TAMBOERSKLOOF – ’n Plaaslike vegan, Linda-Jade Groenewald (34), het gister amptelik haar bure, die Du Plessis-gesin, gedagvaar nadat sy tydens ’n Saterdag kuier “per ongeluk” gehoor het daar’s ’n stukkie feta in hulle yskas.

Volgens die hofstukke beweer Groenewald dat sy “’n diep ontwrigting” ervaar het toe sy die woord ‘Feta’ hoor, wat glo haar chakras “onmiddellik in ’n spiraal van negatiewe energie” gestuur het. “Ek het net stil daar gestaan en gevoel hoe die planeet huil,” het sy gesê.

Die Du Plessis-gesin is verstom. “Ons het gedink sy kom oor om haar laaste kombucha te deel,” het Marinda du Plessis verduidelik. “Toe begin sy ’n rook-seremonie in ons kombuis om die ‘gees van die bok’ te bevry.”

Groenewald eis nou vergoeding vir emosionele skade en vir herstelterapie vir haar kat, Tofu.

Plaaslike regskenner, advokaat Ben Strydom, meen die saak stel ’n belangrike presedent. “As Linda-Jade wen, kan dit beteken dat enige iemand jou kan dagvaar as jy ’n plankie kaas op die tafel sit.”

Die hofsaak begin volgende maand – tensy dit uitgestel word omdat die klaer “in ’n fase van maan-ontgifting” is.

Lewer kommentaar

Leave a Reply