeerde gesig. Hy klap met sy een hand op sy kaal maag. “Élf kilogram verloor in díé week, Love,” sê hy.

Anonieme bydrae

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Wat mooi, zo levensecht.
    Ik kwam hier toevallig terecht, maar ben blij dat ik dit mocht lezen.
    Het was een beetje moeilijk om te lezen soms, S-A is niet echt Nederlands, maar toch alleraardigst geschreven.
    Wellicht kom ik nog wel eens kijken. Lieve groet, van Litha

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar