Post Mortem

Die nag bly ‘n smal skadu. In die flikkerende kerslig het my vingers uiteindelik jou begrawe- ses jaar na jou dood. Pa. Die woord self het sy eie toorkuns. Die woord krul soos ‘n vraagteken om die punt van my tong. Hoekom? Tog vra ek dit nie. Nie meer nie. Dis te laat. Na vanaand sal geen verdere kruisverhore in die kontoere van my kop gehou word nie. Die enigste ooggetuie en hoofverdagte word aan God toevertrou. Die hof het beslis: tekort van bewyse; te veel spekulasie en te min antwoorde. Wat bly oor? Slegs papierwerk. Dus laat ek dit oor aan my pen om sy eie pad te vind tot die kern van die argument en, hopenlik, ‘n greintjie van die waarheid of, dalk, slegs ‘n verskoning vir die daad. Ek het voor jou graf gaan buk met die bossie wit angeliere die dag van jou begrafnis. Ek het nie gehuil nie. Want, om eerlik te wees, was jy nie waarlik dood nie. Immers, nie vir my nie. Jou dood het geen verandering met betrekking tot jou betrokkenheid in my lewe gebring nie. Jou lewe was vir my slegs ‘n leemte, ‘n welbekende raaisel. Die klippies en grond het onder my skoene geknars toe ek opstaan. Dit was onmenslik warm. Sweet het in strepies teen my rug en voorkop af gesypel. Die sweet tesame met die verlepte, wit blomme se sap het my hande taai gemaak. Ek het my hande aan my rok probeer afvee. Ek haat begrafnisse. Ek voel altyd soos ‘n buitestaander. Die mense wat die graf omring het, het ek nie eers geken nie. Ons het gesing, Psalm 23 en die dominee het gepraat oor jou asof hy jou ken: “Liefdevolle vader, getroue eggenoot, ware patriot.” Ek het amper begin lag, dit was so verspot. Hier staan die kerk nou langs ‘n man wat, op die meeste, slegs vyf keer sy voete in ‘n kerk gesit het – sy begrafnis inkluis.

In die agtergrond het ek jou byvrou hoor huil. Sulke groot aanhoudende hik-hik trane met lang nat snikke tussen-in. Ek kon nie verstaan hoekom sy gehuil het nie. Sy het meer van Pa gekry as ek en sussie saam- lewend en dood. Snaaks hoe ek haar steeds as byvrou aansien, ten spyte van die feit dat jy wel later met haar getrou het. Sy woon blykbaar deesdae by haar ouers en lyk steeds onveranderd sedert die dag wat ek haar ontmoet het. Tien jaar ouer as wat sy is met vet, blonde krulle teen haar klein gesiggie, haar lyf kort en rond soos ‘n kapokhen. ‘n Ou, uitgeleefde, ronde Marilyn Monroe. So anders as Ma. Ma en die byvrou. Die kontras is lagwekkend. Ma met haar lang, skraal lyf, donker hare en pikante gesiggie. “All angles and planes.” En dan is daar die byvrou: “An abundance of bulges and curves.”

Ek kon nooit verstaan hoekom jy haar bo Ma verkies het nie. Jy wat altyd gesê het, “More than a mouthful is wasteful.” Jy wat altyd net vir ons krummels van jouself gegee het, net die nodigste. En vir haar? Alles. Wat het jy in haar gesien, Pa? Wat het die muisvaal vroutjie gehad wat Ma jou nie kon gee nie? Ma met haar lewendige persoonlikheid, haar nuuskierigheid, haar oneindige passie. Was dit wat jou weggedryf het? Het sy jou oordonder met haar passie, haar vereistes, haar skerp tong? Het sy jou moeg geleef, Pa?

En die byvrou? Haar stilte, haar rustigheid, haar ongevrae aanvaarding. Was die aantrekking bloot die feit dat sy, anders as Ma, niks van jou gevra het nie? Is dit hoekom jy vir haar alles gegee het wat jy van ons weerhou het?

Die rit huistoe is stil. Onder die linker sitplek lê opgefrommelde papiersakke van vroeër se wegneemetes. Die klutch se patroon voel grof teen my kaal voete. Ek trap dit diep in en voel hoe die ratte glad vloei van een na die ander onder my palm. Die ritueel is troosend. In die hawe van die motor is daar geen klaende susters of histeriese stiefma’s nie. Ek drink die stilte in soos ‘n ligte manderyn. Soet, troosend, verdowend. Die huis is soos ‘n korf vol mense. Elkeen volg robotagtig hul daaglikse patroon. Dit is draaglik tot op ‘n punt. Maar die breking daarvan is ondenkbaar.

Toe ek klein was het Ma altyd aan my verduidelik hoekom jy nooit daar kon wees nie. Sy het dit so dapper laat klink. The glory of war. Nou wil ek dit nie meer weet nie. Watter kind wil die verhaal van sy ouers se verwoesting as bedsprokie hê? ‘n Man is ‘n man is ‘n man. Wat weet hulle van oorlog of glorie? Al wat ek kan terugroep is die soldaatkinders se gesigte: lank en maer lede, oë honger en wit, oop pienk palms, see annemoon vingers. Waar is jy, Pa? Sal ek jou hier vind? Tussen die heuphoogte lykies van die swart soldaatkinders? Of dwaal jy nog op die mynvelde in Angola, jou geweer in die stof, jou oë dood en dor soos die woestyn van jou herkoms-Carrying manufactured death on your back. Die oorlog is verby. Jare al. Maar jy is nog steeds nie terug nie. The glory of war? Ek lag en trap die klutch weer diep in. Die ratte gly onder my palm.

Nou sit ek hier, ses jaar later, in die flikkerrende kerslig en tob oor die man wat die ander helfde van my genetiese kode bevat. Toe ek jonger was moes ek ‘n opstel vir skool skryf oor jou:

My pa het geglo dat jy slegs ‘n man was as jy iets in jou hande gehad het. Hy het nie ooghare vir ydelheid gehad nie en selfs as hy gerus het was sy hande altyd gevul met íéts. My pa se hande was groot, met palms soos skuurpapier, lang reghoekige vingers en naels wat altyd net te kort geknip was. Met daardie hande het hy dikwels, onder my oë, wonderwerke verrig. Hy kon met ‘n hammer en saag lewe in ‘n stuk hout timmer of met ‘n graaf grond omskoffel sonder om ‘n enkele plantwortel te versteur.

Hoe het ek jou nie verafgod nie! Ek het jou nooit gesien soos wat jy ís nie, maar altyd soos wat jy wás. Ek het jou in my kop opgebou met Ma se fabels uit die verlede. Jy was die skaam koshuisseun voor Ma se venster met die kam in sy sokkie en sy beste kerk hemp. Jy wat haar tas gedra het, haar Nonnie genoem het en toffies en kougom in haar sak versteek het. Jy was die jongman op my bedkas foto, kitaar op sy skoot, steeds met dieselfde skaam-seun glimlag en lag in sy oë. Weg was die ou, uitgeleefde man met nikotien naels en rokers hoes, weg die boep, die moeë oë, die ongemaklike stiltes en telefoon gesprekke oor weer. Weg was alles behalwe die droom.

Dit was Virginia Woolff wat gesê het ‘n vrou is ‘n man se spieël. Sy wys hom ‘n groter weergawe van homself. Vanaand breek ek die spieël en met die skerwe bou ek ‘n mikroskoop. In die hoeke van die glas sal ek jou uiteindelik in jou ware vorm vind.

My gevolgtrekking? Die waarheid is ‘n telleurstelling. Jou lewe was rook en oker. Kleiner as ‘n komma, nikseggend soos ‘n kug. Daar is niemand, nee, daar is NIKS agter die masker nie. Net ‘n dop van ‘n mens. Jy was nie minnaar of eggenoot of vader nie. Dit verg te veel passie- iets wat jy nooit gehad het nie. Jy kon dit bloot inspireer of aanskou. Die finale konklusie lui: hy was (in alle opsigte) ‘n man. Dus-

Aan God: ‘n man- twee arms, bene, hande, lyf, kop en geen hart.

skrywer: Nicola Steenkamp

Lewer kommentaar

Leave a Reply