deur Ferdi Wheeler
Ek sit op ‘n slee met baie aardse besittings. Dis ‘n hoop goed wat ek nog nie eens ondersoek het nie. Dit bestaan uit offerandes van die gemeenskap in die dorpie in die vallei, wat elkeen, na sy vermoë, op die hoop kom neersit het.. Ek is net dankbaar vir die pels wat iemand ook op die ingewing van die oomblik geoffer het.. Ek sit met dit oor my skouers, ‘n snoesige dekmantel teen die skrynende wind wat teen die Grootberg se hange waai.
Die Grootberg is die verbode berg. Dis die Berggod se vesting. Heilige grond. Dis ‘n duiselingwekkende piek, wat meestal sneeubedek en in mis gehul is. Kom lente, smelt die sneeu teen die hange en voed dit die rivier wat deur die dorp loop. Dis die lewensaar van die gemeenskap.
Maar vir ‘n lang tyd nou is die berg bruin en dor. Dit het min op die berg gesneeu en daar heers al amper hongersnood onder in die vallei, omdat die god nie sneeu gee nie.
Die sjamaan profeteer dat dit net sal gebeur as die god behaag word. Op die oomblik is hy ‘n spikkel teen die hang verder op teen die Grootberg. Hy praat met God. Niemand weet presies waaroor nie, want al was jy ook by, sou jy nie verstaan het nie, want hy gaan by die geleentheid in ‘n beswyming en sy geskreeu en fluisteringe is onverstaanbare uitinge. Ons almal hou hom maar net dop vir wanneer hy gaan opstaan en terugdraai. Dan’s dit sulke tyd.
Daar word nou van my verwag om die berg te betree, die hoogte uit te klim en nooit weer terug te kom nie, sodra die sjamaan met sy rituele klaar is. Ek myself en my besittings, wat ek nou so pas vergaar het, is die offerandes. Die oudstes, onder leiding van die sjamaan, het die lot gewerp en dit het op my geval. Almal was bly dat die lot op ‘n wees geval het.
Ek was nie by toe die lot gewerp is nie. My meester het my op daardie tydstip gestuur om bok te loop soek – ‘n verloopte belhamel wat gereeld sy eie kop staan en volg en dan nie met die trop saens terug kraal toe kom nie. By my terugkeer was daar ‘n skare om my meester se huis, maar ek het toe nog van niks geweet nie. Ek’t die bok ewe terloops aangejaag kraal toe en hom by die ander toegemaak.
Natuurlik was ek nuuskierig oor die samedromming by my meester se huis. Hy is niks besonders nie. Ook maar een van die vele kleinboere wat in die vallei ‘n hand-tot-mond bestaan uit die aarde en sy bokke maak. As sodanig was dit meer gepas en normaal vir hom om die gemeenskapsaal te besoek, as om so deur ‘n skare boere en dorpenaars besoek te word.
Ek het by die skare aangesluit om te hoor wat die okkasie was. Tot my verbasing het hulle vir my opsy gestaan en ‘n pad oopgemaak na my meester se huis se agterdeur toe. Hy en die oudstes en die sjamaan, het by die deur gestaan. Iets was nie pluis nie, het ek besef. Almal se aandag was op my en ek was seker dat ek niks verkeerds gedoen het nie.
“Meester?” het ek vraend gesê.
Hy het op die grond voor hom gekyk. Dit was die sjamaan wat vorentoe getree het. Die klokkies wat aan sy mantel vasgewerk is, het geklingel. Hy het tot voor my getree. Oor sy arm was ‘n kleed.
“Geseënde van God!” het hy hard gesê. “Kniel.”
Ek het om my rondgekyk. Die skare het in ‘n kring om my toegemaak. Toe wou ek paniekerig word. “Kniel, kniel, kniel!” het die skare ritmies begin neurie.
“Waarom kniel? Ek het niks gedoen nie. Meester, wat gaan aan?” wou ek weet.
My meester het ‘n arm in die rigting van die sjamaan uitgesteek. Dié het my toe sommer ook terstond aan die arm gegryp. Toe dag ek: nee wag, nou moet ek spore maak. Ek het omgevlieg, maar my in die skare vasgehardloop. Vele hande het my gegryp en vasgehou.
“Nee, nee, nee! Los my!” het ek geprotesteer en met hulle gestoei. Oomblikke later het die sjamaan die rooi kleed oor sy arm oor my kop gegooi en my vodde daarmee bedek.
Die sjamaan het toe losgetrek met ‘n lied: “Ons bring U Allerhoogste hierdie lam…” en die skare het dreunend saamgesing. Toe het ek verstaan dat ek geoffer word. ‘n Doodsheid het van my besit geneem. Ek het my laat weglei en nou sit ek hier en wag.
Daar voor staan die sjamaan uiteindelik op, draai om en kom teen die hang afgestap. Die wind waai berg af en mens kan hom klingelend hoor aankom. Die skare, wat ‘n mooi afstand van so ‘n honderd treë tussen my en hulle gehandhaaf het, nadat ek gesete was, kom in beroering. Hulle lig die hande en sing. Hulle sing lofsange tot God en daar word na my en die offerandes verwys, met die versoek dat God my en my kaboedel sal ontvang en tot hul guns sal aanneem.
Ek staan. Die sjamaan stap tot voor my en druk met sy hande hard op my skouers sodat ek weer kniel. Hy begin die hoop offerandes op die slee een vir een optel. Hy beskryf elke item, dra dit aan God op en sit dit voor my neer. Die pels is eerste – word van my lyf afgehaal en op die grond neergesit. Nou volg ‘n kissie pêrels, kosbaarhede wat uit die Ooste kom; ‘n saggelooide sak van bokvel vol goue munte; ringe; armbande; klerasie van die duurste materiale; ‘n goue dolk met rooi robyne in die hef ingelê; en baie kos uit die boorde en lande van die kleinboere wat nie die eersgenoemde skatte kan bekostig nie. Ten laaste sit hy ‘n goue kroon op my kop. Edelstene, rooi, groen en blou skitter in die kroon.
Ek doen die heeltyd niks nie. Kniel net bedremmeld en vreesbevange. Dis vir my duidelik dat ‘n doodsvonnis oor my uitgespreek is. Ek kyk hoe die sjamaan weer al die offerandes op die slee pak.
“Neem nou jou goddelike offerandes op en prys onse God.” sê die sjamaan.
“Grote God, neem hierdie dienaar van u aan,” sing die skare agter my.
Ek is stom. My keel is droog. As ek nie die berg bestyg nie, word ek doodgemaak. Dit weet ek omtrent die ritueel. Ook dat niemand nog teruggekeer het nie. Ek voel swak en kyk verbysterd op teen die majestueuse berg voor my. Ek buk en tel die tuig van die slee op. Met die slee al girtsend agter my aan, begin ek stap, terwyl daar hoë uitroepe en nou ‘n dreunsingery agter my losbars. Ek stap net. Stap, stap, stap. Ek verloor tred met tyd. Ná ‘n lang ruk stop ek, draai om ek kyk terug.
Die skare het uitgesprei en vure gemaak. Hulle bly waghou en volg my vordering. Hulle is klein soos miere. Hulle is ook daar om my te wys dat daar geen terugdraai is nie. Ek sit en grawe kos tussen die offerandes uit. Vrugte en bokvleis, wat ek met wyn afspoel.
‘n Bygelowige vrees se koue hand omklem my hart. Wat sal gebeur as ek God ontmoet? Sal hy my doodslaan? Sal hy my en die skatte op my slee as offerandes aanvaar? Hy’s kwaad, want kyk hoe lyk die berg. Daar’s geen sneeu nie. Die dorp in die vallei is in ‘n benoude toestand. Dis tog ‘n teken van straf!
Die son het gedraai en sak agter die berg weg. Dis koud. Ek is uitgeput. Die helling is styl en die slee raak al hoe swaarder. Ek is nou al goed teen die berg op. Geweldige rotse en kranse omring my. Ek vind ‘n holkrans en los die slee onder die oorhangende rots. Dis my slaapplek vir die nag. Die berg is bar met net dwergstruike en klossies van ‘n harde soort gras vir plantegroei.
Die pelsjas kom nou handig te pas. Ek wikkel my in hom toe en verval in ‘n uitgeputte slaap.
Ek ontwaak met die berg in ‘n digte, digte mis gehul. Sigbaarheid is skaars tien treë vêr en ek kan nie die ontsaglike helling voor my, of die voet van die berg sien nie. My lyf is seer. Daar’s blase op my blaaie soos die tuig van die slee my geskaaf het. Maar ek staan op en vat die slee verder.
‘n Spookagtige stilte heers. Dit maak my bang. Is ek al in die teenwoordigheid van God? wonder ek. By tye voel ek paniekerig en bang, maar ek worstel voort, maar stadig. Soms voel ek kwaad. Hoekom het hulle my gekies? Ek’s ‘n wees en vir alle praktiese doeleindes ‘n slaaf. In opstandige oomblikke voel ek seker dat daar ‘n gekonkel was, want hoekom het hulle nie uitgelese geselskap vir ‘n godsoffer gekies nie?
Meteens kan ek nie meer vorder nie. In die mis loop ek my in ‘n krans vas. Ek kyk links en regs, maar sien net die grou klip. Moet ek oos of wes gaan? Ek draai wes. Loop al met die krans langs. Die weg is nou klipperig en ek sukkel met die slee. Dit hou vir lank so aan, tot ek meteens ‘n swart kol in die mis sien. Dis ‘n klipskeur.
Die klipskeur is ‘n goeie ses meter breed. Ek los die slee en stap daardeur in. Tot my uiterste verbasing, sien ek dat die skeur die opening van ‘n tonnel in die berg is en daar, ver weg, is ‘n ronde ligkol aan die anderkant van die tonnel. Ek voel sommer minder beswaard. Ek twyfel nie en begin met my slee deur die tonnel te stap. Dis verder as wat dit op die oog af lyk en dit neem my ‘n goeie half uur, voor ek meteens in die bek van die uitgang in die sonlig staan.
‘n Glorieryke tafereel begroet my vanwaar ek oor ‘n vallei uitkyk. Aan my regterkant druis ‘n waterval oor ‘n krans. Doer ver weg is die vallei ‘n blokkiestableau van landerye, boorde, blink waterstrome, groen weivelde en in die middel van die vallei lê ‘n dorpie.
My hart spring in my keel. Die pad soheentoe is bebos met welige plantegroei, maar ek spring dadelik weg en begin die struikel en val gang teen die berghang af. Omtrent twaalf uur bereik ek ‘n pad. ‘n Goed geskraapte mooi grondpad en nou stap ek met ‘n nuwe drif. Die moegheid en lyfseer vergete. Die pad loop tussen koringlande deur. En daar voor lê die dorpie nou uitnodigend en wag.
‘n Man te perd, kom van voor af aan. Ek wuif en hy wuif terug. Spoedig bereik hy my. Ek weet nie wat om te sê nie. My eerste vrees is dat hy my dalk weer bergop jaag na God toe. “Dag vriend, en baie welkom,” sê die man. Sy oë lag en hy buk af vanuit die saal en ons skud blad. “Baie, baie welkom weer eens in die plek van die geofferdes!”