Dis stil. Die Namib sug. Dis warm. Die vier in die klein wit huisie praat nie – dis te warm. Die hitte maak golwe op die kaal vlakte tot by die duine. Die een-een bome lyk soos vae skimme in die blinkwit warmte. Hulle is eintlik vyf, maar een is weg – getroud. Dis Vrydag. Daar word gepraat van piekniek hou Sondag. Vir wat? Dis te warm. Sy hou nie van warm nie. Ook nie van rondry nie. Hoekom dan tog? Dit dwing haar in die klein kring van die kar met die ander drie. Sy wil nie praat nie. Hulle torring altyd – wil haar koekon oopkrap en kyk wat is binne. Vir wat?
Sy moet gaan. Dis warm.
Dis Saterdag. Dis warm. Hulle maak kos vir die piekniek. Sy rasper wortels. Die beweging laat haar sweet. Die koolstoof kook die kombuis. Sy is dikbek. Vir wat? Vir WAT?
Smiddags as die skottelgoed gewas is, kruip sy onder haar bed in en slaap op die koel sement. Die ma raas dis ongesond, op die matjie is beter. Sy wil nie – die mat is warm. Alles is warm, net nie die vloer onder die bed nie. Sy’s alleen daar.
Die dag draal verby. Dis aand. Woestyn-aande is draaglik. Die pa braai vleis – alleen. Die ma doen naaldwerk – alleen. Die ander twee is iewers – alleen. Die ete gooi hulle ‘n oomblik saam in die lig van die lamp. En ja, ook as hulle later boeke vat.
Sondagoggend. Die pa bring altyd koffie in speel sy musiek op die platespeler. Dit voel ‘huiserig’. Die musiek se klank span ‘n draad wat trek van kamer na kamer. Sy voel deel van die mense in die klein wit huisie.
Slaap weer. Strompel sitkamer toe as die kerkklok op die radio jou roep. Sit regop. Lyk wakker. Probeer luister. Dit werk nie. Dis te warm. Die dominee se stem gaan net aan en aan en aan… Die ‘amen’ ruk haar wakker.
Dan woel en werksaf dit om alles gelaai te kry. Die sonbesies skree gate in haar ore. Alles lyk dood. Dis net die son wat voortvlam in ‘n woestynwoede. Almal beur om in te pas voor in die pa se plaaskar. Die lywe sweet en broei en skud oor duine en deur vergete rivierlopies.
Dan kom hulle by die berg. Soos ‘n koning staan dit tussen kaal vlaktes en duine. Grotesk. Ewig. Grotte vol salige koelte.
Dit word ‘n dag wat sy nooit, ooit kan of wil vergeet nie. Dis soos onder haar bed, net baie beter. Die heerlikheid van koelte en stilte en saamwees. Geen beklemming van “hulle wil krap in my koekon” nie. Geen sonbesies wat jou binneste in flarde skree nie. En dan, die heerlike koelte wat jou omsluit en toevou soos nanagreen. Die innigheid van saamwees en saam eet en saam slaap, elkeen op sy eie kombers.
Baie jare later word die berg haar Sangrila. Haar verlore stad wat nooit weer gevind sal word nie. Dis buite bereid vir altyd… of is dit?
Nou hunker sy na die berg waar haar siel koelte en vrede en saamwees met God sal ervaar. Daar waar God in ‘n fluistering van die wind verby sal gaan en sy nooit daarna weer dieselfde sal wees nie. Daar waar sy in afsondering haarself ook weer sal vind. Om te kom tot self-insig en kennis van God. Om haar hart te hoor praat en God te hoor in die wind.
Net twee dae, Here. Asseblief?
skrywer: Martha Poller
