Alistair Cooke

Alistair Cooke het sy uittrede as aanbieder van Letter from America aangekondig. Cooke is 95 jaar oud. In 1936 is hy deur die NBC Netwerk genooi om weekliks rondom die Britte verslag te doen in ´n program met die titel London Letter, maar hy emigreer in 1937 na Amerika en ´n ooreenkoms met die BBC stel hom instaat om dieselfde in omgekeerde vorm te doen.

Die wêreld se langste praat- of geselsprogram vir radio is vir die eerste keer in 1946 uitgesaai en daarna weekliks. Cooke het die briewe vir amper 60 jaar regstreeks voorgehou aan ongeveer 34 miljoen luisteraars wêreldwyd. ´n Gedeelte van die eerste brief was deel van dié program se 50ste herdenking op 24 Maart 1996. Van die sowat 3,000 briewe het Cooke slegs drie uitsendings gemis. Die briewe het ´n groot aanhang regoor die wêreld onder ´n diverse groep mense gehad met duisende bewonderaarsbriewe tot gevolg.

Nadat hy groot geeste in die letterkunde oor die etergolwe gehoor het, het Cooke ´n nuwe professie vir die radio geskep en daarna verwys as ‘writing for talking – putting it on the page in the syntactical break-up and normal confusion that is normal talk.’ Elke onderwerp is ´n storie, hetsy ekonomie, politiek of misdaad. Jou luisteraar het die reg om weg te draai as dit vervelig en eentonig is, aldus Cooke. Hy was die gasheer van Masterpiece Theatre in the United States vir 22 jaar, verteller van onder meer The March of Time (1938-1939), Sorrowful Jones (1948), skrywer/verteller van America: A Personal History of the U.S. (1972-1973) en kan ´n rits boeke agter sy naam skryf.

Suid-Afrikaners kan elke Sondagmiddag direk na afloop van die media program na Alistair Cooke se briewe luister op SAfm 104-107fm. Transkripsies van die briewe is op die webtuiste www.safm.co.za beskikbaar ingeval jy die uitsending misgeloop het.

Cooke ontvang in 1973 ere ridderskap van die Koningin. Van sy toekennings sluit in ´n Bafta vir sy bydrae tot Anglo Amerikaanse verhoudinge, ´n Sony Radio Toekenning vir sy lang ononderbroke diens aan die uitsaaiwese en die Broadcasting Press Guild’s Radio Broadcaster of the Year toekenning. Cooke woon in New York met sy tweede vrou.

skrywer: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar