deur Ferdi Wheeler

Ruth is aangetrek om uit te gaan. ‘n Oulike swart viltkadotjie bedek haar kop. ‘n Handsakkie is by die een arm ingehaak. Half huiwerig verlaat sy haar kamer en trek die deur agter haar toe. Ruth loop onseker, maar haar houding is altyd regop. Sy sit elke voetjie versigtig voor die ander. Vanoggend het sy maskara aangesit, haar lippe rooi gemaak en haar hare netjies uitgekam.

 In die gang stop sy en kyk links en regs, asof sy na iemand opsoek is. Links is die toonbank waaragter die suster in beheer van die sale sit en regs is die pad na die hoofingang toe.

“Het jy nie ‘n man gesien wat hier vir my wag nie?” vra Ruth aan ‘n man wat na haar toe aangestap kom. 

Die man, wat twee kamers van haar af bly, kom van regs af aangedrentel. Hy is ‘n stil kêrel wat nooit veel praat nie. Sy sit langs hom in die eetkamer, maar hy het nog skaars twee woorde met haar gepraat sedert sy daar aangeland het. Hy kyk haar in die oë.

“Het jy nie ‘n rolstoel hier in die gang sien staan nie?” vra sy hom weer.

Die man frons en kyk vraend na haar. Daar staan verskeie rolstoele oral in die gange voor die kamerdeure van die rolstoelgebruikers rond.

“Ek wag vir iemand. Dis ‘n man. Ek en hy het ‘n kort liefdesverhouding gehad, maar hy is toe Italië waar hy baie geld gemaak het… Geld belê het… Ag, dis ‘n lang storie.”

Die man skud sy kop. Ruth maak nie sin nie.

Agter die toonbank by haar tafel het die suster na Ruth sit en luister terwyl sy met die invul van vorms besig is. “Daar’s niemand vir jou nie, hartjie. Gaan maar na jou kamer toe,”  sê sy hard en saaklik.

“O, dan weet ek nou ook nie,”  sê Ruth.

Die man stap by haar verby en verdwyn by sy kamer in.

Terug in haar kamer gaan sit sy op haar bed. Die handsak sit sy langs haar neer. Vir ‘n paar minute sit sy so, haar gesig uitdrukkingloos. Dan knip sy die handsak oop en vroetel daarin rond. Sy kom met ‘n selfoon te voorskyn. Haar hande is klein en fyn. Sy tik met een vinger ‘n nommer op die klein toetsbordjie in en hou die selfoon teen haar oor. Die telefoon lui. ‘n Outomaat antwoord aan die anderkant: ”Die nommer wat u geskakel het is nie beskikbaar op die oomblik nie. Probeer weer later.”

Sy klik met haar tong en laat val die selfoon terug in die oop handsak. Sy vou haar arms oor mekaar, hande in die skoot. Staar voor haar uit. Sy lê terug teen die kussing. Sy sug en sluit haar oë. Sy lig haar bene op en skop die handsak eenkant toe op die bed, terwyl sy haar bene op die bed uitstrek.

Dis die volgende dag. Die telefoon langs die suster agter die toonbank lui. Sy tel op.

“Suster, Ruth is hier by die hek, sy sê iemand kom haar oplaai,” sê die jong vroulike sekuriteitswag. Op die muur van haar sekuriteitskantoor by die veiligheidshek is xerox foto’s van ‘n paar oumensgesigte opgeplak. Ruth se foto is links bo. Dis die rondlopers wat nie uitgelaat moet word nie. ‘n Versorger gaan haal Ruth – loop rustig met haar terug. Ruth stribbel teë maar laat haar tog begelei.

Op versoek van die suster kom sien Ruth se seun en skoondogter haar. Hulle gesels met die suster en hulle bespreek Ruth die probleem. Hulle stem saam dat die demensie haar nou behoorlik beet het. Die seun vertel dat sy aanhoudend familie en vriende bel en plein nonsens kwytraak. Die man vir wie sy wag, Wilhelm de Lange, die gewaande minnaar, is een van haar illusies.

“Sy’t die man skaars geken,” sê die seun. “Heeltemal buite die kwessie vir ‘n vrou van haar jare.”

“Sal nie kwaad doen as sy dalk net met hom kan praat nie,” sê die suster. Sy is altyd saaklik maar met dertig jaar ervaring in die ouetehuis skram sy nie weg van wat ou mense se behoeftes is nie.

“Die man is in ‘n ouetehuis in Kaapstad,” sê die seun.

“In watter ouetehuis en wat is die man se naam?”  vra die suster.

“Wilhelm de Lange, in die Rustige Jare-tehuis,”  sê die seun. “Maar ek kan nie sien wat kontak tussen die twee kan bewerkstellig nie. Hulle is altwee oor die muur.”

Toe Ruth se seun en skoondogter weer weg is, bel die suster die tehuis in Kaapstad. Sy gesels met die dienssuster aan die anderkant en gee haar Ruth se nommer. “Vra meneer De Lange om haar te bel,”  sê sy voor sy tot siens sê.

‘n Paar dae gaan verby. Ruth pak ‘n paar keer haar besittings in haar tasse. Sy sit snags soms in die gang op haar hurke en wag. So ‘n paar dae later sak sy in die gang inmekaar. Hulle laai haar in ‘n rolstoel en stoot haar terug kamer toe.

Die dokter kom, maar skud net sy kop. “Ouderdom,” sê hy. “Sy’s doodeenvoudig swak.”

Toe die dokter weg is, sit die suster by haar. “Ek’t vir jou Wilhelm se nommer,”  sê die suster. Sy het intussen weer die tehuis in Kaapstad gebel en die nommer gekry.

“Ek bel altyd maar hy antwoord nie,”  sê Ruth.

“Ek bel die nommer,” sê die suster. Sy gaan haal die nota met die nommer op en sy bel. Die telefoon lui en dan antwoord ‘n manstem aan die anderkant.

“Hou aan vir Ruth,” sê die suster en druk die selfoon in Ruth se hand.

“Hallo, hallo,”  sê die stem oor die selfoon sodat hulle albei hom kan hoor.

Maar Ruth lig nie die selfoon op nie. Sy draai haar kop na die muur toe. Die stem verstil. Die suster staan op.

“Nou verstaan ek jou nie,”  sê sy.

“Hy sal nie kom nie,” sê Ruth en daar’s trane in haar oë. “Hy kan my nie kom haal nie. Ek verstaan nou,” sê sy met onverwagse klaarheid. Die suster sit die selfoon op haar bedtafeltjie neer en stap uit. So neem die dae hul loop. Ruth dollie haarself nog op en dwaal ylings rond. Maar soos die newels al digter om haar spiraal, praat sy nou nie meer oor die groot verlange nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply