‘n Ander dors

Hier sit ek nou op die bank voor die TV en kyk na niks.


Met ‘n glimlag dink ek terug aan die half bewolkte, koelerige Somersdag in die Helderberg …

My suster en haar man ry al die pad van Nuweland. Ons drie gaan sonder die kinders en kleinkinders ‘n paar wynplase besoek. Sommer net lekker gesels en ontspan, wyn proe en êrens middagete geniet.

Ons ry stop-stop in by die Vergenoegd Landgoed. Stadig, want mak blinkwit eende waggel rond en bont. Die motor se wiele gly oor die klein ronde klippies in die parkeer area. Kraak-kraak kom die kar tot stilstand.

Die Kaaps-Hollandse gewelhuis en die reuk van die bossies ontvlam vergete herinneringe van grootword in Kaapstad. Oop wit rose pronk uitgelate by die ingang. Hulle verwelkom die koeler dag. Die roosbome is vol knoppies … oor ‘n week of wat sal dit hulle beurt wees om mooi te lyk.

Die ou gebou is vol antieke meubels … nog vol van die teenwoordigheid van mense wat eens hier gewoon het. ‘n Lang eetkamertafel trek my aandag. Daar was kos in die kombuis op die swart koolstoof voorberei en almal sou om die tafel sit en eet, dink ek by myself. Ek kan hulle amper hoor gesels, lag, huil …

In die vertrek oorkant word ons hartlik deur ‘n Xhosa vrou welkom geheet. Sy is opgetof met bloedrooi lippe. Praat Engels. Rol haar r’e, nes Suid-Afrikaners wat ‘n rukkie in Amerika vertoef en hard probeer om die Amerikaanse aksent op te tel.

Sy werk al jare hier en lig ons deeglik in oor die plaas se geskiedenis. Ek vra uit oor die eende. Hulle is Indian Runner Ducks en word ingespan om die wingerde wurm -en slakvry te hou.

Sy is vrygewig met die wyn. Ons proe halwe glase van vyf rooiwyne. Die spuugbak in die middel bly leeg. Die wyn is te lekker.

Ons gasvrou gesels land en sand … bietjie té veel? Ek vra haar of sy ook soms van die wyne proe. “O yeah, I taste every bottle that I open. Háve to see if it’s still good?” ‘n Werk met goeie voordele, né.

Die Runner Duck wyne het die oulikste etikette. Dit is in twee dele, uitgeknip in die middel en geplak om ‘n eend te vorm. Ek koop ‘n bottel Old Cape Colony. “Fruity, with a hint of chocolate” sê die etiket.

Somerbosch is volgende. Dié plek wemel. Ons wil daar eet, maar die restaurant is stampvol. Sit sommer by die kroeg. Die vriendelike kroegman stel voor dat ons die wyn en roomys pairing probeer. Vier proeglase rooiwyn, elk met sy eie bakkie tuisgemaakte roomys, word voor ons neergesit. Die roomys is ‘n eienaardige rooi-pers kleur, want dis gemaak met daai spesifieke wyn.

‘n Happie roomys beloof al die onderliggende geure en smake van haar wyn maatjie. Dis groot pret.

Weet nou hoekom die plek so vol is. Daar is ‘n wyn uitverkoping in die skuur langsaan. Ons koop ‘n paar bottels Chenin Blanc vir ‘n derde van die gewone prys.

Ons draai in by die Muratie wynplaas. Is mal oor die ou gebou. Voel soos ‘n klipgrot, met ongelyke vloere en uitgetrapte Persiese tapyte. Die reuk van hout hang swaar. “Hulle is bekend vir hulle soetwyn,” sê my swaer, so ons besluit om daarop te fokus.

Ek haak vas by Forever Amber, ‘n soet wyn vol vrugtegeure. Die kroegman se storie maak dit nog interessanter.

Hy vertel die wyn is vernoem na ‘n hoё klas meisie wat destyds adellike Britse mans ‘gelukkig’ gehou het. Die storie wat minder bekend is, is dat die skepper van die wyn ook ‘n skelmpie gehad het. Ook met die naam Amber, en dat die wyn eintlik na haar vernoem is.

‘n Foto van sy preutse vrou hang teen die muur en agter die kroeg pronk ‘n skildery van die regte Amber. Heel toevallig loer sy vrou se verwytende oё direk op die skildery van die half-geklede Amber.

Ons gaan soek die restaurant. Loop agter die kosreuk aan. Is lekker honger.

Eet en drinkEk besluit op die “slow roasted Karoo lamb shank.” Dit word bedien op romerige kapokaartappels, met gekaramelliseerde wortels en geroosterde soetrissies in al die kleure. Die vleis is murgsag, val van die been af. Ons eet lekker.

Op pad uit, koop ek ‘n bottel Forever Amber. Heel van pas lees die etiket “a wonderful balance of alcohol with fruit, musky with rose petals.”

Ons maak nog ‘n laaste stop. Sit buite op die groot klipstoep. Proe-proe aan twee wyne, maar is nie juis beïndruk nie. Die wyn proe na asyn en beland in die spuugbak.

Of dalk is dit net ‘n geval van as die muis vol is, is die koring bitter.

Dis al vroegaand wanneer my suster-hulle my na ‘n heerlike dag by die huis aflaai. Eers kry die katte kos en ek drink ‘n glas water. Dan ‘n glas Coke. Weer ’n glas water. Nog Coke. Ek neem ‘n lang skuimbad.

En hier sit ek nou op die bank voor die TV en kyk na niks.

Met ‘n glimlag dink ek terug aan nou die aand toe die kinders na ‘n lang ete op pad huis toe is. My kleindogter kom sit op my skoot om te groet.

“Mia baie dors,” knies sy.

“Nog ‘n bietjie sappies? Water?” vra ek besorg.

“Nee Ouma,” sê sy half geïrriteerd.

“Mia is dors om in haar bed te klim en te slapies.”

… sou dit vanaand myself nie beter kon stel nie.

(foto Ania Mendrek)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar